Lesufi ontken ‘geheime’ tendervergadering

Panyaza Lesufi. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, het Sondag ontken dat hy ʼn “geheime vergadering” belê het om departementele tenders te bespreek.

Dít nadat die Sondagkoerant City Press ’n opname bekom het waarin Lesufi onder meer sê dat dit sy verantwoordelikheid as LUR is om te verseker dat tenders “sy mense” tevrede stel.

Luidens die berig kan daar in die betrokke opname gehoor word hoe die LUR tydens ’n vergadering aan sy span sê dat amptenare daarvan seker moet maak dat hulle betyds hoor wanneer beheerliggame tenders adverteer.

Lesufi sê egter nou by monde van sy departement dat dié opname doelbewus gemanipuleer is om sy reputasie skade te berokken.

Die Gautengse departement van onderwys sê in ’n verklaring die betrokke vergadering het reeds in Mei verlede jaar plaasgevind. Die vergadering was volgens die departement hoegenaamd nie ’n geheime vergadering oor tenders nie.

“Die LUR het ʼn uitnodiging van die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie (Sanco) en besorgde burgers ontvang om tydens ’n gemeenskapsvergadering te praat nadat ʼn skool in Soshanguve maande lank sonder elektrisiteit gesit het. Plaaslike kontrakteurs het die projek (die herstel van die skool se elektrisiteit) gestaak en geëis dat hulle aangestel word om die herstelwerk uit te voer.”

Luidens die verklaring het Lesufi op die vergadering aan die aanwesiges, onder wie skoolbeheerliggame, skoolhoofde en sakeforums, verduidelik hoe kontrakte in die regering oor die algemeen geadverteer en beoordeel word.

Die LUR het glo ook diegene teenwoordig op ’n toer op die skoolterrein geneem om vir hulle die dringende behoefte aan herstelwerk te wys.

“Waarom sou ʼn toer van die skoolterrein gereël word as die vergadering ’n ‘geheim’ was? Dit was ná hierdie vergadering dat die elektrisiteit by die skool herstel is en die herstelwerk toegelaat is,” sê die departement in die verklaring.

Die departement sê die bewerings dat dit ’n geheime vergadering was, is dus ongegrond.

“Dit is jammer dat daar met die opname wat versprei word gepeuter is en dat dit ernstig gemanipuleer is, aangesien dit die begin van die genoemde vergadering doelbewus uitsluit, waar die doel van die sessie breedvoerig uiteengesit is. Die gemanipuleerde klankopname bevat slegs gedeeltes waar die LUR op vrae gereageer het wat deur lede van die gemeenskap geopper is.”

Luidens die verklaring het die LUR aangedui dat aan skole onder meer begrotings toegeken word vir kos en die skoonmaak van fasiliteite. Die LUR het verder aangedui dat enigiemand wat hierdie sowel as ander dienste wil verrig, welkom is om die skoolbeheerliggame te nader en sulke voorstelle in te dien.

“Die LUR het hoegenaamd nie enige persoon aan hom bekend of nie, aan diensverskaffers bekendgestel nie. Hy het wel lede van die gemeenskap versoek om deur die leier van Sanco te werk wat die vergadering gekoördineer het.

“Die LUR is van mening dat die stemopname wat versprei word, bedoel is om sy reputasie skade te berokken en ʼn persepsie van vooroordeel teenoor spesifieke mense en/of hul ondernemings te skep. Die LUR verwerp dit met die minagting wat dit verdien en wil die mense en spesifiek kontrakteurs van Gauteng verseker dat die departement ʼn regverdige en deursigtige proses volg om werk aan gekontrakteerde diensverskaffers toe te ken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alta Alleman

Ja en die maan is groen.

Persheks Adri

Watter reputasie huh? Die swak 1 waarvan ons almal bewus is. Dis jou eie skuld, want swak bly swak pffft

Tom

Waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie.

Snowball

Net nog ‘n ANC lafaard met ‘n gevurkte tong. Gedurig aan’t roei teen Afrikaanse skole. “Regverdig en deursigtig” se watsenaam.

Sarel

Nie gedink hy sal erken.nie..Snaaks dat hy daarop reageer en.nie weer een of ander raskaart uithaal nir