Lesufi waarsku ‘haters van onderwystransformasie’

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, oorhandig ‘n 100 000 kommentare aan die bestuur van die basiese onderwysdepartement. Foto: Lize-Mari Labuschagne.

Die vakbond Solidariteit en Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Maandagoggend 100 000 formele kommentaarstukke op die wysigingswetsontwerp op die wet op basiese onderwys aan die onderwysdepartement in Pretoria oorhandig.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het tydens die oorhandiging aan Maroela Media gesê die rekordtyd waarin die groot aantal besware en algemene kommentare op die wysigingswetsontwerp ingesamel is, is ʼn aanduiding van hoe sterk die mense oor die voorgestelde wysigings voel.

“Die topbestuur van die departement van basiese onderwys het ons kommentare ontvang en onderneem om verder met ons in gesprek hieroor te tree. Dit is duidelik daar heers groot kommer in die gemeenskap oor die implementering van dié wysigingswetsontwerp. Ons wil seker maak die onderwysdepartement ontvang die publiek se kommentaar en herbesin oor die wysigings,” het hy gesê.

Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, het terselfdertyd in ʼn skerp bewoorde mediaverklaring Maandag gewaarsku dat die “haters van transformasie in onderwys” nie sy geduld moet toets nie.

“Dit is duidelik dat diegene wat voordeel getrek het uit die oorblyfsels van segregasie en kolonialisme ten koste van die meerderheid, steeds vasbeslote is om mense uit te sluit van toegang tot gehalte-onderwys. Die ontstellende geraas teen hierdie wysigingswetsontwerp is ʼn bewys dat mense hierdie voordele uitsluitlik vir hulleself wil behou.”

Lesufi het aangevoer die wysigingswetsontwerp wil die oorblyfsels van apartheidsonderwys nou vir altyd begrawe. Hy het gesê die land kan nie meer enkelmedium skole bekostig nie omdat daar te groot vraag na onderwys is.

“Dit is onrusbarend vir die leierskap in die basiese onderwyssektor dat die meerderheid, tot soveel as 80%, van leerders by vorige model C skole reeds swart is terwyl die onderwyspersoneel steeds wit is.

“Ons is ook uiters verbaas oor die teenkanting van hersiening van die bevoegdhede van skoolbeheerliggame. Ons mense het hulle ernstige kommer uitgespreek oor die gedrag van sommige beheerliggame, veral oor die aanstelling van senior bestuurders van skole, asook die bestuur van skole se finansies.

“Beheerliggame en sommige skoolbestuurspanne misbruik openbare hulpbronne en beheer toegang tot gehalte onderwys met hemelhoë skoolgelde, vandaar hierdie wysigings,” het Lesufi gesê.

Slegs ‘n tiende van die kommentare wat oor die wysigingswetsontwerp gelewer is sou in hierdie bokse pas. Foto: Lize-Mari Labuschagne.

Volgens Buys bevestig Lesufi se uitlatings in dié verklaring net sy mening dat ʼn politieke agenda met die wysigings gedryf word eerder as ʼn opvoedkundige agenda wat onderwys wil verbeter.

“Die wysigingswetsontwerp sal beslis nie skole verbeter nie ons sit ongelukkig met te veel voorbeelde wat bewys dat hoe groter die staat se beheer in ʼn instelling hoe swakker vaar dit. Ek moet ongelukkig hier saamstem met die mense wat dit ʼn deursigtige projek noem om openbare skole te kaap en selfs te nasionaliseer tot staatskole, wat beteken dit gaan net die pad van anders staatinstellings volg.”

Buys meen daar is tans genoeg stelsels beskikbaar om die enkele gevalle van wanbestuur by skole hok te slaan.

“Die probleem in hierdie geval is nie top- presterende skole, of selfs wan- presterende skole nie, die werklike probleem is die regering se ooglopende poging om die demokratiese reg van ouers weg te neem.

“Ons hou tans alle opsies oop en sal graag in ʼn gesprek met die owerhede oor die voorgestelde wysigings wil tree, maar ons hou ook ons regsopsies oop en sal nie huiwer om beheerliggame en ouers te help om hulle regte in die howe te verdedig nie.

“Die openbare deelnameproses is nou verby. Ons glo daar is ʼn goeie kans dat die wysigingswetsontwerp teruggestuur sal moet word vir aanpassings ná die groot hoeveelheid klagtes wat ons ingedien het. Indien dit egter wel ingestel word, sal Solidariteit begin met ʼn litigasieproses om die wetgewing ongrondwetlik te laat verklaar.

“So ʼn hofsaak neem egter baie lank en daarom werk die vakbond saam met die SOS om skole met inligting te bemagtig oor privatisering. Alle openbare skole en selfs tuisonderrig word baie negatief geraak deur die wysigingswetsontwerp. Dit is net private skole wat grotendeels beheer behou oor hul doen en late. Dit is dus ʼn langtermynoplossing waaraan ons nou reeds moet werk. Dit gaan die grootste gemeenskapsprojek in ons geskiedenis wees,” het Buys gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Disselboom ·

Net meer as ‘n jaar gelede was daar ‘n artikel op Maroela Media oor die onttrekking van Afrikaners uit die openbare skole na privaatskole toe: Russiese winter-strategie vir Afrikaanse onderwys? Dis interessant hoe akkuraat die probleem wat nou op hande is, reeds daarin bespreek word; en intussen het nog ‘n jaar verbygegaan.

Leahim ·

Wie is die “0ns mense” waarvan hy praat en hoekom bou hulle nie nuwe skole nie hoekom die bestaandes wat nog funksioneer ook vernietig .Solidariteit moet nie tyd mors om met hom te argumenteer nie as 100000 mense elk R1000.00 skenk kan hulle n nuwe afrikaanse skool bou waaroor lesufi nie n woord kan sê nie daar is geen ander manier nie.

Martin ·

Hoekom dink ek CVO skole gaan ewe skierlik baie groot word?

Johan Neuteman ·

Wat is die CVO-skole en waar kom dit nou in die prentjie?

Mygeduldookop ·

My geduld is ook op met ons land se onderwyssisteem wat die SWAKSTE in die wereld is! Lesufi, kry eers jou eie staatsskole reg vcoor jy ons wil vertel hoe om ons skole te bestuur. Jy kan nie bou nie, jy kan net van ons wegvat en ons gaan dit nie meer toelaat nie.

Martin ·

CVO Skole is alreeds groot in die land. Privaat skole. Christelike Volkseie Onderwys.
Baie höe standaard. Privaat skole.

Rina Kotze ·

Baie mooi idee, maar is dit beskostigbaar?

Ons skool het nou die skoolfooie vir volgende jaar bekend gemaak.
R600 per maand, per kind.

Is daar so ‘n skool in die Weskus?

Leonard van der Dussen ·

Die angel lê nie in die eerste plek in die huidige konsepwetgewing nie, maar in die konstitusionele hofuitspraak van 20 Mei 2016, waar die beginselsiening oor gemeenskappe, meerderhede, algemene belang wat plaaslike belang oorheers in die uitspraak vasgelê is, asook dat die Bybel sommer so tussen allerlei wêreldse uitsprake oor onderwys aangehaal is en God se eer geskaad is, maar dat dit deel is van die rigtingwyser dat sg diversiteitsbelange nou oorheersend word, en nie die minderheidsbelange nie. Die huidige konsep is slim opgestel deur dit staan te maak op van die hofuitsprake van die afgelope jare soos Ermelo en Rivonia. Selfs al word die huidige konsepwetgewing weer afgewater, is dit maar soos om ‘n troosdrie te druk as die ander span reeds verby 50 punte is. Die rigting is vasgestel en reeds in regspraak vasgelê. Dit was daar om te sien, maar die tydige waarskuwings is nie gehoor nie. Laat die mistastings en verlore geleenthede daar en kom ons raak nou haastig met privaatonderwys. Daar is reeds meer beskikbaar waarvan almal bewus is – dit moet net vorentoe gevat word.

Eish ·

Lanklaas van jou gehoor. Ek dink jul gaan n toeloop beleef wat al die goedjies wat kort in plek gaan laat val. Sterkte.

Marlize ·

Dank Vader my kind al 4 jaar by Impak. Tuis onderrig al plan wat oorbly.

Ben Niemand ·

Marlize, ongelukkig wil hierdie wetsontwerp Tuisonderrig ook die nek inslaan…

PJC ·

Privaat of CVO solank die skoolgeld bekostigbaar is want dit is een van die groot probleme van privaat skole. Sover ek kon vasstel is CVO skole meer bekostigbaar want die winsmotief is nie waaroor dit gaan by hulle soos by privaatskole nie.

Pieter ·

As jy die mense in die land kan ongeskoold kry kan jy hulle aan hulle neuse rondlei en manupileer.
Dan sit jy met ñ land soos Zimbabwe. Maar dit is mos wat die land wil he.

Hein ·

Helaas sal Lesufi dit laat nasionaliseer, omdat enigiets wat witmense vir hulleself doen, as “rassisme” beskou word.

Ruby ·

Lesufi, ek dink jy verstaan gehalte onderwys verkeerd.

Sien, niks word van niemand af weg gehou nie, wat dit wel verg is dissipline, harde werk en respek.

Die skole stel onderwysers aan wat die kinders WIL leer en nie die wat meer afwesig wil wees as werk en die kinders wys hoe nou eintlik getoi toi moet word.

Gehalte onderwys beteken ‘n gehalte onderwyser wat ‘n gehalte student was en voorheen ‘n gehalte skolier met ‘n gehalte opvoeding wie se sitvlak ‘n gehalte pak slae soms verdien het.

Net dit, niks minder en niks meer.

Disselboom ·

‘n Internetsoektog lewer bemoedigende resultate. Na bietjie gesukkel kon ‘n lys van skole neergeskryf word soos Euphorbia, Sandton Akademie, Laerskool Raslouw, Eduplus, Regio, Hoërskool Raslouw, Centurion Christelike Laerskool, Gereformeerde Skool Dirk Postma, Gereformeerde Laerskool Bellvile, skole van “ICO” en die meer as dertig skole wat van “BCVO” op hulle webblad. Daar is al heelwat onafhanklike skole in die Christelik-Afrikaanse arena waarop voortgebou kan word om uit die openbare skole en die regering se greep te kom.

JC ·

Wonderlik!
Dankie vir die moeite disselboom, dit word opreg waardeer :)
Slim vang sy baas, of hoe se ons, hehe!

Heinrich ·

Ai ou Lesufi, as ek die ding nou reg lees dan moet ons jou geduld nie toets wanneer jy werkende skole wil afbreek om soos die massas s’n getransformeer te wees nie. Jy dink ongelukkig nie verder as wat jou neus lank is nie; ons glo eerder in ‘liberation via education’ as die cANCer se manier van doen. Breek ons openbare skole en sien hoe kom ons op met ‘n troefkaart of twee!

Hendrik ·

Wel soos ek die ouers ken by my seun se skool gaan hulle beslis vasstaan en so glo ek ook by die ander skole.

Martin ·

Ons verstaan dit. Al wat hy hoef te doen is om die onderwysers te verplaas, en hy gaan.

Tiaan ·

Lesufi, moet jy eerder nie die geduld van 100 000 mense toets nie!

Disselboom ·

Tiaan, daar was Kurrikulum 2005, UGO, nou CAPS, die een Afrikaanse skool na die ander in die groter prentjie is ver-Engels… wat is nou skielik anders dat daar regtig weerstand gebied gaan word. Soos die klomp Dopper-papperds wat destyds tot in die sinode gedreig het hoe onder geen omstandighede die “PU vir CHO” se naam prysgegee sal word nie; en toe word dit NWU,… en niks gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.