Lesotho se eerste minister van moord beskuldig

Thomas Motsoahae Thabane (27 September 2019) (Foto: AP Photo/Richard Drew, File)

Thomas Thabane, Lesotho se eerste minister, sal aangekla word van die moord op sy vervreemde vrou, Lipolelo, in Junie 2017. Die eerste minister het intussen sy aftrede aangekondig.

Thabane se huidige vrou, Maesaiah, is vroeër vandeesmaand aangekla in die moord ná sy vlugtig landuit gevlug het.

Paseka Mokete, adjunk-polisiekommissaris, het gesê die eerste minister sal Vrydag in die Maseru-landdroshof verskyn “op aanklag van moord op Lipolelo Thabane”.

Lesotho se 80-jarige leier staan ook tereg op aanklag van poging tot moord op ʼn ander persoon wat tydens die aanval saam met Lipolelo was, het Mokete bygevoeg. “Die polisie se ondersoek is afgehandel. Nog verdagtes sal binnekort aangekla word.”

Thabane is Lesotho se eerste sittende eerste minister om van enige misdaad beskuldig te word. Maesaiah is vrygelaat op borgtog. Sy moet weer op 17 Maart in die hof verskyn.

Lesotho se eersteministersvrou, Maesaiah Thabane. (Foto: Facebook)

Lipolelo en Thabane was van bed en tafel geskei. Net voor hul egskeiding is sy op 14 Junie 2017 naby haar huis in Maseru doodgeskiet. Haar vriend, Thato Sibolla, wat saam met haar in haar motor gery het, het skietwonde opgedoen. Hy het intussen uit vrees vir sy lewe na Suid-Afrika verhuis.

Die aanval het plaasgevind net twee dae voor Thabane vir ʼn tweede keer as eerste minister beëdig sou word.

Polisiekommissaris Holomo Molibeli het in Januarie in die hof bekend gemaak Thabane is ʼn verdagte in die moord. Thabane het onsuksesvol probeer om Molibeli uit sy amp te onthef. Thabane wou ook immuniteit bekom vir hom en sy vrou in verband met die moord op sy vervreemde vrou, het Molibeli bygevoeg.

Thabane het Donderdag in ʼn verklaring gesê hy tree af “vanaf die einde van Julie vanjaar of vroeër indien alle vereiste voorbereidings getref kan word vir my aftrede”. Hy het gesê hy het die boodskap aan koning Letsie III gestuur en hy het ʼn paar dae gelede ook pres. Cyril Ramaphosa formeel van sy besluit, om af te tree, in kennis gestel.

All Basotho Convention (ABC), Lesotho se regerende party, plaas egter druk op Thabane om dadelik uit te tree en sê hy kan nie in die amp aanbly terwyl hy van moord verdink word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.