Lesufi dreig om weer omstrede skool te sluit

Roodepoort Primary School. Foto: Google/maps

Roodepoort Primary School. Foto: Google/maps

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, dreig om die omstrede Roodepoort Primary School te sluit indien ontwrigtings by die skool voortgaan.

“Ek doen ʼn beroep op onderwysers om môre [Dinsdag] terug te keer skool toe om te verseker dat onderrig voortgaan. Ek doen ook ʼn beroep op lede van die gemeenskap om die prosesse by die skool te respekteer. Ek sal nie huiwer om die skool te sluit indien daar Dinsdag enige vorm van ontwrigting is nie,” het Lesufi Maandag tydens ʼn mediakonferensie gesê.

Die skool gaan al ʼn geruime tyd gebuk onder bewerings van rassisme en ongerymdhede ná die aanstelling van ʼn swart skoolhoof verlede jaar. Volgens Lesufi het 15 swart onderwysers nie vir werk opgedaag nie uit vrees vir hul lewe.

Lesufi het gesê ʼn veiligheidsmaatskappy is aangestel om die skoolperseel veilig te maak. Hy het gesê die situasie is gespanne sedert die skoolhoof se motor verlede week met ʼn petrolbom bestook is. “’n Gewapende man het ook by die skool opgedaag en geëis om die skoolhoof te spreek. Veiligheidswagte kon daarin slaag om die man te ontwapen en hom aan die polisie te oorhandig,” het Lesufi gesê.

Talle ouers by die skool eis dat ʼn bruin skoolhoof aangestel word. Lesufi het in April die skool gesluit ná talle gewelddadige betogings. Die skool is egter ʼn paar dae later weer heropen. Volgens Lesufi sal leerders na ʼn ander skool gestuur word indien dit nodig is om weer die skool te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

david ras ·

Lesufi is te groot vir sy skoene. Hy is ‘n duidelike manifestasie van die ANC se magsbeheptheid.
Wat nou van die betrokke ouers se wense—of werk swart demokrasie anders ?

Liewe lulu ·

Lefusi en malema is uit een stuk hout gesny. Hulle tokkel gedurig op dieselfde deuntjie

Ampie ·

Snaaks dat die een na ander krisis met Lesufi se aanstelling by Gauteng skole opduik. Hy is duidelik onbevoeg. Dank hom af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.