Lesufi nie ‘geïntimideerd’ deur klagtes teen hom

Panyaza Lesufi. Foto: Twitter

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, het Maandagaand op Twitter gesê hy is nie geïntimideerd deur die talle klagtes van minagting van die Grondwet wat by die integriteitskommissaris van die Gautengse wetgewer teen hom gemaak is nie.

“Ek sit met 272 klagtes teen my omdat ek ʼn nie-rassige onderwysstelsel vir almal wil instel. Ek sal nie geïntimideer word nie, veral nie deur mense wat dink dit is ʼn oortreding van die Grondwet nie.

“Die VF Plus beweer ek teiken Afrikaners. Nie-rassigheid is die toekoms en niemand kan dit stop nie. Ek is gereed om hierdie ligsinnige en tydverkwistende aanklagtes aan te vat,” het Lesufi ge-twiet.

Philip van Staden, die VF Plus se lid van die provinsiale wetgewer, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat sy party op 21 Augustus die LUR vir minagting van die Grondwet by die integriteitskommissaris van die Gautengse wetgewer aangekla het. Die amptelike dokumentasie oor die klagtes is Maandag aan Lesufi oorhandig.

“Lesufi het artikel 29 van die Grondwet reeds soveel as 272 keer geminag. Dié betrokke artikel stel dit duidelik dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of taal van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is,” het Van Staden gesê.

Sy party het in die dokumentasie breedvoerig aangedui hoekom hulle voel Lesufi teiken Afrikaanse skole en gemeenskappe.

“Lesufi maak sedert 2014 al die verskriklikste uitsprake oor Afrikaanse skole in die media en neem aksie teen dié skole. Dit is duidelik dat hy ʼn agenda teen Afrikaanse skole het.”

Van Staden het gesê die laaste spyker wat Lesufi nou in die doodskis van Afrikaanse skole wil hamer is die voorgestelde wysiging van die toelatingsregulasie vir openbare skole wat in Julie in die Staatskoerant gepubliseer is.

“Ons glo dat as hierdie toelatingsregulasies ingestel sal word, sal geen kind in sy of haar of in enige ander taal as Engels onderrig word nie.

“Die VF Plus word nou aangekla van rassisme en dat ons van apartheid hou, maar ons veg hierdie stryd vir alle minderhede en ʼn oorwinning in hierdie geval sal ook ʼn oorwinning vir die land se ander tien tale wees.”

Hy het verder aangevoer dat Lesufi Afrikaanse skole teiken omdat hy hoër politieke ambisies het.

Van Staden het gesê hy het volle vertroue in die Gautengse integriteitskommissaris se kantoor se onafhanklikheid. “Ons is die enigste provinsie wat so ʼn kommissaris het. Dit is ook so dat ons nie ʼn vinnige antwoord op die aanklagte verwag nie aangesien sy kantoor baie besig is, maar vertrou die saak sal binne die volgende vier tot vyf maande afgehandel word.”

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Dinsdag die klagte teen Lesufi verwelkom.

“Lesufi se openlike aanslag op Afrikaanse skole maak dit vir die SOS duidelik dat sy eie politieke loopbaan vir hom van groter belang is as die welstand van Gautengse leerders,” het Elaine Krige, woordvoerder van die SOS, gesê.

Die SOS stem ook saam met Van Staden dat Lesufi sy eie verantwoordelikhede op welvarende skole probeer afskuif met regsaksies om Afrikaanse skole te dwing om Engelssprekende leerders in te neem.

“Lesufi het sedert sy inhuldiging liederlik daarin gefaal om nuwe skole te bou en gehalte-onderrig by skole in nedersettings te verseker. Eerder as om geld te spandeer om Afrikaanse skole te boelie met vrugtelose hofaansoeke, soos in die geval van die Hoërskool Overvaal, moet die LUR noodsaaklike skole-infrastruktuur in Gauteng bou,” sê Krige.

Krige benadruk ook die belang van moedertaal-onderrig, maak nie saak wat die taal nie. “Die rede waarom die slaagsyfer in baie skole in nedersettings so laag is, is juis omdat leerlinge nie in hul moedertaal skoolgaan nie. Daarom moet die LUR eerder daarop fokus om onderrig in ander Afrika-tale te bevorder, as om almal te dwing om in Engels skool te gaan.”

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het bevestig dat Lesufi die aanklagte teen hom ontvang het en dat hy mettertyd met besonderhede op die aanklagte teen hom sal reageer.

Mabona het aangevoer dat Lesufi nog nooit geïnsinueer het dat hy Afrikaans wil afskaf nie en dat insinuasies net kleinlike politiekery is wat nie ernstig opgeneem moet word nie. “Ons sal nooit afgeskrik word om al ons skole toeganklik te maak vir al ons kinders nie,” het Lesufi bygevoeg.

Indien Lesufi skuldig bevind word, moet hy sy amp as LUR en lid van die provinsiale wetgewer ontruim omdat hy dan die gedragskode van ampsbekleërs in die Gautengse wetgewer oortree het.

Van Staden wou nie in dié stadium uitbrei oor watter volgende stappe hulle sou oorweeg indien die aanklagte by die integriteitskommissaris sou slaag, of nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Martin ·

Soos ek by vorige geleenthede genoem het, hulle is bereid om hul eie taal en kultuur op te offer of om dit weg te gooi in hul poging om Afr uit te roei. Want Afr herrinner hulle aan die apartheids era. Die besluite is reeds in 1994 geneem.

Conrad ·

Lesufi, sou jy Afrikaans kon lees en verstaan, lees dan wat ek vir jou sê.

Jy hoef nie geïntimideer te voel nie. Nee, wees eerder bekommerd. Gaan kyk wat by jou skole aangaan ten opsigte van wiskunde. Daar waar graad 9’s sukkel om 4×3 te bereken sonder om strepies of vingers te gebruik. Indien hulle dit enigsins nog wìl doen. Ons praat van kinders, jou leerders, wat begrippe soos faktorisering, eksponente, vierkantswortels moet kan bereken en verstaan. Al gehoor van Pythagoras? Lesufi, ek daag jou uit om jou eie skole te besoek en dan weer te sê jy dat jy nie geïntimideerd is nie. Ek sal met jou saamstem wanneer jy sê jy nie geïntimideerd is nie maar meer as net ontsteld is dat jy skole het waar die woord leer -léér!- nie bestaan nie.

willie ·

Conrad dit is baie goed gestel, maar al kon hy lees of dan afrikaans lees hy het ñ voorop gestelde agenda en wil nie verstaan nie! Net tog so jammer dat ons geen beheer het dat ons so pateet se salaris indirek betaal nie!

Monica ·

As ek panya lesufi se naam hoor of sy foto sien, dan raak ek naar! Ek wens regtig iemand kan hom op sy plek sit….

Staat ·

Alles “staat” gaan ver engels. Aanvaar dit. Ons moet ons eie afrikaanse skole bou,soos wat Soweto gedoen het in die apartheids jare. Lagwekkend om te dink dat die regering dit reg gekry het om apartheid net om te draai. Nogal baie slinks.

1+1 ·

Het hy n onderwyskwalifikasie? Sy motiewe sal alleen deur n hof ontbloot word.

Francis Linstrom ·

Kan die man nie verstaan dat die woorde ras en taal 2 verskillende betekenisse het nie. Verduidelik asb. Vir hom dat jy nie noodwendig wit of swart hoef te wees om Afrikaans te praat nie.

Manie ·

Dit is vir my so vreemd dat alle mense wat so graag engels wil praat nie kyk na die geskiedenis waar Engeland een van die grootste onderdrukkers in afrika was.

MS ·

As al wat Lesufi probeer doen, is om ‘n “nie-rassige onderwysstelsel vir almal wil instel”, hoekom maak hy nie alle skole dubbel medium nie? Afrikaanse skole moet dan Engels OOK aanbied, skole in die nedersettings moet Engels EN watter Afrika taal hulle wil ook aanbied. So sal die Grondwet mos nie oortree word nie, maar bekragtig word aangesien almal dan in hulle moedertaal onderrig kan ontvang – geen diskriminasie teen enige ras/taal. En wat het taal met ras uit te waai in elk geval? Daar is swart mense wat beter Afrikaans kan praat as sommige wit Engelssprekende mense?

Hulle wil baklei vir hulle voorouers se land, maar hulle voel n veer vir hulle voorouers se moedertaal en kultuur. Dit is mos dubbelstandaarde, of nie?

Hoe EEN man kan besluit hoe elke liewe kind in SA onderrig moet ontvang, sonder enige navorsing oor hoe dit die kinders (akademies/sielkundig) gaan beinvloed om NIE in hul moedertaal onderrig te ontvang, daar is geen “scientific or social/economical study backing” op sy besluit nie – dis maar net SY voorkeur en ons moet dit net aanvaar. Hy sit met ‘n MBA, geen kwalifikasie wat enigsins hom ‘n kenner maak in onderrig of kinders nie. Tog is hy in beheer van ons kinders se onderrig en toekoms.

Sy arrogansie maak my naar.

Charles ·

Baie dankie VF Plus-hou so aan-looi hom!

Lank lewe ons mooiste tongval!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.