Lesotho se eerste minister daag nie op vir hofverskyning

Thomas  Thabane (Foto: AP Photo/Richard Drew, File)

Lesotho se eerste minister het versuim om Vrydag op te daag vir sy hofverskyning in verband met die moord op sy vervreemde vrou, Lipolelo.

Thomas Thabane was veronderstel om vanoggend in die Maseru-landdroshof in Lesotho te verskyn nadat hy vandeesweek van die 2017-moord op Lipolelo Thabane aangekla is.

Volgens die eerste minister se seun ontvang sy pa tans mediese behandeling in Suid-Afrika en kon hy daarom nie die hofverrigtinge bywoon nie.

Dié wending kom nadat Thabane se huidige vrou, Maesaiah, ook vroeër vandeesmaand van moord aangekla is nadat sy landuit gevlug het. Maesaiah het haar sedertdien aan die polisie oorgegee en is op borgtog vrygelaat. Sy moet weer op 17 Maart in die hof verskyn.

Thabane is Lesotho se eerste dienende eerste minister om van enige misdaad aangekla te word. Dié 80-jarige leier staan ook tereg op aanklag van poging tot moord op Thato Sibolla, ʼn vriend van die oorledene.

Lipolelo is kort voor haar en die eerste minister se egskeiding op 14 Junie 2017 naby haar huis in Maseru doodgeskiet. Sibolla, wat saam met haar in haar motor was, het skietwonde opgedoen. Hy het intussen uit vrees vir sy lewe na Suid-Afrika verhuis.

Lipolelo en Thabane was van bed en tafel geskei ten tyde van die moord.

Die aanval het plaasgevind net twee dae voor Thabane vir ʼn tweede keer as eerste minister beëdig sou word. Thabane het intussen sy aftrede aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Skim

In paragraaf 4 word gesê Maesaiah vroeër vandeesmaand aangekla is vir moord. In paragraaf 6 word gesê kort voor haar egskeiding op 14 Junie 2017 is sy in Maseru DOODgeskied?? Maak nie sin nie of Verstaan ek verkeerd??

Niklaas

Dis nou een vreemde en nuwe tendens onder verhoor afwagtende politici om skielik mediese behadeling te benodig , juis as hy moet sy hof verskyning moet maak. Daai aanklagte sal mos nie dan net wegraak nie , of hoe dink die manne soos JZ en hierdie eerste minister ?

Grassie

Dit lyk vir my hy het baie mooi by Zuma geleer.