Lesufi rep geen verdere woord oor e-tol

(Foto: Outa)

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, moet dit duidelik maak presies wanneer e-tolhekke afgeskakel gaan word, sê Solly Msimanga, die DA se provinsiale leier en premierskandidaat vir Gauteng.

Die premier het verlede maand tydens sy provinsiale rede aangedui dat e-tolhekke teen die einde van vandeesmaand gedeaktiveer sal word.

Vir dít om te gebeur, moet die deaktivering van e-tolhekke egter 14 dae voor die voorgestelde datum in die Staatskoerant gepubliseer word. “Dit het nog nie gebeur nie,” wys Msimanga daarop.

Msimanga sê dit wil voorkom of e-tol hier is om vir die afsienbare toekoms te bly “en dat Lesufi nes sy voorganger David Makhura nog ʼn leë belofte gemaak het”.

Die DA se premierskandidaat wys dan daarop dat sou e-tolhekke nie op 31 Maart 2024 afgeskakel word nie, motoriste steeds vir hierdie ongewenste stelsel gefaktureer sal word. Dit terwyl die regering deeglik bewus is daarvan dat Gautengers nie kan bekostig om vir e-tol te betaal nie.

Die huidige gedeelte van Gauteng se e-tolskuld sal boonop aanhou toeneem “en tot dusver het die provinsie nie ʼn manier om vir sy gedeelte van die huidige skuld te betaal nie”, sê Msimanga.

Maroela Media het vroeër berig die Gautengse provinsiale regering het aldus Lesufi ingestem om R12 miljard aan Sanral se e-tol-skuld te betaal om die saak te finaliseer.

Dit nadat Lesufi in Januarie verlede jaar aangekondig het dat R6,9 miljard terugbetaal sal word aan diegene wat e-tol betaal het, ʼn stelling wat hy sedertdien teruggetrek het.

Msimanga sê die voortslepende onduidelikheid rondom die toekoms van e-tol is tipies van die huidige administrasie. “Hierdie ongewenste stelsel van e-tol is op die inwoners van hierdie provinsie afgedwing en word weer eens as ʼn verkiesingsfoefie vir stemme gebruik”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Grassie ·

Die e-tolhekke is ‘n tameletjie wat die regering nie kan hanteer nie. Ek vermoed hulle het borg gestaan vir sekere van die lenings wat aangegaan is en as die spul nou tot niet gemaak word sal hulle moet opdok. Dit is egter groot bedrae en hulle kan dit nie bekostig nie.

Kobus ·

Die vraag is, wat het geword van die geld wat reeds deur padgebruikers betaal is? Dit moes tog al van die skuld gedelg het.

Kokerboom ·

Lesufi is ‘n nar wie se rassisme onderrok ver uithang. Kan nie aan iets positief dink wat die kader al verrig het!

Michael ·

Die man het geen skaamte of enige gewete nie sy enigste doel wat hy navolg is sy haat teen wit minderhede, en dit is hoekom hy aanhoudend fouteer.

Manie ·

Hy het ‘n vier jaar graad agter die rug. 4 Jaar agterop sy ma se rug.

JohanR ·

Moet jy nog betaal? Ek weet my broer vanaf die eerste dag het geweier om ‘n pennie te betaal, en het ook nog nie! Ek weet as jy ‘n kar huur werk die beep nie meer as jy onder ‘n boom ry.

Andries ·

Waar is die skole wat hy moes gebou het? Maar hy het eerder gekonsentreer om afrikaanse skole te teiken. Nou weer met E-Tol. Gaan soos ‘n nar tekere op die verhoog, groot beplanning, groot lugkastele waarvan permanent niks kom nie.

J. J. ·

Leuns soos gewoonlik, en niemand sal iets omtrent dit doen nie. Waar is die oppososie partye, waarom is almal nou so stil? Outa, wat gebeur?

Jeanette ·

Hulle moet nie net die oorhoofse E-tol tot ‘n einde bring nie, die gewone tolhekke ook. Hulle maak biljarde rande maandeliks van al die inkomste uit daai tolhekke. Hoekom moet net ons in Gauteng betaal en sekere ander dorpe het niks etol hekke nie.

Koen ·

Kan dit nie glo dat hier sommiges is wat nie weet wat met die betalings gebeur het nie. Net soos die “beleggers” in LL se skema. Dis weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.