Lesbiërs verneder by skool, DA vra MRK om in te gryp

Demokratiese Alliansie

Demokratiese Alliansie

Die DA het in ʼn verklaring gesê dat hulle die homofobiese diskriminasie teen skoolmeisies in die Oos-Kaap by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) aangemeld het.

“Die DA is gewalg deur die optrede van Ulwazi Hoërskool in Mdantsane. Nomampondomise Kosani, die skoolhoof, het op 7 Maart 38 meisies gedwing om in die openbaar vir hulle ouers te sê hulle is homoseksueel,” het die DA gesê.

Die meisies is tussen 14 en 18 jaar oud. Die meisies is glo beledig en aangesê om “op te hou” homoseksueel wees.

“Die DA sal geen vorm van diskriminasie duld nie. Ons is teen homofobie, rassisme, seksisme, xenofobie en alle ander vorme van diskriminasie,” het die DA gesê.

Volgens die DA moet die MRK dié kwessie volledig ondersoek omdat dit die kommissie se werk is om mense se fundamentele regte te beskerm.

“Die feit dat Kosani na die meisies se seksuele oriëntasie as ʼn ‘probleem’ verwys en vir hulle gesê het dat hulle die ander leerders ‘slegte gewoontes’ aanleer, maak ons baie bekommerd,” het die DA laat hoor.

Die DA het gesê dat die optrede glad nie strook met die Handves van Menseregte nie. “Die DA sal onverpoos bou aan ʼn nasie waar mense fundamentele menseregte het en ons sal aanhou veg om seker te maak dat hierdie regte toegepas word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.