Lesse hervat ná skoliere betoog

skool

Argieffoto

Lesse sal volgende week weer in Bloemhof, Noordwes, hervat nadat leerlinge by twee skole betoog het.

“Skoliere by Thuto Lore Secondary School en Gaopalelewe Secondary School sal na verwagting Maandag terugkeer skool toe,” het Elias Malindi, woordvoerder van die departement van onderwys in Noordwes, gesê. “Die skoliere het, sedert die skole weer ná die Paasvakansie oopgemaak het, lesse geboikot.”

Leerlinge het vandeesweek op ʼn plundertog gegaan. Uitlanders se winkels is geplunder en ʼn bakkie is aan die brand gesteek. Minstens ses leerlinge is in hegtenis geneem.

Volgens Malindi hou die betoging verband met “onopgeloste eise” wat die provinsiale regering nog nie aangeroer het nie. Leerlinge kla onder andere oor ongekwalifiseerde onderwysers in hul skole, lyfstraf, ondoeltreffende skoolbestuur en skoolbeheerliggame en ongesonde etes.

Hy het gesê die departement en die verteenwoordigende raad vir leerders (VRL) het Donderdag vergader om na die eise te luister.

Die departement het die bewerings verwerp en gesê slegs gekwalifiseerde akademici word as opleiers aangestel ná ʼn toename in die bedanking van onderwysers.

Die nuut gekwalifiseerde akademici word erken deur die departement van hoër onderwys en opleiding en het voorlopige sertifikate van die SA Raad vir Opvoeders (SARO) ontvang, het Wendy Matsemela, LUR vir onderwys in Noordwes, gesê. Sy het haar misnoeë uitgespreek oor die gedrag van die skoliere en gesê behoorlike prosedures moet gevolg word wanneer kwessies geopper word. Sy het haar sterk uitgespreek teen die stokkiesdraaiery.

“Ons moet van die behoorlike kanale gebruik maak,” het Matsemela gesê. “Die Grondwet erken jou reg tot opleiding en sukses en hierdie regte kan vreedsaam verdedig word sonder om opleiding en opvoeding te ontwrig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Irene ·

Ag ons is moeg vir hierdie soort van ding as dit nou by skole is wat volgende die regering en polisie lyk my doen niks staan en kyk Tv

Wat-ek-lees ·

Dis sommer net goeie opleiding om later ook amok te maak as volwassenes.

Veritas ·

As só iets darem in my skooldae moes gebeur! Ten spyte van die vrees vir die nagevolge, was daar ook iets soos respek en ontsag vir ouers en onderwysers. Nadat die onderwysers hul merk op jou gelaat het, het jou ouers dit onderstreep (letterlik). Is vandag se jeug swak opgevoed of gebeur sulke dinge net a.g.v die voorbeeld wat die studente en vakbonde daarstel? Die ‘Menseregte junkies’ het die dam onder die eend uitgeruk met hulle eis dat misdadigers ook regte moet hê.

magda ·

Dankie vir gratis nuus Maroela. Ek voel net nuus nie so gereeld meer?

Sune van Heerden ·

Dagsê Magda

Ons nuus is definitief nog net so gereeld soos vantevore. Maak dit vir jouself baie maklik om seker te maak jy mis nie iets nie:
• Besoek daagliks ons webwerf by http://maroelamedia.co.za/
• Teken in op ons daaglikse en weeklikse nuusbrief (http://maroelamedia.co.za/nuusbrief/)
• Laai ons app af indien jy ʼn iPhone of Android-slimfoon het (http://maroelamedia.co.za/blog/nuus/sa-nuus/die-lekkerste-gratis-nuus-app-is-hier/)
• Jy kan selfs op elke werksdag ʼn laatmiddag WhatsApp-boodskap ontvang om seker te maak jy het nie die belangrikste stories van die dag gemis nie: http://maroelamedia.co.za/whatsapp-nuusflitse/

Ek hoop jy kuier nog sommer baie lekker verder op Maroela!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.