Lephalale-sakeman dood in winkel gevind

Johan Kruger (Foto: Facebook)

Die gemeenskap van Lephalale in Limpopo is geruk ná die moord op die sakeman Johan Kruger (65).

Kruger is Saterdag omstreeks 14:00 dood in sy droogskoonmakery op die dorp gevind. Hy is vermoedelik deur ’n onbekende aantal rowers oorval en geskiet.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê volgens inligting het ’n werker van die winkel agtergekom die winkel se deur staan wawyd oop. Hy het na Kruger geroep, maar geen reaksie gekry nie.

“Die werker is die winkel binne, waar hy Kruger in ’n plas bloed met ’n skietwond aangetref het. Hy het uit die winkel gehardloop en buitekant om hulp geroep. Die polisie en nooddienste is na die toneel ontbied en Kruger is op die toneel dood verklaar,” sê Ledwaba.

Die motief vir die moord word ondersoek. Voorlopige ondersoek dui daarop dat die kameras van die gebou afgeruk en gesteel is.

“Die polisie ondersoek ’n saak van moord.”

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagte(s) kan lei, kan lt. kol. Johannes Hlongwane by 082 565 7968 skakel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 kontak.

Kruger en sy vrou, Ronel, was eienaars van vier besighede op die dorp, waaronder die droogskoonmaakonderneming, ’n Cash Crusaders en ’n stoffeerdery.

Kruger was ’n bekende sakeman op die dorp en geliefd.

Mense het Saterdag hul skok oor Kruger se dood op sosiale media uitgespreek en ook hul medelye betuig. Sy mede-dorpenaars en vriende beskryf hom as ’n “vriend duisend” wat “diep spore in die dorp getrap het”.

Rothea Nel skryf die “skielike onnodige dood van Johan Melkman [soos hy bekendgestaan het] is skokkend en bitter hartseer”.

“Tog is daar ryk en kosbare vertroosting in sy nalatenskap. Hy het die geheim geken om ondanks omstandighede altyd vreugdevol en selfs vredevol te lewe, met ʼn tikkie speelsheid, selfs guitigheid wat alles in sy menswees weerspieël word. Sy nalatenskap en vriendskap aan so baie mense is ʼn kosbare erflating, ʼn onkoopbare rykdom. Johan was nie ʼn swaarmoedige mens nie. Hy sal onthou word as Melkman, ʼn groot man met ʼn groot hart wat altyd ʼn ander kon laat lag. ʼn Man wat aandagtig kon luister en met sy groot oë tot binne jou siel kon kyk. Vreugde en vrede was alledaags in Johan se lewe,” skryf Nel.

Volgens Phillip Boonzaier het Kruger “altyd ’n glimlag en ’n grappie gehad”.

Marietjie Steenkamp skryf Kruger “was enig in sy soort”. “Ek sal hom onthou vir die opgewekte humoris, gelowige en vriend,” skryf sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sonblom ·

Ai so sinneloos. Ek wil al huil wanneer ek sulke berigte lees. Innige simpatie aan sy vrou, familie en vriende.

Marthinus Johannes ·

Wat van die ander besighede om hom, het niemand n skoot gehoor nie? Wat van die mense wat op en af die sypaadjie stap?

Marius ·

Hul besigheid perseel is baie groot en die ander sal nie maklik iets hoor.

Skappie ·

Sterkte aan almal wat hom geken het. Mag onse Liewe Heer julle deur hierdie moeilike tyd wat voorle, dra.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.