Lesufi se ‘private weermag’ is ‘gevaar vir hulself, inwoners’

Panyaza Lesufi, Gautengse prmier. (Foto: GPG/X)

ActionSA sê die duisende misdaadbestryders wat ingevolge ʼn program van Gautengse premier Panyaza Lesufi ontplooi is om die provinsie te help beveilig, hou ʼn gevaar in vir nie net hulself nie, maar ook vir Gautengers en moet dus ontbind word.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het vandeesweek toestemming gegee dat die beamptes as vredesbeamptes, ingevolge die Strafproseswet, afgevaardig mag word. Die minister is by magte om dié status toe te ken.

Volgens die departement is ʼn deeglike ontleding van die tersaaklike wetlike raamwerk gedoen en daar is bepaal dat vir die Gauteng-misdaadbestryders om die magte van vredesbeamptes op te neem, moet hulle dieselfde wetlike status as Gautengse verkeersbeamptes ontvang.

Funzi Ngobeni, voorsitter van ActionSA in Gauteng, sê die stap is gedoen om die misdaadbestryders se “teenwoordigheid in ons gemeenskap te regverdig, ondanks hul onbevoegdheid”.

“Dit is nie net roekeloos nie, maar ook ʼn absolute verontagsaming van die veiligheid van nie net die beamptes nie, maar ook van die inwoners van Gauteng; onvoldoende opgeleide mense is onregmatig gemagtig om gemeenskappe te beskerm.”

Die beamptes, wat informeel AmaPanyaza gedoop is, het uit die staanspoor die wind van voor gekry, onder meer oor hul opleiding en rol. EWN het Woensdag boonop berig dat beëdigde verklarings wat dié beamptes, kwansuis as kommissarisse van ede by Gautengse polisiestasies onderteken het, ongeldig is.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, het aangedui dat die AmaPanyaza nie hierdie magte het nie.

Ngobeni sê talle bewyse dui daarop dat die program gebruik word as ʼn stemwerwingsprojek wat Lesufi en die regerende party gebruik om stemme voor die komende verkiesing te wen.

Verlede week is berig dat die misdaadbestryders sedert Mei vanjaar in 22 splinternuwe BMW’s in ongelukke betrokke was. Mawela het ook gesê dat die beamptes geen magte het om take wat aan die polisie gedelegeer is, uit te voer nie.

Ngobeni sê ActionSA het reeds aan die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) geskryf om die ganse projek te ondersoek.

“Ons glo deur die totstandkoming en bedryf van hierdie onwettige projek het die Gautengse premier hom skuldig gemaak aan ernstige wanpraktyke of wanbestuur wat betref die administrasie van staatsinstellings, staatsbates en openbare geld.”

Ngobeni waarsku ook dat beperkte hulpbronne, en die “oorverpolitisering” van die polisie wetstoepassingsagentskappe se vermoë om misdaad proaktief te verhoed en daarop te reageer, verhinder.

“ActionSA gaan polisiëring in Gauteng depolitiseer. Ons gaan ons polisiëringskapasiteit herbou omdat misdadigers in vrees moet leef, nie wetsgehoorsame burgers nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die “misdaadbestryders” se rol sal na die verkiesing duideliker wees.

Bolandse Nooi ·

Maar hulle weier om die ou kommando-stelsel weer toe te laat?

Sean ·

Hulle ry heel dag op en af met die nuwe Bmw’s en ek sien hulle gebruik die karre as persoonlikke voertuie in Randfontein

Stephen ·

Die grootste probleem met hierdie mense is die verwagte misplaaste magsmisbruik, wat hulleself sal toeeien, in veral hulle optrede teen blankes. Hou maar hierdie spasie dop. Ons het dit ook gesien in gevalle waar die Weermag ontplooi word.

domheks ·

En al die mense het seker vuurwapen lisensies en KAN WAPENS hanteer?

J. J. ·

Die regering van die dagtree op net soos Mogabe se regering van destyds, hulle moet help om oorwinning in die verkiesing te verseker. Ons kommunistiese stelsel begin nou al hoe meer op dreef kom. Wees wakker en kyk mooi na julself.

George ·

een van die moet my probeer keer of stop of se hulle is die reg. Nee wat, julle kan ook maar loop sit.

Kortbroek en plakkies ·

Ek is na skool na die ou Gevangenisdiens toe. Ses maande bloed gesweet op Kroonstad kollege, klas geloop, PT gedoen, en toe uitpasseer nadat ek bevoeg verklaar is. Deesdae is alles soos kits restaurante en die kwaliteit is nie meer daar nie. Vandag nog as ek ‘n vuurwapen optel onthou ek die instrukteurs se woorde oor wapenveiligheid wat ingedril en somtyds ingeslaan was as jy nou rerig opneuk.

Louwrens ·

Ja Kortbroek en plakkies, een van jou PTI’s was n sekere Rautenbach met sulke blou oë. Afgesien van dit, ek het ook ses maande bloed gesweet in Pta SAP kollege. Nou wil hulle die sop uitwerpsels vredesbeamptes maak. Kom try vir my julle kadette, daar gaan meer as bloed snot en trane loop . . .

Papsak ·

Ja nee kyk hulle is n gevaar vir hulle self bring ons ou kommando stelsel terug ek stem ons weet wat ons doen maar hulle definitief nie !!!!!!!

Jacobus ·

Hierdie is net om stemme te werf met belastingbetaler geld. Sal sien wat het volgende jaar hierdie tyd geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.