Lesufi moet belofte oor maatskaplike dienste op skrif stel

Panyaza Lesufi. (Foto: Twitter)

ʼn Prokureursbrief wat aan die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, gerig is, dring daarop aan dat hy die besluit oor die finansiering van nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat maatskaplike dienste lewer, duidelik uiteensit en op skrif stel.

Lesufi het onlangs onderneem om die begrotingsbesnoeiing te stop en gesê dit was bloot ʼn “misverstand” dat dié NRO’s se finansiering verminder is.

Solidariteit voer egter aan dat Lesufi se woorde niks beteken vir die talle NRO’s wat maatskaplike werkers moes aflê weens die jongste begrotingsbesluit nie.

Volgens Solidariteit was die voorneme van Lesufi om die begrotingsbesluite te heroorweeg, blote oëverblindery wat, tensy dit skriftelik bevestig word, net “ʼn idealistiese voorneme bly wat weer verander kan word”.

“Dit is immers dieselfde persoon wat ʼn einde aan e-tol beloof het,” sê Bianca Smit, netwerkkoördineerder by Solidariteit.

Talle NRO’s spook die afgelope paar weke om hul deure oop te hou nadat hulle hul nuwe diensvlakooreenkomste van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling ontvang het. Dit bepaal dat ʼn groot deel van hul toelae besnoei word.

“Die skade is in sommige gevalle reeds gedaan. Verskeie NRO’s moes hulle deure sluit en talle mense moes sonder ondersteuning klaarkom. Daaraan kan die premier nou niks doen nie,” sê Smit.

“Daarom is dit van kardinale belang dat die LUR van maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, die hoof van die departement en Lesufi hul voorneme om geld so gou as moontlik uit te betaal en befondsing in die geheel te herstel, op skrif uiteensit.”

Solidariteit het Donderdag die regsbrief aan Lesufi gestuur met die hoop dat dit werksekerheid in die maatskaplike beroep sal verseker en “beskerming bied vir die behoeftigstes wat dit nie van die departement kry nie”.

“Ons eis bly staan dat die besluite oor die begrotingsbesnoeiing skriftelik teruggetrek moet word, andersins sal ons nie skroom om die saak verder te voer nie,” sê Smit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

melaney ·

Lesufi gaan cyril se voorbeeld volg. Hy gaan die brief nie beantwoord nie en later ontken dat hy ooit so brief ontvang het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.