Lewenslange tronkstraf ná moord op boer

selle

(Argieffoto: Unsplash)

Twee mans wat in 2019 saam met ʼn derde makker saamgesweer het om Shaun Krull (48) op sy Oos-Kaapse plaas te vermoor, is lewenslange tronkstraf in die hooggeregshof in Gqeberha (Port Elizabeth) opgelê.

Luidens hofstukke het Vizicelo Wokisi (27), Xhanti Ndingane (30) en Zolani Losi (26) beplan om Krull op sy plaas, waar Losi ʼn voormalige werker was, te beroof en te vermoor. Hulle is na die plaas, maar Krull was nie tuis nie en het die volgende aand teruggekeer en hom ingewag.

Die drie het Krull, op pad na sy beeste in die veld, gesien en gewapen met messe op hom toegeslaan.

“Hulle het hom gesteek, sy beursie, selfoon, flits en ʼn Toyota Hilux-bakkie gevat voor hulle hom vir dood agtergelaat het,” lui die hofstukke.

Die drie het met die bakkie na Krull, ʼn beesboer, se huis gery waar hulle sy kluis oopgesluit en geld, ʼn vuurwapen en ammunisie gebuit het. Hulle het daarna ook vleis uit die yskas gehaal.

Krull se bakkie is later verlate naby die Qibira-nedersetting in die Middledrift-omgewing, waar die drie gewoon het, gevind.

Plaaswerkers het eers die volgende oggend omstreeks 08:00 op Krull se liggaam naby ʼn voerkraal afgekom. Luidens die hofstukke is Krull drie keer in die bors gesteek. Een van die steekwonde het sy dood veroorsaak.

Die drie aanvallers is kort ná die moord op Krull aangekeer. Ndingane het vroeër skuld op die moord beken en is reeds gevonnis.

Die hooggeregshof het Wokisi en Losi nou lewenslange tronkstraf vir die moord op Krull opgelê, asook 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede, sewe jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en vyf jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê Wokisi en Losi se aansoeke om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding en vonnis, is van die hand gewys.

Die NVG het die vonnis verwelkom en die ondersoekbeampte in die saak, asook die aanklaer, adv. Sakhumzi Mtsila, vir hul uitstekende werk geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

AW ·

Daar is Nié, so n dings soos “Lewens Lank” Nié!!!

Met tyd sal daar Parool wees !!

Anel ·

Nogal jammer lewenslank beteken nie lewenslank in hierdie land nie. Eintlik net vir sekeres.

Perdeby ·

2 is gevonnis en die 3de een wat deel was? Lewenslank is 25 jaar en kom na 10 jaar uit en gaan net voort met hulle misdaad. Hierdie vonnis beteken eintlik niks. Hulle moes dit 50 jaar gemaak het.

Di ·

Nee wat sit moet hulle maar sit. Hoop hulle het nie ‘n lekker lewe in daardie tronk nie

Shakespeare ·

Lewenslank in Afrika beteken op die meeste 5 jaar in die tronk………maar ongelukkig vir jou is jy wit skuim.

Astrain ·

Sonder kans vir parool sou baie help…anders moor hulle weer oor ‘n paar jaar? Maar dankie aan die regter vir ‘n voorbeeld van ‘n goeie beslissing!

Delia ·

Kan iemand met Kennis oor die regstelsel vir my asb verduidelik hoekom die vonnisse gelyklopend uitgedien word. Is dit die regter se keuse of is dit die wet. As 2 mense apart die 2

Misdade sou pleeg, sou elkeen die vonnis moes uitdien.
Maar sodra een mens dit doen….
Vonnis gelyklopend
Want lewenslank is nie regtig lewenslank, vandaar Dat ek dit nie verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.