Lesotho-premier se vrou kort voor inhuldiging doodgeskiet

Foto: Google Earth

Die vrou van Tom Thabane, premier van Lesotho, is Donderdagoggend, ʼn dag voor Thabane se inhuldiging, dood nadat sy Woensdagaand geskiet is.

Lipolelo Thabane het in ʼn hospitaal aan haar beserings gesterf.

Hoewel daar nog min besonderhede oor die voorval beskikbaar is, word daar beweer dié voorval waarin sy en nog ʼn ander vrou gewond is, is polities gemotiveerd.

Dié voorval het vrese vir onstabiliteit in die bergkoninkryk net verder aangewakker. Thabane het in 2014 na Suid-Afrika gevlug omdat hy vir sy lewe gevrees het na ʼn poging tot ʼn staatsgreep. Thabane het eers vroeër vanjaar na Lesotho teruggekeer.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa sal na verwagting Thabane se inhuldiging bywoon. Sy kantoor het in ʼn verklaring gesê hy sal die inhuldiging bywoon as verteenwoordiger van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het gewaarsku dat die SAOG nie enige staatsgrepe sal duld nie. “Dit is twee weke gelede baie duidelik gemaak aan almal in Lesotho,” het Nkoana-Mashabane gesê.

In Maart het Lesotho se parlement ʼn mosie van wantroue in die uittredende premier, Pakalithi Mosili, aanvaar. Dit het die weg gebaan vir die verkiesing wat op 3 Junie gehou is waartydens Thabane gewen het. Sy ABC-party het 48 van die 120 setels in die parlement verower, maar kon nie die 61 setels bekom wat benodig word om ʼn regering te vorm nie.

Thabane het gesê die ABC sal ʼn koalisieregering vorm saam met die Alliance Democrats, Basotho National Party en die Reformed Congress of Lesotho.

Die land met ʼn bevolking van sowat 2 miljoen mense was sedert onafhanklikheid in 1966 die slagoffer van verskeie staatsgrepe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Die perd het volgens Google in 2012 n hooggeregshof saak teen sy eerste vrou verloor nadat sy hom gedagvaar het vir voordele. Hy het blykbaar nou n jong bok. Eerste vrou blykbaar nou weer beroep op voordele gedoen nadat hy verkiesing geen het. Lesotho erken eerste vrou as die wettige. Dus was sy geregtig op voordeel soos n staatsmotor met chauffeur en lyfwag. Dis te be twyfel of dit polities gemotiveerd was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.