Leslie-boer sterf dae ná aanval

Chris van Deventer (62). Foto verskaf.

Chris van Deventer (62). Foto verskaf.

Chris van Deventer (62), ʼn boer van Leslie in Mpumalanga, is in die hospitaal oorlede nadat hy twee weke gelede buite sy plaas glo met sy eie vuurwapen geskiet is.

Maroela Media het vroeër berig Van Deventer is op 5 Maart die oggend deur sy motorruit geskiet nadat hy twee booswigte agternagesit het wat by hom en sy vrou, Elize (58), se huis ingebreek en goedere, waaronder sy vuurwapen, gesteel het.

Van Deventer en sy vrou was buite op die werf by die varkhokke doenig toe die krag in die huis afgegaan het. Sy het huis toe geloop om dit weer aan te skakel waar sy gesien het hul selfone is weg en die huis is omgekrap. Werkers op die plaas het glo die inbrekers sien weghardloop en die egpaar daaroor ingelig. Die egpaar was op pad na die polisie toe hulle die verdagtes in die pad sien loop het, en dié op hulle begin skiet het. Die aanvallers het verskeie skote afgevuur en ondanks Van Deventer se pleidooie dat hulle hom nie moet skiet nie, het hulle hom deur die motorruit in sy buik geskiet. Elize is nie beseer nie.

Van Deventer is ná die skietery met ’n ambulans na twee hospitale in die omgewing geneem waar hy glo nie gehelp kon word nie. Hy is uiteindelik sowat 24 uur ná die skietery in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria opgeneem, waar hy Sondag vermoedelik weens infeksie dood is.

Die egpaar het sowat drie maande gelede vanaf Middelburg na die plaas verhuis.

Frikkie Bezuidenhout, Van Deventer se skoonseun, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Van Deventer was baie lief vir die plaaslewe en visvang.

“Hy was ʼn pensioentrekker. Omdat hy so lief vir die plaaslewe is, het hulle uit die dorp getrek, ʼn huis op die plaas gehuur en met varke en hoenders geboer,” het Bezuidenhout gesê.

“Almal beskryf hom as ʼn ‘gentle giant’, want hy gee regtig om vir ander mense. Hy was goedhartig en het ander se behoeftes voor syne geplaas. Hy sou eerder gee as neem.”

Van Deventer laat sy vrou, drie dogters, agt kleinkinders en twee agterkleinkinders agter. Sy begrafnisreëlings moet nog getref word.

  • Twee verdagtes is kort ná die skietery deur die polisie in hegtenis geneem. Die verdagtes se borgtogverhoor sou Maandag in die Leslie-streekhof plaasvind, maar is uitgestel omdat die verdagtes nou teregstaan op aanklag van moord en nie meer poging tot moord nie. Die verdagtes moet weer op 23 Maart in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

anet ·

Die Oordeelsdag sal wel kom, en dan sal geregtigheid geskied,!!!!!!
My hart gaan uit na die familie, jammer oor julle groot hartseer. Ons bid vir julle, vir krag en berusting

Theresa ·

Mens kan maar net kop skut. Weet nie meer nie……………………….

LADYBUG ·

satanskinders! Gelukkig weet ek my God slaap nie, en jul SAL geoordeel word …

Annie ·

Ons MOET begin terug reageer en ook vlug! Laat geen leidrade…
Iewers moet ons ‘n boodskap oordra… ONS IS MOEG vir julle strooi!!

Tom Theron ·

Boere moet die eenvoudige les leer wat ons in weermag-dae geleer het: Waar jy gaan, daar gaan jou vuurwapen. Jy beweeg nie sonder hom nie. Leer uit die Zim-situasie in die verlede, leer uit die skreiende feite van die hede.

Paraatheid is No.1 in ‘n oorlog situasie, en die boere is onder skoot, of hulle dit wil weet of nie.

Amanda ·

Ons leef in so ‘n gevaarlike land en tog is dit verstommend hoe min mense enige basiese kennis van selfverdediging het. Peper sproei is so relatief goedkoop en ek weet boere kan nie heeldag agter slot en grendel wees nie maar dis so maklik om ‘n sakkie aan klere te werk waar die sproei maklik bereikbaar is. Mens moet paraat wees en gedurig beplan wat jy gaan maak as gevaar dreig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.