Lesings hervat by Wits; studente se finansieringsmodel

Die Universiteit van die Witwatersrand (Foto: Samuella99 via Wikimedia Commons)

Die Universiteit van die Witwatersrand (Foto: Samuella99 via Wikimedia Commons)

Die bestuur van die Universiteit van die Witwatersrand het beslis dat lesings Dinsdag by die universiteit sal hervat. Personeellede sal Maandag reeds terugkeer werk toe.

“Die akademiese program sal Dinsdag hervat ná verskeie gesprekke met belanghebbendes, waaronder die studente, en ons het ingestem dat die opening oor twee dae sal geskied,” het die universiteit Sondag gesê.

Bykomende privaat sekuriteit sal op die kampus wees en die polisie sal op die grens van die kampus bly en slegs ontbied word indien nodig. Sekuriteitsbeamptes sal geleidelik van die kampus onttrek word, op voorwaarde dat daar geen geweld, intimidasie of vandalisme is nie.

“Ons doen ʼn beroep op personeel en studente om saam met ons te werk wanneer ons vandeesweek weer oopmaak. Saam kan ons nog die 2016 akademiese jaar red terwyl ons die stryd om gratis opleiding vir arm studente voortsit.”

Die universiteit het Donderdag ʼn meningsopname gehou om te bepaal of lesings moet hervat. Altesaam 77% van respondente het “ja” geantwoord op die vraag, “Moet Wits Maandag 3 Oktober, weer sy deure oopmaak op voorwaarde dat behoorlike sekuriteitsmaatreëls in plek is?” Die universiteit het gesê 21 730 personeellede en studente het aan die peiling deelgeneem.

Van die Wits-studente het Sondag op die kampus saamgedrom om die pad vorentoe te bespreek. Hulle hou vol hulle sal nie na die klasse terugkeer totdat daar aan hul eise voldoen word nie. Die studente se navorsingtaakspan het ʼn finansieringsmodel vir gratis onderrig voorgehou. Dié model stel voor dat die regering ʼn 50% bydrae moet lewer tot gratis onderrig. Die span het glo bereken dat dit minstens R60 miljard per jaar sou kos om opleiding te finansier. Nog geld kan van die privaat sektor bekom word en ʼn welvaartbelasting deur die “rykes” van die land.

Universiteite word geteister deur betogings oor studentegelde en studente eis gratis hoër onderwys. Die betogings het weer opgevlam nadat Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, aangekondig het dat studentegelde met ʼn maksimum van 8% in 2017 sal styg.

Lees alle vorige berigte oor studentebetogings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Wie is die rykes van die land? Wat is die voorwaardes vir studie-geleenthede aan universiteite en ander na-skoolse instansies? Hoe word ‘n arm student geidentifiseer? Wat word verstaan onder gratis-studie? Is dit klere, kos, verblyf, vervoer, elektroniese hulpmiddels, klasgelde en handleidings, sakgeld, mediese koste en vakansie-verblyf? Gaan die geld in die student se rekening inbetaal word, of wat? Wie gaan hierdie massa-versorging hanteer? Hoe gaan die belasting op eerbare wyse na universiteite, alleen en regverdig, gekanaliseer word? Hoe gaan misbruik op alle vlakke verhoed word?

JA ·

Nevermaaind “Wie is die rykes”. Wie hulle ookal is, hul kan dit eenvoudig net nie bekostig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.