Lesufi sê oor Parktown Boys High

Parktown Boys High School (Foto: Google Maps Street View)

Die Gautengse departement van onderwys het Vrydag gesê hy neem met kommer kennis oor onakkurate berigte oor Parktown Boys High School in Johannesburg.

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys, se kantoor het in ʼn verklaring gesê aldus mediaberigte is daar steeds onderwysers, wat van ernstige wangedrag aangekla word, by die skool.

Vier onderwysers het hulleself na bewering skuldig gemaak aan wangedrag in die vorm van onbehoorlike rasgedrewe taalgebruik.

“Van die vier onderwysers is twee onderwysers aangestel deur die skool se beheerliggaam en twee deur die departement. Die skoolbeheerliggaam het dadelik opgetree nadat die departement hulle in kennis gestel het. Die twee onderwysers, wat deur die beheerliggaam aangestel is, is nie meer by die skool werksaam nie.”

Die twee departementele onderwysers is aangekla en het ’n voorverhoor bygewoon. Die verhoor is vir 30 Mei 2018 geskeduleer, maar kon nie voortgaan nie, omdat die getuies (leerders) nie teenwoordig was nie en hul ouers wou nie hul identiteit aan die verteenwoordigers bekend maak nie. Ouers van die leerders, wat moet getuig, het gesê die leerders word geïntimideer en hulle het gevolglik geweier dat die leerders getuig. Die ouers het aangedui dat hulle hul prokureurs hieroor konsulteer. “Parktown Boys High School en die skoolbeheerliggaam het geen bewyse van enige beweerde intimidasie of viktimisasie nie,” aldus die departement.

Briewe om die twee departementele leiers na die distrik oor te plaas, is reeds voorberei. “Sodra die verteenwoordigers van die onderwysers ontvangs erken, sal die departement ’n beslissing maak. Onder normale omstandighede mag ’n onderwyser, wat dissiplinêr verhoor word, oorgeplaas word, as daar voldoende bewyse is van viktimisasie of inmenging met die getuies, soos in hierdie geval beweer word. Dit is belangrik dat die leerders toegelaat moet word om te getuig sodat hulle hul bewyse kan bied.”

Die departement is ook bewus van ’n strafregtelike saak teen ’n onderwyser wat na bewering een van die leerders in Maart geklap het. Dié onderwyser is steeds by die skool en word dissiplinêr verhoor. Die uitslag sal bepaal watter stappe gedoen word, het Lesufi se kantoor bygevoeg.

Sommige van die ouers het ook gekla dat hulle nie regverdig behandel is tydens die ondersoek nie, en die dokumente vir hersiening wat aan die LUR oorhandig is, dateer terug tot 1985 met ’n sogenaamde waterpolo-voorval. “Die departement het ’n regsfirma aangestel om ’n onafhanklike hersiening te doen van alle sake wat by die skool aangemeld is, nie net die klagtes wat ’n groep besorgde ouers ingedien het nie.”

Die departement het ook die aanstelling van ’n nuwe skoolhoof, Malcolm Williams, aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Bewerings moet deeglik ondersoek word. Daar was al gevalle in die verlede wat berus het op onwaar getuienis. Maar waar daar werklik growwe onprofessionele van enige aard was, moet daar streng opgetree word….

Bewyse krities ·

As raskaarttrekkers nie met bewyse vorendag kan kom nie moet hulle van naamskending en meer aangekla word want hulle veroorsaak dat valsbeskuldigde mense geintimideer deur die publiek word en hulle inkomste verloor.

Lerato ·

Onderwysers en polisie leef in n wêreld waar elke aksie dop gehou word.

Geen wonder dat skole sukkel om gepaste onderwysers te kry. Uit noodweer stel skole selfs matriek leerling aan as leerder onderwysers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.