Lethbridge-moord: Verdagtes is neefs

Duncan Lethbridge (Foto: Instagram)

Die tweede verdagte in die moord op Duncan Lethbridge van St. Francisbaai in die Oos-Kaap het vanoggend in die Humansdorp-landdroshof verskyn.

Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het gesê Lukhanyo Faku (25) het vir die eerste keer in die hof verskyn waar die saak tot 26 September uitgestel is.

Lukhanyo sal dán saam met sy medebeskuldigde, Bongani Faku (35), in die hof verskyn op aanklagte van moord en huisroof. Die twee verdagtes is neefs, het Swart vanmiddag aan Maroela Media bevestig.

Lukhanyo is die afgelope naweek in Port Elizabeth in hegtenis geneem. Bongani is reeds verlede maand, dae ná die aanval op die Lethbridge-huishouding, in Humansdorp aangekeer.

Maroela Media het vroeër berig Lethbridge is dood nadat hy, sy vrou en die egpaar se huiswerker in hul huis oorval, vasgebind en aangerand is.

Die 53-jarige huiswerker was die betrokke dag buite die egpaar se huis doenig toe sy deur twee gewapende mans oorval is. Die mans het haar by die huis ingedwing waarna sy en die egpaar vasgebind is.

Die egpaar is aangerand voordat die aanvallers te voet met kontant en ander waardevolle items gevlug het.

Die huiswerker kon haar sowat twee uur later loswikkel en het by die bure gaan hulp soek. Hulle het die polisie en nooddienste na die huis ontbied.

Nooddienswerkers het Lethbridge in die sitkamer aangetref, waar hy met sy gesig na onder gelê het. Sy hande was vasgebind en sy mond toegeplak. Hy is op die toneel dood verklaar.

ʼn Nadoodse ondersoek het later bevestig Lethbridge het versmoor.

Die ondersoek duur voort, het Swart gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michelle ·

Hoe is die huiswerker nou net vasgebind en het niks oorgekom nie daar is meer sulke gevalle ken die huiswerker die twee neefs vra maar net want dit klink amper so of was die neefs maar net goedgesind. Ek vra net vir geregtigheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.