Lesufi en Mashatile in visier

panyaza lesufi

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Foto: ANA.

Die VF Plus het Donderdag in die Gautengse wetgewer tydens die debat oor die premier se provinsiale rede, geëis dat die LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, onmiddellik afgedank moet word en dat daar teen die LUR van plaaslike regering, Paul Mashatile, opgetree word.

Philip van Staden, VF Plus-LPW in die Gautengse wetgewer, is van mening dit is betreurenswaardig dat die premier nie die LUR van onderwys voor stok gekry het oor sy aanvalle op Afrikaanse skole in die provinsie nie.

“Lesufi beweeg figuurlik van skool tot skool en steek hulle aan die brand as hy nie sy sin kry nie. Lesufi moet deur die premier afgedank word omrede hy slegs ʼn politieke agenda dryf; nie in belang van die provinsie en die bevordering van onderwys optree nie,” het Van Staden gesê.

“Afrikaanssprekendes het volgens artikel 29(2) van die Grondwet ʼn reg om in Afrikaans onderrig te word. Die LUR tree tans ongrondwetlik op, stook rassehaat en faal in sy taak om gehalte-onderrig vir almal in Gauteng te verseker.”

Van Staden het gesê die LUR van plaaslike regering en behuising, Paul Mashatile, moet verantwoordbaar gehou word vir die munisipaliteite in die provinsie wat in duie stort.

“Voorbeelde hiervan is die haglike finansiële toestand van Emfuleni- plaaslike munisipaliteit waar bitter min dienslewering plaasvind. Die premier toon nie die politieke wil om hierdie krisis aan te pak nie. Hoe kan die premier toelaat dat die LUR niks doen aan die feit dat Mogale City (Krugersdorp) besig is om van sy bates ontslae te raak om sy skuld te delg nie?”

Volgens Van Staden oortree Mashatile ook die etiese kode vir uitvoerende lede deur nie sy pligte na te kom nie.

“Die premier sal Mashatile onmiddellik moet verwyder as LUR en hom nie in sy pos behou tot einde Maart nie. Hy bring tans meer tyd in Lethuli-huis deur en versaak sy verpligtinge teenoor die provinsie. Sedert sy aanstelling het hy nog nie een keer ʼn portefeuljekomiteevergadering oor sy departement bygewoon nie,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Arie ·

Ek is lankal dieselfde mening toegedaan as Mnr Gert van Staden van die.VP+ aangaande Mnr Lesufi.
Soos Mnr van Staden duidelik meld in die berig hou Lesufi hom op met politiekery en doen nie sy werk waarvoor hy aangestel is nie.
So is daar nie gesorg dat honderde skole gebou is nie en ook die dringend noodsaaklike dienste soos toilette by talle skole nog steeds ontbreek.
Noodsaaklike infrastuktuur projekte soos elektrifisering en vars watervoorsiening aan skole is ook nie.aangepak nie.
Klaarblyklik is kleinlike politiekery vir HOM baie belangriker.

Om nagenoeg dieselfde tedes moet Mnr Mashatile sy ry kry.
Amptenare word betasl om n resultate te bewerkstellig en nie on n stoel elke dag warm te sit nie.
Uit getuienis deur Mnr van Staden voorgehou is dit ongeveer die primêre taak wat Mnr Mashatile gedoen het.

Golden Handshake ·

FIRE hulle en asb moenie die goue handdruk gee nie . net die skop in die agterent. Wat het Lesufi gedoen behalwe teen Afrikaners diskrimineer en rassehaat aanblaas en kinders se lewens in gevaar stel? PLAAS BOU HY SKOLE soos hy moet!

Grassie ·

Volgens ‘n PIRLS-toets in 2016, waarin13000 S.A. graad 4 kinders getoets is, is bevind dat 78% nie kan lees nie, die swakste onder die 50 lande wat getoets is. Dit is nie die kinders se skuld nie, dit is omdat mense soos Lesufi loop en haat saai en Afrikaans probeer vernietig in plaas van om sy wek te doen. Die ANC bestuur alles wat hulle hul hand aan slaan in die grond in, insluitend hul eie kinders se opvoeding en toekoms om politieke redes. Hulle sal nie teen Lesufi optree nie, hy doen dan wat hy in Luthuli-huis gesê word om te doen.

Johan ·

Lesufi is die bewys dat meeste lede van die ANC (indien nie almal nie) RASSISTIES is en ONBEVOEG is. Daar is nog BAIE BAIE vrot appels in die ANC kas – om nie van die GERAAMTES VAN KORRUPSIE te praat nie. Gaan lees meer oor die geskiedenis van die ANC (Steven Ellis het ‘n puik boek uitgebring oor die ANC “in Exile”). Korrupsie en erger die gebrek om op te tree daarteen, is al vir jare en jare deel van die ANC.

Net omdat Ramaphosa nou daar is moet ons nie wonderwerke verwag nie. Dit gaan nog lank duur. Daar is nog vele Lesufi’s in die ANC.

Maar ja ek stem saam – hy moet weg. Hy maak meer rassistiese uitsprake as wat hy enige iets doen wat Onderwys tot voordeel strek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.