Lewende haaie in houer by lughawe gekry

Die Kaapstadse Lughawe. Foto: www.bestcities.net

Daar is beslag gelê op vier lewende haaie, ʼn lewende ietermago, 700 kg perlemoen asook ivoor en renosterhorings in Suid-Afrika tydens ʼn maand lange wêreldwye poging om stropery hok te slaan.

Albi Modise, woordvoerder van die departement van omgewingsake, het Woensdag gesê 13 verdagtes is ook in Suid-Afrika in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met die onwettige handel van wild.

Modise het gesê die sukses spruit uit ʼn veldtog van Interpol se Wildlife Crime Working Group wat in Mei wêreldwyd gehou is onder die vaandel van Operation Thunderstorm. Die veldtog se doel is om teen die wêreldwye onwettige handel van wild en hout op te tree en sindikate wat oor landsgrense handel dryf, op te spoor.

“Volgens Interpol is altesaam 1 974 beslagleggings wêreldwyd in 92 lande gedoen en 1 400 mense is in hegtenis geneem. Van die beslagleggings sluit in 43 ton wildsvleis (beer, olifant, krokodil, walvis en sebra), 1,3 ton onverwerkte ivoor, 27 000 reptiele (krokodille, skilpaaie en slange) en byna 4 000 voëls (pelikane, volstruise, papegaaie en uile). Daar is ook beslag gelê op 48 lewende ape, 14 groot katte (tiere, leeus, luiperds en jaguars) en tonne hout,” het Modise gesê.

In Suid-Afrika het die Valke, beamptes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), die Groen Skerpioene, SANParke en die departement van landbou, bosbou en visserye kragte saamgesnoer om die veldtog te ondersteun.

“Een van die suksesse wat die rolspelers in Suid-Afrika behaal het, was toe vier lewende bedreigde sandhaaie in ʼn houer by die Kaapstad-lughawe gevind is. Die houer was vir Nederland bestem en die haaie was van Port Alfred afkomstig. Die vonds is ʼn aanduiding dat die probleem van haaismokkelary groter is as wat aanvanklik gedink is aangesien die vraag na lewende haaie vir akwariums wêreldwyd toeneem.”

Twee van die 13 verdagtes is in Gauteng in hegtenis geneem vir die handel van renosterhoring. Nog twee is by die Ramatlabama-grenspos tussen Suid-Afrika en Botswana in hegtenis geneem vir die besit van ivoor. Ses is in Pretoria in hegtenis geneem vir die besit van ʼn ietermago. Drie mans is in Walkerville in hegtenis geneem vir die besit van 700 kg perlemoen met ʼn waarde van R3,5 miljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

When the Last Tree Is Cut Down,
the Last Fish Eaten, and the Last Stream Poisoned,
You Will Realize That You Cannot Eat Money

Koos de Meyer. ·

Geld gierigheid het ‘n siekte geword. Hoe meer die Satan het, hoe meer wil hy hê.

Anita ·

Dankie vir die berig……wil iemand asb. die berig deurstuur na “De Telegraaf” , “De Volkskrant” in Nederland, die berig sal wel groot belangstelling opwek by die algemene publiek.

HPV ·

Vir wat dit werd is. Anita en ander belangstellendes, “Google” die koerant, enige koerant of besigheid, sodoende vind jy hul e-pos adres, vertaal die nuus en jy kan dit self stuur deur die druk van ‘n paar sleutels. Soms plaas die koerante dit nogal en besighede neem kennis deur ontvangs te bevestig. Jy kan baie van die koerante ook aanlyn lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.