Lesufi maak groot beloftes aan Gauteng

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, Maandag tydens ’n mediakonferensie na afloop van sy provinsiale rede. (Foto: Gauteng Provincial Government)

Meer werksgeleenthede, verbeterde veiligheid, ʼn florerende ekonomie, minder misdaad, beter energieoplossings, nuwe skole en ʼn einde aan e-tol teen Maart vanjaar.

Dít is maar net ʼn paar van die beloftes wat Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, Maandag in sy provinsiale rede by Nasrec aan inwoners van dié provinsie gemaak het.

Lesufi het in sy toespraak veral klem gelê op die provinsiale ANC-regering se suksesse oor die afgelope paar jaar en sê baie is reeds bereik om Gauteng ʼn uitnemende provinsie te maak ondanks doemprofete se kritiek.

Hy het ook baie vir die komende jaar belowe – insluitend ʼn nuwe tydlyn vir die afskaffing van die e-tolstelsel. Die stelsel sou teen die einde van 2023 iets van die verlede gewees het, maar daar het dadels van gekom.

“Ons is seker dat ons e-tol teen die einde van Maart 2024 sal kan beëindig,” het Lesufi Maandag opnuut beloof.

Polisiëring, misdaadbekamping

Volgens hom is planne om polisiëring te verbeter en misdaad meer doeltreffend te bekamp, ook op dreef.

Lesufi sê die provinsiale regering het 250 hoëkragvoertuie aan die polisie geskenk om dié doelwit te bereik. Twaalf mobiele polisiestasies is ook in gebiede opgerig waar polisiestasies ontbreek.

Daar is ook meer in e-polisiëring belê, insluitend meer kringtelevisiekameras by veral misdaadbrandpunte.

“Ons het meer as 7 000 kameras wat saamwerk om ons provinsie veiliger te maak,” het Lesufi gesê.

Inwoners sal glo teen April ook makliker en vinniger hulp in noodgevalle kan ontbied deur die gebruik van e-paniekknoppies wat met ʼn selfoon-app werk. Dié projek is verlede jaar bekend gestel en tussen April en Desember onder personeel in Gautengse departemente getoets.

Volgens Lesufi is gewapende reaksiespanne in 1 379 gevalle met behulp van dié app na noodgevalle ontbied, terwyl ER24 op meer as ʼn duisend mediese noodgevalle gereageer het.

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, Maandag tydens ’n mediakonferensie na afloop van sy provinsiale rede. (Foto: Gauteng Provincial Government)

Lesufi sê inwoners sal van 1 April af “toegelaat word om die e-paniekknoppie te gebruik”. Dit is egter onduidelik of die publiek se hulpkrete na die private of openbare sektor sal gaan of hoe dit presies gaan werk nie.

Verder beplan die provinsiale regering om veiligheidsfunksies op voertuignommerplate aan te bring om monitering en opsporing te vergemaklik.

Heli’s en hommeltuie

Wat toerusting en hulpbronne betref, is twee nuwe helikopters verlede jaar tot die vloot van die Gautengse polisie gevoeg.

Volgens Lesufi is dié helikopters tussen Mei verlede jaar en Januarie vanjaar al in 101 operasies gebruik om misdaad te bestry.

Nog twee helikopters sal glo vanjaar aangekoop word, asook 30 bykomende hommeltuie om lugsteun te versterk.

Ekonomie ‘weer op dreef’

Benewens die provinsie se planne om misdaad te stuit, is daar ook groot planne vir die ekonomie.

Volgens Lesufi is Gauteng se ekonomie nou “weer op dreef”, met 31 300 nuwe werksgeleenthede wat oor die afgelope drie maande geskep is.

“Ons provinsie het meer as R68 miljard se investering van 261 maatskappye gelok, wat 23 000 werksgeleenthede geskep het. Dié beleggings strek oor die tien hoëgroei-sektore in die ekonomie.”

Toerisme

Beleggings in die toerismebedryf is ook hoog op die provinsiale regering se priorititeitslys.

Verlede jaar het agt miljoen buitelanders in Gauteng aangekom en R98 miljard in dié provinsie se ekonomie ingeploeg.

“Dit is ʼn sektor wat ons moet koester en in belê,” het Lesufi gesê.

Benewens nuwe vlugroetes wat verlede jaar ontwikkel en ingestel is, wil die regering nou ook ander gebiede in Gauteng se toerismepotensiaal ontgin, waaronder Magaliesburg, Suikerbosrand en gebiede om die Vaalrivier.

Energiekrisis

Planne om die kragkrisis in die land te takel is ook aangekondig, insluitend ʼn vyfpuntstrategie.

Dié strategie behels die verbreking van onwettige kragkoppelings, die installering van kragmeters by huise en sakeondernemings, beter invordering van kragbetalings en die vervanging van beskadigde transformators.

“As deel van ons kragplan, voeg ons ook 100 MW tot die kragnetwerk by om die uitwerking van beurtkrag te versag,” het Lesufi gesê.

In die nuwe finansiële jaar sal dié 100 MW glo tot 300 MW verhoog word.

Dit sal inwoners teen twee fases van beurtkrag beskerm, aldus Lesufi.

Ander inisiatiewe wat glo in dié verband onderneem sal word, is die installering van sonkrag- en batterystelsels by 21 openbare gesondheidsfasiliteite.

“Ons is ook bly om aan te kondig dat die langtermynplan met Sibanye Stillwater se raad die verhuring van grond goedgekeur het aan ses onafhanklike kragprodusente wat ʼn fotovoltaïese kragstasie in Merafong- plaaslike munisipaliteit sal ontwikkel.

“Dit is ontwerp of ten minste 800 megawatt se sonkrag te oes en tot die kragnetwerk te voeg, wat groot verandering vir ons provinsie sal beteken.”

Altesaam 333 uit 429 transformators is ook al in samewerking met Eskom en City Power in Gauteng geinstalleer om krag aan huishoudings in informele nedersettings te bied.

Voedselsekerheid

Om voedselsekerheid in die provinsie te bevorder, het die provinsiale regering 12 trekkers ter waarde van R11 miljoen aan boere geskenk. Lesufi het nie uitgebrei of dit aan kleinskaal- of kommersiële boere verskaf is nie.

Hy sê dit vorm deel van die provinsiale regering se pogings om hongesnood te bekamp.

Onderrig

Onderrig is volgens Lesufi ook hoog op die agenda.

Die provinsie het verlede maand onthul dat R560 miljoen vir beurse toegeken is om 4 000 presterende matrikulante se studies te finansier, asook leerinstellings vir leerders met spesiale onderrigbehoeftes.

“Agtien nuwe skole sal gebou word as deel van die provinsie se R1,5 miljard investering.”

Vervoer

Nuwe paaie, wisselaars, aansluitings en dies meer het onder meer ten doel om die reisonkostes van pendelaars te verlaag en die ekonomie te bevorder deur meer interprovinsiale roetes daar te stel.

Die bou van die nuwe Vaal-wisselaar sal volgens Lesufi ook ʼn groot ekonomiese inspuiting vir dié streek wees.

Die uitbreiding van spoorlyne word ook beplan.

Volgens Lesufi sal die Gautengse snelspoornetwerk 148 km tot die spoornetwerk voeg, en van Sandton tot in Cosmo City strek. Treine op dié spoorlyn sal ook in Randburg en Little Falls in die Wes-Rand stilhou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Schalk ·

Blah blah blah. Klink soos n langspeelplaat wat vashaak. Selfde lee beloftes oor en oor.

Ore ·

Mnr, mnr, mnr, Soos gewoonlik praat jy weer voor jy dink. Ek lag vir die volgende
1. Hoëkragvoertuie. Wie gaan dit bestuur en onderhou?
2. Ekonomie weer op dreef….hoe? Met die wanbetaling integriteit wat jou mense openbaar wil almal dienste hê maar hulle wil dit verniet hê.
3. 12 Trekkers is geskenk maar wat gaan die boere daarmee maak?
4.18 nuwe skole gaan gebou word…..hoeveel sou jy gebou het vs hoeveel is gebou in jou termyn as LUR vir onderwys?
5.Nuwe paaie bou maar jy kan nie eers die bestaande paaie instand hou nie.
My naam is Kersvader en joune? Die een wat jou glo kan maar in Kersvader ook glo.

Johann ·

Nee kyk. Díe een is ‘n SUPER KADER! Want só lieg en jouself glo is nie sommer enige Jan Rap en sy maat beskore nie. Lieg homself in EN uit elke hoek in ‘n sirkel. En die ongeskoolde Tshirt Kospakkie Grant afhanklike massas stroom stembus toe?

Impact ·

18 Hospitale oorneem met NHI.
Wegdoen met tolgelde bla bla bla……………dink jy ons is onnosel om al jou stories te glo?

Marisa W ·

Ek wens die land kan soos ‘n besignheid bestuur word waar jy gemeet word aan jou uitsette teenoor jou doelwitte – sou jy dit nie behaal nie, word jy onder performance management geplaas en indien jy steeds nie suksesvol is nie, word jy vervang – maar daarvoor het mens seker bestuurders nodig en nie politici nie.

Anel ·

Wha,ha ha!!! Kyk, as lieg ‘n ongeneedlike siekte was, was hy al by sy voorvaders! Hoe dom dink die affêre is ons? Hoekom is die skole dan nog nie gebou nie? Hoekom nog wag? En die paaie? Ag, nee man.

hendrik ·

Ou Lesu wens denkery ou seun. Jy lieg so Dat jy jou self glo en dan maak jy Nogal beloftes om jou leuens te staaf, en dit voor die hele land. Ek hoop jy kan met jou gewete saam leef. Verf net jou lugkastele.

Vanessa ·

Dink hulle ons is so stupid om hul leuens te glo. Ek kan nie glo hy kan in die aand rustig slaap as hy so lieg. Sulke leuenaars hoort agter tralies, hulle maak ‘n bespotting van ons land. Dink hy werklik niemand kan sien hoe dit in Suid Afrika gaan nie. Julle is die rede dat ons land ten gronde gaan.

melaney ·

Lesufi bekommer hom glad nie aan ons nie. Ons kruisie beteken niks vir hom nie. Tel die stemme van die gepeupel, dan weet jy waarom hy hierdie beloftes maak.

Manie ·

Ek lees elders waar hy spog met die vooruitgang wat Gauteng die afgelope 30 jaar gemaak het, terwyl ek net agteruitgang bespeur. Duidelik kyk ons deur 2 verskillende brille.

Papsak ·

Sjoe hy sien ver vooruit hier nie eers geld mnr jy dink voor jy beloftes maak

Andries ·

Waar is die skole wat die gemors moes gebou het toe hy LUR van onderwys was? Nêrens want hy het blanke skole geteiken om sy onbevoegdheid weg te steek.

Theunis ·

Dink hy nou werklik dat die mense hom sal glo, na amper 30 jaar se liegstories van die CancER??

annie ·

… En Lesufi wanneer kom daai dwase man wat met ‘n vol petrolwa gaan rondry het buite sy roete en toe onder in die duikweg in Benoni vasgeval het en baie sterfes veroorsaak het, voor die hof? Hoekom beskerm Lesufi hom? Niemand het die skermunkel nog met ‘n oog gesien nie. Baie vreemd. AfriForum moet asb bietjie uitvind.

Casper ·

Ja Lefufi en toe jy wakker word toe die koffie hy is koud. E-tol sou al jare terug beeindig word maar hoe gaan SANRAL sy verplgtinge nakom.Verkiesings politiek.

Casper ·

Die trekkers wat geskenk is gaan vir hoe lank funksioneer Lefufi.Die trekkers moet herstel word en by the way hulle loop op diesel nie water nie,wie gaan die goed herstel en wie gaan diesel voorsien want die boere gaan dit vereis en gratis daarby.Kort voor lank gaan die trekkers onder bome staan en hoenderstelasies word.Nie volhoubaar nie.

Helena ·

Dream on…. Gaan hang jou plakkate in Orania…. Miskien kry jy 4000 stemme!

Santjie van Soendal ·

Blablabla….lawaaimaker wat al die geld uitmors en nog niks tot stand kon bring behalwe sy eie ego…..windmeuljagter…

Di ·

Ek weet nie of hierdie spul dink ons is ‘n klomp swape nie! Vader, die snert wat hulle kwytraak gaan my verstand te bowe. Seker net die”meerderheid” wat al hierdie leuens sal glo wat hulle kwytraak. Hy lewe duidelik in ‘n ander wereld

Johannes ·

Soos al die ANC lede maak hy lee belftes wat nooit nagekom sal of kan word nie. Kyk e toll en paaie toestand en staat hospitale

Manie ·

Di, daar is etlike miljoene dom mense in die land wat sy stories sal glo en hy en sy party weet dit. Die goedkoopste en mees effektiewe bemarking vind onder dom oningeligte mense plaas, want hulle weet nie van beter nie.

Elméne ·

Die liewe hemel weet, dat hulle nie braak van die “reuk” van die woorde wat uit hul bekke kom nie, behoort aan geteken te word as die grootste wonderwerk wat daar bestaan. Dit is al wat hierdie kamtige “regering” (anc clowns) elke liewe dag – heeldag / aldag aan Jan Publiek verkondig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.