Lesotho se eerste minister verskyn in die hof

Thomas Motsoahae Thabane (27 September 2019) (Foto: AP Photo/Richard Drew, File)

Thomas Thabane, Lesotho se eerste minister, het Maandag in ʼn hof in Maseru verskyn, maar is nie aangekla nie.

Die eerste minister sou na verwagting tereg staan op aanklag van moord, poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging ná sy tweede vrou, Lipolelo Thabane, in 2017 doodgeskiet is.

Adv. Hlalefant Motinyane, direkteur van openbare vervolging, het egter gesê “daar is baie kwessies” wat met die polisie bespreek moet word voor klagtes aanhangig gemaak kan word.

Thabane se prokureur, Qhalehang Letsika, het gesê hulle het in die hof verskyn omdat hulle wou bewys die eerste minister staan nie die hof teen nie. Daar was Vrydag gerugte dat Thabane landuit gevlug het ná hy versuim het om in die hof op te daag. Hy het aangevoer hy moes ʼn dokter in Suid-Afrika kom sien.

Letsika het intussen aansoek gedoen om verlof om ʼn aansoek in die hooggeregshof te bring om te bepaal of die Grondwet dit toelaat dat ʼn sittende eerste minister aangekla kan word. Dié versoek is toegestaan.

Paseka Mokete, adjunk-polisiekommissaris, het Vrydag bevestig Thabane sal tereg staan op drie aanklagte.

Thabane se huidige vrou, Maesaiah, wat haar man Maandag in die hof vergesel het, is tans uit op borgtog op aanklag van moord en poging tot moord.

“Ons sal hom saam met sy vrou aankla, want hulle het ʼn gemene doel gehad,” het Mokete gesê.

Maesaiah het in 2017 met die eerste minister getrou, kort ná sy vorige vrou in haar motor doodgeskiet is.

Thabane het verlede week Donderdag sy aftrede aangekondig. Dit was kort voor die polisie bekend gemaak het dat hy ook aangekla gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.