DA-burgemeester ‘groot verrassing’ vir Lephalale

Nico Pienaar. (Foto: Facebook/ Nico Pienaar)

In ʼn verrassende wending is Nico Pienaar, DA koukusleier en raadslid, Donderdagmiddag tydens ʼn geheime stemming as die nuwe burgemeester van die Lephalale-munisipaliteit verkies.

Dit is die eerste keer dat dié munisipaliteit ʼn DA-burgermeester het, en sy oorwinning kom nadat ANC-lede nie kon ooreenstem oor hul voorkeurkandidaat vir die posisie nie.

“Ons is 29 raadslede in totaal, waarvan 19 lede aan die ANC behoort, en hulle sal nie vir die opposisiepartye stem nie,” sê Pienaar in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Verdeeldheid onder die ANC-raadslede het dit egter vir die opposisiepartye (EFF uitgesluit) moontlik gemaak om ʼn kandidaat te benoem wat volgens hulle die meeste ondervinding in munisipale sake het, en daarom geskik is vir die posisie. Pienaar is in verlede jaar se munisipale verkiesing as DA-wyksraadslid herverkies, en verteenwoordig die gemeenskap se belange sedert 2016.

Volgens Pienaar is die vorige burgemeester, Alpheus Thulare, in November 2021 as tydelike burgemeester ingehuldig, omdat ʼn klag van aanranding teen die ANC se voorkeurkandidaat, Aaron Mokghele, in daardie stadium nog nie afgehandel was nie.

Die saak teen Mokghele is glo rondom Mei afgehandel en uitgeklaar en Thulare, ook ʼn ANC-lid, is gevra om te bedank. Thulare het egter geweier, wat woede en verdeeldheid onder ANC-lede tot gevolg gehad het.

“Die verdeeldheid onder ANC-raadslede was duidelik en ons as opposisiepartye het vinnig koppe bymekaargesit om voordeel uit die verdeeldheid te trek.”

Die opposisie se plan het gewerk en die ANC se poging om die “tydelike burgemeester” met sy voorkeurkandidaat te vervang, het in die regerende party se gesig opgeblaas nadat drie van sy eie raadslede ten gunste van die DA gestem het.

Nico Pienaar en mede-raadslid Mothokwa Esrom Setho. (Foto: Facebook/ Mothokwa Esrom Setho)

Hendrik Venter, voorsitter van die VF Plus op Lephalale en munisipale raadslid, het Saterdag aan Maroela Media gesê die gemeenskap is baie opgewonde oor Pienaar se aanstelling.

“Die mense hier is so moeg vir swak dienslewering en korrupsie en hulle smag na verandering. As opposisiepartye staan ons bankvas agter Pienaar. Ons het ʼn goeie verstandhouding en ons het baie planne. Ons kort net ondersteuning en tyd.”

Volgens Venter het raadslede wat ontevrede was oor Thulare se verwydering probeer om verrigtinge Donderdag te ontwrig en moes hulle deur die speaker uit die vergadering verwyder word. Uit die ANC-lede wat oorgebly het, het drie vir Pienaar gestem. Pienaar het nege stemme op hom verenig, teenoor Mokgehle se sewe stemme.

Pienaar se planne vir Lephalale

Pienaar vertel dat die gemeenskap se belange vir hom eerste prioriteit is. “Dit was nog altyd my nommer een prioriteit, maar selfs met al my ondervinding en bydraes was my hande afgekap met die ANC wat nog altyd die finale sê gehad het.”

Een van die eerste dinge wat hy gaan doen om verandering mee te bring, is om die burgemeester se motortoelaag te gebruik om aandag te gee aan meer dringende kwessies.

“Ons wil nuwe pompe vir die rioolstelsel aanskaf, waterpompe vir die reservoirs en nuwe gloeilampe vir die straatligte. Daar is soveel beter dinge wat ek met daardie bedrag geld kan doen as om met ʼn splinternuwe Fortuner verby ʼn sukkelende gemeenskap te ry. As dit nie vir my sin maak nie, gaan dit nie vir die publiek sin maak nie.”

Pienaar plaas groot klem op die basiese dienste, wat volgens hom lank afgeskeep is. “Ons gemeenskap is moeg vir basiese dienste wat nie gelewer word nie. Ek wil aandag gee aan die waterkrisis, iets wat al lankal moes gebeur het.

“Hier is mense wat nie kos het by die huis nie en ons sit met duisende werkloses. Dít is die tipe kwessies waaraan ek wil aandag gee. Ek dink glad nie aan hoe lank ek burgemeester gaan wees nie, want ek fokus liewer op die verskil wat ek kan maak.”

Pienaar se amptelike inhuldiging vind Maandag plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kobus ·

Jammer as ek negatief is, maar ek sou nie enige foto’s / sertifikate ophang as ek hy is nie. Die ANC gaan verseker iets bewimpel om hom te verwyder. Hoop ek is verkeerd

David ·

Doen waarin jy glo Nico. Maak nie saak wie dit is en vir wie jy dit doen nie, wees altyd jouself soos ons jou ken…eerlik en oop sonder agendas. Baie geluk en mag jy ‘n goeie toekoms ingaan en vir die res van Suid Afrika wys hoe ‘n mens ‘n munisipaliteit bestuur.

Gaitsigubib ·

Ek hou van jou David, klink of ons mekaar eendag sal raakloop in Ellisras. Ek lei af jy is nie van die DA nie maar wel “oopkop” genoeg om te weet wanneer iemand ondersteuning verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.