Lesotho-staatsgreep: Eerste minister het na SA gevlug

Foto: Google Earth

Foto: Google Earth

Tom Thabane, eerste minister van Lesotho, het Saterdag bevestig dat die weermag deur middel van ʼn staatsgreep beheer oorgeneem het in sy land en dat hy na Suid-Afrika gevlug het.

“Ek is nie deur die mense nie, maar deur gewapende magte uit die magsposisie verwyder en dit is onwettig,” het Thabane aan die BBC gesê. “Ek het vanoggend na Suid-Afrika gekom en ek sal terugkeer sodra my lewe nie meer in gevaar is nie. Ek gaan nie terugkeer na Lesotho om vermoor te word nie.”

Die weermag in Lesotho het Saterdagoggend vroeg beheer oorgeneem van die polisiehoofkwartier en die premier se woonhuis in Maseru. ʼn Regeringsminister het aan AFP gesê hulle het later onttrek.

Thesele Maseribane, minister van sport en leier van die Basotho Nasionale Party het aan AFP gesê gewapende mense loop in die straat rond, maar hy weet nie hoeveel mense is beseer nie. Hy beskuldig die weermag daarvan dat hulle radiostasies en telefoonnetwerke blokkeer.

Die koalisieregering in die koninkryk is baie onstabiel sedert die verkiesing twee jaar gelede.

Die situasie in Lesotho is kommerwekkend vir Suid-Afrika, aangesien dié land sy water en elektrisiteit van die koninkryk af ontvang.

Intussen het Clayson Monyela, woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge, Saterdag tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gesê die Suid-Afrikaanse regering gaan nie dadelik soldate na Lesotho stuur nie. Hy het gesê diplomasie moet ʼn kans gegun word en die situasie moet vreedsaam opgelos word.

Hy wou nie gerugte erken dat Thabane na Suid-Afrika gevlug het nie.

Niemand het nog tot dusver amptelik aangekondig dat hy die regering van Lesotho oorgeneem het nie.

Monyela het gesê die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is in gesprek met al die rolspelers.

Hy sê alle Suid-Afrikaners in Lesotho is veilig, maar hy maan reisigers na die koninkryk om “die situasie te oorweeg”.

Lees ook:
Lesotho-weermag ontken staatsgreep
Lesotho-staatsgreep: Skote klap al van vroeg af
Moontlike staatsgreep in Lesotho

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

antjie ·

SA die land van melk en heuning……dis waar almal wil skuil as die paw paw die fan strike… te lamsakkig om hulle land se probleme in die gesig te staar

George ·

Wat nou van al die geld wat hulle van ons belasting betalers gekry het ? of is dit nou ook down the drain ? Gaan jz nog gee en gee ??????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.