Lesotho-Hoogland-waterprojektonnel binnekort vir maande gesluit

Die Katse-dam. (Foto: Wikipedia)

Die Lesotho-Hoogland-waterprojektonnel gaan vir ses maande gesluit word vir beplande instandhouding.

Die sluiting is vir 1 Oktober 2024 tot 31 Maart 2025 geskeduleer.

AfriForum het vandeesweek ’n navraag aan die departement van water en sanitasie gerig om meer duidelikheid te bekom oor hoe die departement watersekerheid tydens die beplande ses maande lange sluiting gaan verseker.

Die burgerregteorganisasie vra vir gedetailleerde inligting oor die departement se planne en maatreëls vir die volgende ses maande.

Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir omgewingsake, sê die Lesotho-Hoogland-waterprojektonnel speel ʼn deurslaggewende rol in die voorsiening van water aan die geïntegreerde Vaalrivierstelsel wat streke soos die plaaslike munisipaliteite Mafube, Nketoana en Dihlabeng in die Vrystaat, asook die hele Gauteng beïnvloed.

“Gegewe die potensiële uitwerking op waterbeskikbaarheid van riviere gedurende die tydperk van instandhouding, beklemtoon AfriForum die belangrikheid daarvan om spesifieke planne en bestuurstelsels wat deur die departement ontwikkel is, te verstaan om watersekerheid in geraakte gebiede te waarborg.”

Die organisasie versoek ook omvattende besonderhede oor die kommunikasiestrategieë wat die departement gaan gebruik om inwoners op hoogte te hou van die situasie aangesien inwoners ongetwyfeld water meer spaarsamig gaan moet gebruik.

“Ons is gretig om te verneem van enige gebeurlikheidsmaatreëls om onvoorsiene uitdagings wat kan ontstaan, aan te pak,” sê De Klerk.

“AfriForum erken die knelpunte verbonde aan die bestuur van sulke projekte en waardeer die pogings van die departement om watervoorsiening gedurende hierdie tydperk van instandhouding te verseker.”

De Klerk sê deursigtigheid in die verskaffing van inligting sal egter help om openbare begrip en samewerking te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Julle weet mos. Die regime dink nie sovêr vooruit nie.

Andries ·

Dit is noodsaaklike instandhouding. Doen hul dit nie kan daar ander gevolge wees en dan spring Afriforum weer op hul perdjie.

Roek ·

Uitstekende beplanning , en Andries laat Afriforum maar op hul perdjie spring kan hulle maar , dit is immers hul eie perdjie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.