Lesufi: ‘Voedingsgebiede vir Gautengse skole sal vergroot word’

lesufi-deur-ana-2019-03-11

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys. Foto: ANA.

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, het die goedkeuring van verskeie nuwe skoleregulasies in die provinsie aangekondig.

Een daarvan is dat die radius van skole se voedingsgebied voortaan van 5 km na 30 km vergroot is.

Die aankondiging is Sondag tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg gemaak waar Lesufi gesê het talle nuwe regulasies vir die toelating tot openbare skole is goedgekeur. Dié regulasies sal in die Staatskoerant geplaas word en binnekort op die departement se webwerf verskyn.

“Skole sal nou aan almal behoort. In gewone Engels beteken dit: Voortaan kan jy aansoek doen by enige skool van jou keuse ondanks die ligging van die skool of die taal waarin onderrig daar plaasvind, selfs as jy werk het of werkloos is, ryk of arm is,” het Lesufi reeds vroeër hieroor getwiet.

Die verandering sluit glo in dat die departementshoof van die onderwysdepartement nou verantwoordelik is vir die toelating en plasing van leerders in alle gewone openbare skole in Gauteng. Die taak kan ook aan ʼn streeksdirekteur gedelegeer word.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het Maandag gesê hy beskou die aankondigings as opportunisties.

“Dit sal onverantwoordelik wees van enigiemand, self die LUR, om ʼn ophef te maak oor nuwe skoleregulasies voor ons die amptelik gepubliseerde weergawe onder oë gehad het.

“Fedsas het insette gelewer met die vorige ronde kommentaar wat oor die voorgestelde skoleregulasieveranderinge in Gauteng ingewin is. Dit sal nou belangrik wees om te sien hoeveel van daardie insette gebruik is voordat ons weer kommentaar lewer.”

Carien Bloem, AfriForum se onderwyskoördineerder, het gesê die burgerregte-organisasie is ongelukkig dat van die skoleregulasies wel goedgekeur is ondanks duisende kommentare wat dit teengestaan het.

“Elke kind het die reg op onderwys, maar as kinders in skole geplaas word waar hulle nie die medium van onderrig verstaan nie, gaan dit ekstra druk op skole plaas om onderwysers te verskaf wat in die leerders se taal kan klasgee.

“Die onderwysdepartement begroot jare lank nie meer vir bykomende onderwysposte nie; inteendeel, hulle verminder poste. Die beheerliggame moet dan vir hierdie bykomende poste voorsien, wat bykomende druk op ʼn skolegemeenskap en sy ouers plaas.”

Lesufi het tydens die mediakonferensie ook gesê ouers sal nou nie meer gedwing word om hulle kinders in onderpresterende skole te plaas nie net omdat dit die naaste skool is. Hy het verder gesê onderpresterende skole sal nou hulle sokkies moet optrek om leerders te lok en elke skool sal gegradeer word sodat ouers weet wanneer hulle aansoek om toelating doen of dit ʼn goeie skool is of nie.

In reaksie hierop het Bloem gesê skole is klaar van kwintiel een tot vyf gegradeer.

“Wie se skuld is dit in elk geval as skole nie presteer nie? Dit is die departement se verantwoordelikheid om die nodige aandag aan skole se infrastruktuur te gee en genoegsame onderwysers, finansiering en hulpbronne aan skole te verskaf.

“Gaan kyk gerus, skole wat op standaard is, word deurlopend deur beheerliggame en finansiering van buite gedra.

“Taal, velkleur of geloof bepaal beslis ook nie of ʼn skool disfunksioneel is, of nie,” het Bloem bygevoeg.

Melanie Buys, ontwikkelingshoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), meen Lesufi beskuldig oorvol Afrikaanse skole vir die gebrek aan toegang tot skole in die provinsie, maar swyg oor die aantal disfunksionele skole wat leegstaan. Boonop word daar ook te min nuwe skole in die provinsie gebou.

“Eerder as om oorvol skole te dwing om meer leerders in te neem deur die voedingsgebied na 30 km te vergroot, moet disfunksionele skole reggeruk word. Lesufi vergeet dat dit al 25 jaar lank sy party se verantwoordelikheid is om belastinggeld te gebruik om toegang tot gehalte-onderrig te verseker.

“Verder praat die LUR van ‘toegang tot onderrig en kultuur … vir almal’. ʼn Leerkultuur, goeie eerlike bestuur, ouerbetrokkenheid en toegewyde onderwysers is inderdaad aspekte wat sekere skole suksesvol maak, maar gemeenskappe moet self daardie kultuur in hulle skole skep,” het Buys gesê.

Lesufi het ook Sondag die belangrikheid van gemeenskapsbesit en ouerbetrokkenheid beklemtoon. “Maar hy wil juis beheerliggame se magte beperk deur mag te sentraliseer in sy eie kantoor. Ouers kan ook kwalik deel vorm van ʼn skoolgemeenskap as hulle 30 km van die skool af woon,” het Buys bygevoeg.

Bloem het gesê AfriForum het met die vorige ronde kommentaar oor die voorgestelde skoleregulasies regsmening ingewin en sal nou weer daardeur werk om te bepaal watter verdere stappe gedoen kan word.

Die SOS het ouers intussen aangemoedig om flink op te tree en voornemende gr. 1- en gr. 8-leerders vir 2020 betyds in te skryf wanneer die Gautengse onderwysdepartement se aanlyn registrasieproses vir die leerders open.

Na verwagting sal dit in Mei wees, maar die datum is nog nie amptelik bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

Ek neem aan hy gaan die vervoerkoste ook dra, of gaan die kinders daar sit en wag tot die ouers wie weet watter tyd van die werk af kom?
En gaan hy ook bydrae vir die ekstra engelse klasse wat nou by die skole oopgemaak moet word?
Nee hy het nog nie daaraan gedink nie. Die skole sal maar die duur prys betaal.

Afrikaner

Lesufie het mos, veral seker so die afgelope twee jaar, oorlog teen Afrikaans verklaar en as hy hier nie sy sin kry nie, gaan hy die tande net nog dieper inslaan.

D B

Net nog ‘n manier om Afrikaanse skole wat werk te melk i.p.v. om eintlik sy werk te doen. So val alles wat wel nog werk in hierdie land.

m.d.r.

Soos AmY hierbo tereg opmerk dat Lesufi nognie die vervoer probleem oorweeg het nie—as ‘n leerder 30 km vanaf sy skool woon beteken dit ‘n heenrit van 60 km per skooldag….
En wat an Huiswerk of sport ….?
Hierdie man is beslis nie skerpste potlood in die pakkie nie…….of dalkies het hy vir hom ‘n paar taxis aangeskaf vir leerling vervoer,,,,,!!

BlinkStephaans

Julle weet julle kan nou maar raas en blaas en op en af spring… maar die kêrel sal sy wette deurstoot maak nie saak hoeveel insette daar was. Hy sal nie rus voor elke liewe skool disfunksioneel is. Maak maar liewer jul eie planne om jul kinders te onderrig… ñ plan wat nie die staat insluit… ek dink nie daar is regtig ñ ander uitweg. Voorbeelde van voorheen top skole wat besig is om agteruit te gaan is op elke dorp.