Lesotho-staatsgreep: Skote klap al van vroeg af

Foto: Google Earth

Foto: Google Earth

ʼn Minister en leier van die koalisieregering in Lesotho het gesê skote klap al Saterdag sedert 04:00 in dié koninkryk nadat die weermag beheer oorgeneem het van die land se polisiehoofkwartier.

“Die gewapende magte het die polisiehoofkwartier oorgeneem,” het Thesele Maseribane, minister van sport en leier van die Basotho Nasionale Party, aan AFP gesê. “Hulle het omstreeks 04:00 reeds rondom my huis en die eerste minister se huis gery. Skote het tussen 04:00 en 07:00 of 08:00 bly klap.”

Maseribane sê telefoonlyne word geblokkeer en radiostasies word ook verhoed om enigiets uit te saai. Hy sê hy het gevlug nadat hy die waarskuwing ontvang het. “Die bevelvoerder het gesê hy wou my, die eerste minister en die adjunkminister na die koning toe neem. In ons land beteken dit ʼn staatsgreep,” het hy gesê.

Hy hou egter vol dat eerste minister Tom Thabane se regering steeds in beheer is. “Ek en die eerste minister is steeds die koalisieregering. Die eerste minister is steeds in beheer.”

Hy het gesê dit gaan goed met Thabane, maar wou nie besonderhede verskaf oor waar die eerste minister homself bevind nie. “Dit is nog baie gevaarlik,” het hy gesê. “Gewapende mense hardloop rond in Maseru.”

Die sekretaris vir die regering was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

ʼn Onstabiele koalisie beheer die koninkryk sedert ʼn verkiesing twee jaar gelede. Koalisievennote het in Junie ʼn brose ooreenkoms bereik deur middel van bemiddelaars.

Lees ook:
Moontlike staatsgreep in Lesotho

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.