Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het tydens ʼn mediakonferensie gesê die burgerregte-organisasie AfriForum het hom probeer vermoor en teister hom en sy gesin.
“Hulle het my al probeer vermoor, my en my gesin agtervolg, deur my bankstate probeer gaan en probeer uitvind wie my vriende is,” het Lesufi Sondag gesê. Hy het gereageer op AfriForum se versoek aan Gautengse premier David Makhura dat hy bedank. AfriForum het ook ʼn strafregtelike klag van korrupsie en wanbesteding teen Edward Mosuwe, hoof van die Gautengse departement van onderwys, gelê.
In reaksie hierop het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê Lesufi moet hom maar regmaak vir ʼn “stewige lastereis” van AfriForum. “Ek het geweet Lesufi huiwer nie om twak te praat nie, maar het nie gedink dat selfs hý sulke nuwe laagtepunte kan bereik met sy uitsprake en buitensporige samesweringsteorieë nie.”
Lesufi het joernaliste Sondag op hoogte gebring van plasings in Gautengse skole vir volgende jaar. Meer as 9 000 gr.1- en gr. 8-leerders soek nog plek in ʼn skool in Gauteng. Dit verteenwoordig amper 4% van die totale aantal leerders wat in Mei vanjaar aanlyn aansoek gedoen het om ʼn skool.
Lesufi sê baie van die leerders is tot dusver geakkommodeer deur lokale soos gimnasiums by skole in klaskamers te omskep. “Ons het nie klaskamers oorvol geprop nie. Geen skool is ook gedwing om leerders in te neem as hulle nie wou nie,” sê Lesufi. “Ek deel ouers se frustrasie. Dit is nie ʼn stelselfout nie. Daar is net té veel aansoeke.”
Die Menseregtekommissie het reeds aangedui dat hulle ʼn klag van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge en die VF Plus oor die aanlyn aansoekstelsel ondersoek.
Volgens Lesufi het 160 000 ouers aansoek gedoen vir 12 000 plekke by 394 skole in Gauteng. “Sommige skole is dus baie gewild en ons kan onmoontlik ouers met hul eerste keuse akkommodeer.” Dit terwyl sommige skole, veral in township-gebiede, slegs 14 aansoeke ontvang het. Gebiede wat veral onder druk is, is Centurion, Alberton en dele van Midrand.
Lesufi sê wanneer laat aansoeke in Januarie oopmaak, sal ouers slegs kan aansoek doen vir dié skole wat plek het.
Hy het ook gekap na kritici wat hom kasty oor hy te min skole bou. “Ons het genoeg skole, maar ouers verkies enkele skole in die provinsie. Dit is verstaanbaar, want sommige skole het ʼn hoë voorkoms van geweld.”
Henk Maree, AfriForum se woordvoerder, het bevestig dat hulle besig is om ʼn lastereis teen Lesufi in te stel weens sy uitlatings Sondag. Hy het dié uitlatings as “totale waansin” bestempel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
63 Kommentare
Ek dink ‘n “Lesufi must fall” veldtog is nou nodig want hierdie man is heeltyd besig met alles behalwe onderwys!
Ek glo Afriforum gaan hom ry tot by ou Daantjie in die kalwerhok en hom ‘n les of twee leer!
Alle sterkste en sukses aan Afriforum.
Haha alweer die nar
Hoe verloop die ander provinsies se plasings. Is daar ook leerders wat nog in n skool plek moet kry.
Al weer die slagoffer, fooitog.