Lesufi skerp gekritiseer oor ‘enkelmedium’-uitlatings

panyaza-lesufi

Panyaza Lesufi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, is skerp gekritiseer ná uitsprake dat Suid-Afrika nie meer plek het vir enkelmediumskole nie.

Die VF Plus in Gauteng het gesê Lesufi moet ophou om Afrikaanse skole in die provinsie met swepe te slaan.

Dit volg op die jongste voorval waar Lesufi die Laerskool Danie Malan in Pretoria-Noord aanvat in die media en sosiale media oor die skool se taalbeleid. Philip van Staden, die VF Plus se LPW in Gauteng, het gesê Lesufi is “moedswillig met sy politieke agenda wat hy op skole wil afdwing en dat hy deurgaans sekere skole uitsonder en van hulle sondaars probeer maak om sy eie foute toe te smeer”.

Van Staden meen Lesufi verstaan nie wat in die Grondwet staan nie. “Dit is dat elke taalgroep in hierdie land die reg het om in sy eie moedertaal onderrig te word. Die VF Plus wil graag weet waar Afrikaanse leerders dan heen moet gaan as hulle nie skole in hul eie gemeenskappe mag bywoon om in Afrikaans onderrig te word nie?

“Die LUR se uitsprake is ʼn absolute gekheid. Lesufi is bewus daarvan dat Gauteng tans te min skole vir te veel leerders het. Hy sal moet begin verduidelik waarom daar nie skole in Gauteng gebou word nie, al is daar begroot daarvoor. Waarheen moet Afrikaanse leerders gaan as ʼn skool te vol is? Hulle kan tog sekerlik nie uit die skool gehaal word en nie ʼn opvoeding kry nie? Lesufi is besig met ʼn heksejag teen skole in die provinsie wat wel goed presteer en funksioneer om sodoende sy eie laksheid en swak bestuur toe te smeer.”

Intussen het die burgerregte-organisasie AfriForum laat hoor Lesufi het onder meer verklaar dat daar in dié land nie meer plek is vir enkelmediumskole nie (tensy hulle natuurlik Engels is) en dat Laerskool Danie Malan formeel ondersoek word ná klagtes dat “daar te veel Afrikaanse klasse is”.

Volgens Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder van onderwys, dui dié uitlatings op onkunde oor die waarde van moedertaalonderrig. “Dit is verder duidelik dat die gehalte-onderrig wat skole aanbied geen oomblik ’n rol in die onderwysowerhede se beplanning speel nie, maar alleen die afdwing van die nasionale rasdemografie op alle terreine – ook op skole op plaaslike vlak.”

Sy skryf die probleem met leerders wat nie deur Gautengse skole gehuisves kan word nie direk aan die wanprestasie van die LUR en sy departement toe. “Daar is reeds ʼn tekort aan 195 skole in die provinsie,” sê Bloem.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling en taalkwessies, sê die onderwysowerhede se toenemende diskriminasie teen leerders se taalregte en die speel van die raskaart om hul wanadministrasie te probeer toesmeer, is kwessies wat AfriForum tans onder die aandag van die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede bring.

“Suid-Afrika is een van die lande met die grootste onderwysbegroting ter wêreld. Met ’n geraamde 80% disfunksionele skole, dalende geletterdheidsvlakke, al meer kinders wat nie geplaas kan word nie, druk op funksionele skole om hul onderriggehalte in gedrang te bring deur al groter klasse in te neem en selfs lewensgevaarlike toiletfasiliteite – soos die ondersoek na Michael Komape se dood tans bewys – is dit egter duidelik dat die begroting weens disfunksionaliteit in bodemlose putte verdwyn.

“Ons kan nie langer duld dat ons jeug se toekoms so gesteel word en die verantwoordelikes soos Lesufi agter ideologiese rasseretoriek skuil nie. Ons sal hom en sy kollegas sowel plaaslik as voor die internasionale gemeenskap tot verantwoording roep,” het Bailey bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Nakkie ·

Tans is daar kinders in Daspoort wat in geen skool naby hulle geplaas is vir graad 8 nie, omdat die skole te vol is. Hulle moet kilometers stap want hul het nie motors nie. En die Engelse kinders is geplaas in daardie Afrikaanse skool. So wat word nou van hulle?

Penellope Jones ·

Het ook nie plek vir regeringsamptenare wat alles verongeluk en vernietig nie.

Leahim ·

Die ou het nog nooit sin gemaak n leerling is geregtig op onderwys .Die ouers betaal vir die onderwys het hy gedink wat gaan gebeur as die ouers nie meer betaal oor hulle swak diens kry gaan hy die kinders uitskop het die staat geld om dan die leemte te vul? maak n voorbeeld van een skool en kyk hoe wysig hy sy eenvoudige uitsprake.

Penellope Jones ·

Nog minder plek vir regeringsamptenare wat alles verongeluk, verniel en vernietig.

Hedter ·

Hy ontwrig weer alles dinge raak nou beter dan kom dit vader weet?? kyk voorentoe en maak dinge beter man asb?

Bella van Zyl ·

Ons sit met kinders wat glad nie meer kan dink nie…te vol sillabusse,te min tyd,te groot klasse,ongemotiveerde kinders,lui kinders,swak dissipline…in 90% van skole?

Johan ·

Die man het net een agenda en dit is afrikaans moet uit punt.

andrea van vuren ·

Ons ouers met kinders wat geregtig is op onderrig in hul moedertaal, moet maak soos Zimbabwe. Skop die onbevoegde arrogante man uit! Plaas iemand met deernis en intelligensie in sy plek!

Maria Marais ·

Ek sien hul praat hier van sy uitsprake wat hy maak oor onkundigheid….REGTIG nou hoekom is hy in so pos. Lyk my mense is in poste gesit waarin hul glad nie hoort nie en dit die top poste van die land…dit is n skande en dan wil hy sy mond kom uitspoel oor dinge waarvan hy geen benul het nie…die man moet terug gaan “skool” toe en gaan leer die dinge wat hy moet weet en intussin sit mense in top poste wat gekwalifiseer is en kennis het en nie onkundig is nie

PJC ·

Ouers van afrikaanse kinders moet nou ernstig begin dink aan alternatiewe skole vir hulle kinders sodat hulle kan ophou om die nie-betalers wat tans hulle skole oorstroom te subsidieer.

Lola ·

Se ek ook! Daar is baie baie Afrikaanse privaat skole en dit gaan net meer word en nie noodwendig duurder as ‘n staats skool nie. Maar ek wonder wie gaan almal vir onderwys swot volgende jaar? Maar die LUR het seker ‘n slim antwoord daarvoor ook.

Zelda ·

Hoekom gaan almal nie in hulle eie woonbuurte na hulle skool toe nie. Daar is so veel skole in hulle woonbuurte maar almal is leeg en geplunder. En wat help dit dat ons wat in gauteng is online moet regestreur. Maar die skool reg oorkant jou huis is vol en hulle het nie plek nie. Want al die ander word met taxis aan gery van ver. Hoe word die wat verbly geplaas en ons wat oorkant n skool bly het nie eers plek vir ons kinders nie

Francois ·

Hier in die Kaap is daar nog baie uitstekende Afrikaans-medium skole, en ons kinders presteer uitsonderlik. Hier weet ons hoe om dié Lesufi-tipes se sake te werk.

jaco ·

As hy wit Afrikaanssprekendes dan tot in alle ewigheid wil terugkry vir Apartheid moet hy seker maar aangaan, maar dink hy ooit daaraan dat sy aksies teen Afrikaans ook teen Afrikaanssprekende kleurlinge diskrimineer? Kleurlinge was tog immers net soos Lesufi se eie rasgroep., slagoffers van Apartheid.

Eish ·

Vat die kameraad hof toe sodat hy soveel tyd in litigasie deurbring dat hy nie tyd het om sy portefeulje verder op te dons nie.

Oënskynlike toesmeer ·

Kan die agbare Mnr Lesufi dalk versoek word om te verduidelik waar is die ‘ten minste twee skole per jaar’ wat die destydse nuwe regering onderneem het om te bou sedert 1994? Kan die huidige regering nie hiervoor ‘aangekla’ word nie, aangesien dit – sover my kennis strek, maar ek mag verkeerd wees – deel van ‘n destydse formele ooreenkoms was? Geen skole gebou = ‘kontrakbreuk’. Maar aangesien die mense so goed is met afbreek, verbaas dit my geensins nie.

Nico Pienaar ·

Vertel hierdie man hy moet boetjie die onlangse geskiedenis (laaste 20 jaar) gaan oplees oor onderwys in Mpumalanga. DD Mabuza het ook sulke dinge oor gelde aan “Model C” skole sg. Blanke skole, probeer. Fedsas en die konstitusionele Hof het hom verplig om ‘n U draai te maak. die gelde moes maar betaal word. Hierdie LUR is ook nie verhewe bo die reg nie.

Pieter ·

As Lesufi of sy department by ‘n skool aankom wat hy teiken oor sy balante vooroordeel teen Afrikaans, gee hom ‘n koppie koffie, maar verduidelik vir hom dat hy nie welkom is nie en asb moet loop. Vir solank as wat ons konstitusie moedertaalonderrig beskerm, kan hy dalk in die hof verloor.

Basjan ·

Ek is 100% ten gunste van Afrikaanse privaatskole. Betaal eerder vir goeie onderwys na ‘n privaat instansie en onttrek my geld wat andersins na die staats koffers sou gaan.

Koos ·

Dit is tog logies dat as die man eentalige skole wil afskaf, hy alle Engels-eentalige skole ook gaan omskep in meertalige skole?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.