Lesings opgeskort oor gewelddadige betogings by UKZN

‘n Motor is by die Universiteit van KwaZulu-Natal aan die brand gesteek (Foto: Twitter)

Die Universiteit van KwaZulu-Natal moes lesings Maandag opskort te midde van gewelddadige betogings deur studente op die Westville-kampus.

ʼn Sekuriteitsvoertuig is aan die brand gesteek, polisiebeamptes is met klippe bestook en studente, wat nie aan die betoging deelneem nie, is glo gedreig.

Betogende studente by universiteite in die provinsie het versoek dat alle instansies Maandag, die amptelike begin van die akademiese jaar, gesluit moet word. Die studente betoog oor betalings van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) en trae registrasies.

Betogings vind ook plaas by die Durban Universiteit van Tegnologie (DUT) en Mangosuthu Universiteit van Tegnologie (MUT) in Umlazi. Studente van die UKZN se Edgewood College-kampus het asblikke vroegoggend in die straat in gesleep en dit omgekeer om paaie te versper.

ʼn Voertuig is glo ook by UKZN se Howard College-kampus aan die brand gesteek, alhoewel dit nog nie onafhanklik bevestig kon word nie.

Normah Zondo, waarnemende uitvoerende direkteur vir korporatiewe betrekkinge by UKZN, het Maandag in ʼn verklaring gesê die akademiese program by alle kampusse van die universiteit is “met onmiddellike effek opgeskort tot verdere kennisgewing”. “Die universiteit se bestuur het ʼn memorandum van griewe van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) van die UKZN ontvang. Die bestuur sal met die studenteleierskap in gesprek tree en die kwessies aanroer terwyl die veiligheid en sekuriteit van alle betrokke partye verseker word,” het Zondo gesê.

Studente by die UKZN se Westville-kampus, wat nie betoog nie, het aan die African News Agency (ANA) gesê hulle word gedreig deur die betogers.

Daar was ʼn swaar polisieteenwoordigheid op die kampus en beamptes het van traangas gebruik gemaak toe betogers hulle met klippe begin bestook het.

Die UKZN se bestuur het oor ʼn VSR-massavergadering by MUT gesê hy neem “met kommer kennis” van boodskappe van aanhitsing wat studente op sosiale media deel. Mbali Mkhize, senior woordvoerder van MUT, het in die verklaring gesê die VSR het ʼn vergadering met die bestuur versoek om terugvoer te gee oor NSFAS-betalings “en ander registrasieverwante sake”.

“Hierdie boodskappe is teenstrydig met die gesprekke tussen die MUT se uitvoerende bestuur en die VSR-leierskap. Dit is vermoedelik nie deur die VSR gepubliseer nie. Dit blyk dat daar individue is wat vasbeslote is om die VSR te ontmoedig om die studente te lei en onwillig is om die vordering te aanvaar wat die VSR reeds gemaak het om seker te maak die registrasieproses verloop glad,” het Mkhize bygevoeg.

Die polisie het nog nie kommentaar gelewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Seeskulp ·

My dogter by PUK. Sy byna 800km vêr van ons maar dit was n wyse besluit. Hierdie tipe ding gebeur byna nooit daar nie of dit word onmiddellik hanteer en gestop voordat skade aangerig word.

Bernard Hellberg ·

Wat ‘n voorreg behoort te wees is pêrels voor die swyne (figuurlik gesproke)?

Dries du Toit ·

Het daai studente genoeg versytand om te studeer. Aikona

Geo Science ·

Die vierde nywerheidsrewolusie is op hulle, maar hulle is nog in Sharpville se onluste van die sestigerjare betrokke! Vat hul beursgeld en gee dit aan die wat wil studeer. Universiteite het verander in plekke waar gratis vakansies vir studente aangebied word! Geen wonder hierdie universiteite se grade beteken niks buite Afrika nie!

Johan ·

Ek twyfel oor geweldadige mense se ingesteldheid en selfs intelligensie. Hulle besef nie dat daar beperkte finansiële bronne is nie. Hierdie tipe van optrede sal een of ander tyd móét boemerang tot die “gegrieftes” se nadeel.
En as die hele land tot as verbrand is, wat dan?

Manie ·

Een van die griewe is dat die beurse in die student se rekeninge betaal word en nie direk aan die Universiteit. Dit maak dat die student kan besluit wat gebeur met die belastingbetalers se geld.

Dawie ·

Stuur asb net n video van die staking en brandstigters na die lande wat se hulle wil nie in SA bele nie. Nog meer rede om nie geld in die land te bele nie.

A Mac ·

Die jaar het nog nie eers behoorlik begin nie en eksamens kan nog nie as verskoning gebruik word vir hierdie oproerigheid nie. Studente maak seker hulle intimideer hulle meerderes en die regering sodat hulle lekker op hulle stere kan sit die res van die jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.