Lesings hervat by TUT ná brande op kampus

Betogings by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (Oktober 2015) Foto: @artindira/Twitter

Betogings by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (Oktober 2015) Foto: @artindira/Twitter

Bedrywighede by die Tshwane Universiteit van Tegnologie hervat Donderdag ná verskeie brande op die kampus Woensdagoggend gestig is.

Willa de Ruyter, woordvoerder van die universiteit, het gesê die kampus is Woensdag gesluit weens die sporadiese betogings wat die vorige aand begin het. “Die kampus is gesluit om die studente, personeel en universiteit se veiligheid te verseker,” het sy gesê.

Die studente betoog oor onvoldoende behuising.

Volgens De Ruyter het meer as 60 000 studente vanjaar ingeskryf, maar hulle het slegs behuising vir ongeveer 35% van die studente. Die instansie werk daaraan om die kapasiteit te verhoog.

“Die universiteit beplan ontwikkeling en instandhouding van die fasiliteite. Geld sal geallokeer word vir die oprig van koshuise,” het De Ruyter bygevoeg.

Sy het gesê nog ʼn probleem is dat studente nie aandui dat hulle behuising gaan benodig wanneer hulle aansoek doen nie. “Dit is deel van die probleem wat bestuur en die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) Donderdag sal bespreek.”

Niemand is beseer nie en eiendom is ook nie beskadig nie.

“Die universiteit respekteer die studente se reg om te betoog, maar net so moet die reg van studente en personeel wat in ʼn veilige omgewing wil studeer of werk, ook gerespekteer word,” het De Ruyter gesê. “Die universiteit sal nie ontwrigtende gedrag duld nie en oortreders en hierdie optrede sal onderwerp word aan die universiteit se dissiplinêre prosedures.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oubaas ·

Wat vir my baie interessant is, is dat geen nuusbron verwys na personeel wat aangerand is nie ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.