Lesings hervat ná geweld by universiteit

‘n Gebou in ligte laaie tydens ‘n betoging by die Universiteit van Zoeloeland (2018). Foto: ANA

Lesings by die Universiteit van Zoeloeland is hervat nadat akademiese bedrywighede twee weke lank opgeskort is as gevolg van ʼn gewelddadige staking deur studente by die KwaDlangezwa-kampus, in die noorde van KwaZulu-Natal.

Die universiteit het sy KwaDlangezwa-kampus op 1 Maart gesluit nadat oproerige studente geboue, insluitend ʼn boekwinkel, en ʼn polisievangwa aan die brand gesteek het. Die studente het geëis dat ete- en vervoertoelae uitbetaal word. Meer as 30 studente is in hegtenis geneem, waarvan sommige later op borgtog van R1 000 elk vrygelaat is.

Die universiteitsbestuur het intussen streng voorwaardes gestel vir studente se terugkeer na die kampus en hul koshuise. Sekuriteit is opgeskerp en studente moes onderneem om nie aan enige onwettige betogings deel te neem wat die veiligheid en orde op die kampus kan belemmer nie.

Studente sal nie toegelaat word om die kampus of hul koshuise binne te gaan indien hul studentekaarte nie heraktiveer is nie. Hulle word ook verplig om hul studentekaarte te toon op versoek van veiligheidsbeamptes of enige van die personeellede.

Die universiteitsowerheid het gesê studente wat strafregtelik vervolg word en deur die hof verbied is om op kampus of in die koshuise te wees, sal nie toegelaat word om terug te keer nie.

Koshuise het Maandag weer vir studente heropen terwyl lesings Woensdag hervat sal word.

“Die universiteit neem ook kennis dat nie alle studente aan die staking deelgeneem het of die optrede van die stakende studente goedkeur nie. Daar word vermoed dat die kriminele optrede aangehits is deur studente wat daarop uit is om onherstelbare skade aan die universiteit aan te rig,” het die universiteit in ʼn verklaring gesê.

“Die universiteit het uitgebreide materiële en finansiële skade gelei, waarvan die ergste die potensiële verlies van onskuldige nie-stakende studente se akademiese semester is. Die universiteit is vasbeslote om seker te maak dat die onlangse betreurenswaardige gebeure nie die 2018 akademiese program in die wiele ry nie.”

Die parlement se portefeuljekomitee vir hoër onderwys het onderneem om sy oorsigtelike rol oor die universiteit te verskerp totdat die instansie weer normaal funksioneer en gesê die departement van hoër onderwys moet dringend ingryp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Eise vanaf studente dat ‘n ete- en ‘n vervoertoelaag betaal word, en daarom word geboue aan die brand gesteek. Hmm? Menige Afrikaanse student kan daarvan getuig dat hulle winter en somer en in alle weerstoestande per fiets kampus toe gery het en het amper uitsluitlik op ‘n dieet van aartappelskyfies en tamatiesous gelewe. Ten minste, ek kan.

Estelle Oelofsen ·

En pienk klapperkoeke wat net 5 pennies gekos het. En op pad van hokkie oefening, klein botteltjies melk gekoop by die plaaslike melkerytjie vir ook net ‘n paar pennies.

Elsabe ·

Ag genade tog. Aanhoudend sonder ophou. Dit hou net aan en aan en aan……Laat hulle gaan sit in die lokale sonder dosente en slim word sodat hulle hul grade kan kry.

Hanna ·

Gratis tersiere onderwys (guess what: iemand betaal!) gratis vervoer, gratis etes… En dan brand ons die universiteit af. Wat is fout met hierdie prentjie? Net in Suid-Afrika.

Hans ·

Vir my is ‘n universiteit se kern besigheid akademiese opleiding en nie om al die items ens te voorsien nie. Opgemerk dat baie van die studente besonder deftig geklee is en met jongste selfone/tablette rondloop.

SjN ·

Skors die skuldiges en hou hul verantwoordelik vir die skade.

christa ·

Hoekom word vandaliste in die universiteit toegelaat. Hulle is nie daar om te leer nie maar om op te stook en te verniel. Skors hulle dat hulle gaan werk soek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.