Lesings opgeskort weens studentebetogings

Ontstoke studente het twee busse by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) aan die brand gesteek. (Foto: Tsepo/Twitter)

Lesings is die afgelope week by verskeie universiteite opgeskort te midde van voortgesette studentebetogings. Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse Unie van Studente (SAUS) vroeër vandeesweek ʼn oproep gedoen het dat bedrywighede by alle universiteite landswyd tot stilstand gedwing moet word totdat die regering gehoor gee aan studente se eise vir finansiële steun en akkommodasie.

Van die betogings het ook geweldadig geraak. By die Durban Universiteit vir Tegnologie is ʼn 20-jarige student doodgeskiet en by Wits het studente op ʼn eetstaking gegaan.

Studente is grootliks ontevrede oor die universiteite se hantering van agterstallige skuld, asook ʼn gebrek aan finansiering deur die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS). Daar is ook ontevredenheid rakende behuising en vervoer.

Tshwane Universiteit vir Tegnologie

Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) het sy lesings Woensdag tydelik opgeskort weens die voortgesette studentebetogings. Lesings op verskeie kampusse van dié universiteit, onder andere Pretoria, Arcadia, Soshanguve, Ga-Rankuwa, eMalahleni, Mbombela en Polokwane, sal nie vandag plaasvind nie.

Volgens Willa de Ruyter, woordvoerder van TUT, is die veiligheid van personeel, studente en infrastruktuur ’n prioriteit vir die universiteit. Daarom het die universiteitsbestuur besluit om klasse eerder tydelik op te skort.

De Ruyter verduidelik dat die studente ontevrede is oor kwessies wat op ʼn nasionale vlak hanteer moet word. Die universiteitsbestuur se hande is grootliks afgekap omdat kwessies soos NSFAS-betaling by NSFAS berus.

Volgens De Ruyter is ʼn versoek aan die regering gerig om hulp te verleen dat studente so gou as moontlik kan terugkeer en lesings hervat kan word. Van die kwessies is onder meer studente-akkommodasie en toelae vir boeke, maaltye en vervoer.

“NSFAS het die reëls verander. Daarom is daar sekere studente wat toelae voor 2018 ontvang het. Studente wat ná 2018 studeer, kry dus nie dieselfde toelae nie. Daarom die ongelukkigheid,” verduidelik De Ruyter.

TUT monitor tans die situasie op sy kampusse.

Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie

Ontstoke studente het gisteraand twee busse op die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Athlone-kampus aan die brand gesteek. Die administrasiegebou is ook met klippe bestook.

Altesaam 21 verdagtes, vermoedelik studente, is gisteraand buite die kampus in hegtenis geneem. Die polisie ondersoek die voorval.

Volgens Lauren Kansley, woordvoerder van KSUT, is klasse egter nié Woensdag opgeskort soos deur sommige media berig nie.

“Pogings om die universiteit se deure te sluit, lesings te ontwrig en eiendom te beskadig is nié die antwoord op doeltreffende gesprekvoering nie,” het die KSUT in ʼn verklaring gesê.

Durban Universiteit vir Tegnologie

African News Agency berig dat klasse eers Maandag by die Durban Universiteit vir Tegnologie (DUT) hervat sal word. Dít volg nadat klasse verlede week tydelik opgeskort is na die dood van ʼn student naby dié universiteit se Steve Biko-kampus.

Mlungisi Madonsela (20) is doodgeskiet tydens ʼn onderonsie met ʼn privaat veiligheidswag. Madonsela is naby die administrasiegebou by die kampus geskiet.

Die voorval het plaasgevind te midde van gewelddadige betogings deur studente as gevolg van betalings van NSFAS en studenteregistrasies wat sloer.  “Die besluit is deur die uitvoerende bestuurskomitee en die uitvoerende komitee van die senaat geneem,” het die universiteit in ʼn verklaring gesê.  Die senaat het gevolglik besluit dat elke fakulteit en akademiese departement van die universiteit ’n opvangprogram moet implementeer om die tyd in te haal wat weens die betogings verlore gegaan het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Maria ·

Ek dink dit is die probleem in SA als moet verniet wees hoe moet mense dan salarisse verdien? En om als te brand of te verniel is mos die antwoord wonder waar kom die geld vandaan om dit te herbou

Jerry ·

Skort finansiering en klasse op vir studente wat staak en verbied en verhoed toekomstige toegang tot kampusse vir hierdie studente, al is dit n duisend studente of nie!

wielie ·

GAAN LEER VIR N BETER TOEKOMS??? M aar dan brand en plunder alles voor eksams
Ag nee man! waarvoor betaal ons so duur aan studies en dit gebeur???

Helena ·

Wil als gratis hê, sal hul ook eendag gratis werk verrig??

Woedend ·

En soooo gaan dit aaan en aaan en aaan hulle verwoes brand af en gaan te kere omdat daar nie gehoor gegee word aan hulle eise nie, En hulle voel n veer wie en wat hulle in die proses beskadig en vernietig en seer maak. Net omdat hulle hul sin wil hê. So nou vra ek die vraag af wat se voorbeeld stel hulle? Of ek glo nie ek moet eers die vraag vra nie, want hulle ken dit nie!! Maar intussen word die speelgoed die heeltyd uit die kot gegooi, en hulle word leeeeekker vet gevoer met melk. Wanneer hulle eendag instap by n werk dan gaan hulle seker tantrums gooi vir n blink nuwe sportsmotor. Liewe aarde word groot julle is daar om te studeer, nie om die lewe gemaklik te wil hê nie!!!!

Willehond ·

Ons moet hulle help om als te vernietig! Dis ons redding!! Skenk klippe en petrol dan sal ons gou weet waarheen ons oppad is. En die sogenaamde beleggers!

lorita ·

Ja nee, net in SA verwoes ons die instansie waarvoor ons gratis onderrig eis, HIE-HIE en dan wag ons more vir die bus (terwyl ons toi toi oor vervoer ook) wat ons vandag afgebrand het.

Willehond ·

Ek stem! Brand twee van die drie treine wat oor is want daar is te min treine! Lag my lam vir die lot!

PPP ·

Ja dit is so wil alles verniet hê, so het hulle die ANC n paar jaar terug gesê kry vir julle verniet krag,ons gaan ook nie daarvoor betaal nie, kyk waar sit Eskom nou teen April gaan daar nie meer geld wees nie wat nou.

ne ·

B A K H A N D! Kry alles verniet, word dalk betaal omdat hulle nie werk het nie en raai wie betaal daarvoor?

Vivian ·

Eks bruin,my seun kan nie studeer want ons beslis nie oor die geld om als te dek nie!Hy moet werk en spaar,ons sal help so veel ons kan.My kinders moenie bakhand staan vir enigiets nie.Hulle moet trots voel oor hulle harde werk en opoffering PUNT.Sommige anderskleuriges probeer hul kinders regte waardes en ingesteldheid leer.

Stripes ·

As hulle nie betaal nie, skryf hulle nie eksamen of draf klas nie. Gaan kry ‘n studielening by ‘n bank of kry ‘n besigheid om jou te borg. Afbreek, afbrand, verniel en verwoes kan hulle goed doen en more huil hulle daar is nie genoeg klaskamers nie ens nie. Is omdat hulle alles verniet in die lewe wil hê dat hulle vere voel vir ander se eiendom nie en nog minder gee hulle om of ander wat wel betaal het ontwrig word of nie. EK wil dit so en so hê en te duiwel met die res en die anc regering is te flippen slapgat om die polisie en weermag te kry of die spul studente die nodige opleiding te gee.

GM ·

Vivian, jou kind/kinders kan trots voel om jou as ouer te hê. Sterkte met jou seun se toekoms, ek hoop hy word iewers met ‘n beurs beloon sodat hy kan gaan studeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.