Lewenslange tronkstraf verwag vir Courtney Pieters se moordenaar

Mortimer Saunders (Foto: Armand Hough/African News Agency/ANA)

Die vonnisverrigtinge van die man, wat skuldig bevind is op aanklag dat hy die driejarige Courtney Pieters vermoor het, duur voort in die Kaapstadse hooggeregshof.

Jeremy Kessie van die departement van maatskaplike ontwikkeling het Dinsdag aan die hof gesê hy is bewus daarvan dat die veroordeelde moordenaar Mortimer Saunders waarskynlik twee lewenslange vonnisse in die gesig staar in verband met Pieters se moord en verkragting in Mei 2017.

Kessie is een van die staatsgetuies wat ʼn vonnisverslag aan die hof voorgehou het.

Op ʼn vraag van staatsaanklaer Esmeralda Cecil of hy bewus is daarvan dat die minimumtronkstraf vir verkragting en moord op kinders jonger as 16 twee afsonderlike lewenslange vonnisse behels, het Kessie dit beaam.

Saunders is in November skuldig bevind op aanklag van verkragting en moord met voorbedagte rade. Hy is in hegtenis geneem kort ná Pieters se ontbinde liggaam in Epping Industria gevind is, nege dae nadat sy as vermis aangemeld is.

Kessie het in sy verslag gesê hy is besorg oor Saunders se risiko vir die publiek. “Hy hou ʼn hoë risiko in vir die publiek, veral wat betref swak en kwesbare persone. Spesifiek kinders. Die risiko is baie hoog.”

Cecil wou ook weet of Kessie meen die moord was vooraf beplan en of die beskuldigde enige berou getoon het of aanspreeklikheid aanvaar. Kessie het gesê Saunders aanvaar nie volle aanspreeklikheid vir sy optrede nie.

“Ons kyk na die feit dat hy ʼn kind gif ingegee het, wat beteken daar is ʼn groot kans dat die kind kan sterf,” het Kessie bygevoeg. Volgens hom het Saunders ook ʼn kans gehad om Pieters te help toe hy gesien het sy het hulp nodig, aangesien hy vroeër beweer het hy wou haar nie vermoor nie, hy wou haar net siek maak. “Hy het ʼn kans gehad om die kind te help, maar hy het haar verwurg. Dit hou ook ʼn element van beplanning in.”

Morné Calitz, Legal Aid-verteenwoordiger vir Saunders, het gesê sy kliënt aanvaar wel volle verantwoordelikheid en het ʼn brief, waarin Saunders die Pieters-gesin en die inwoners van Elsiesrivier om verskoning vra en hul vergifnis vra, aan die hof voorgehou. “Hy het in die brief beken dat hy verantwoordelik is vir die kind se dood. Hy beken dat hy die familie skade berokken het en aanvaar volle aanspreeklikheid. Hy aanvaar verantwoordelikheid as iemand wat nog gerehabiliteer kan word,” het Calitz gesê.

Calitz het ook daarop gewys dit is die beskuldigde se eerste oortreding en hy was nie betrokke by enige kriminele aktiwiteit tot op ouderdom 41 nie en hy is al sedert Mei 2017 in aanhouding. Hy het gesê die hof kan ʼn lang tronkstraf oplê, maar dat dit nie lewenslange tronkstraf moet wees nie. Hy benadruk dat sy kliënt die kans moet hê om homself te rehabiliteer.

Staatsaanklaer Cecil voer aan die verswarende faktore weeg swaarder as die versagtende faktore in die saak.

Die saak is tot 11 Desember uitgestel vir vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Melt Olckers ·

Ek kan glad nie sien dat die hof enige iets minder as lewenslank kan gee nie. Al kan hy gerehabiliteer word is die aard van die misdaad te erg. In hierdie geval moet die straf ‘n boodskap uitstuur dat so ‘n misdaad uiters swaar gestraf sal word. Hier moet die straf dien as afskrikmiddel vir ander wat beoog om dieselfde dade te pleeg.
Die vereiste van die publiek is ook dat so ‘n daad uiters swaar gestraf word. Die doel van ‘n swaar straf is ook om aan die publiek te toon dat die Hof sulke dade sien in dieselfde lig van afwysend as die publiek.

MS ·

Hy sal tien teen een 2 lewenslange vonnisse ontvang, maar hul sal waarskynlik gelyklopend uitgedien word wat beteken dis net 1 lewenslange vonnis. En as hy homself gedra daar binne sal hy binne 15 jaar in elk geval ‘n “free man” wees.

MS ·

Hy sal tien teen een 2 lewenslange vonnisse ontvang, maar hul sal waarskynlik gelyklopend uitgedien word wat beteken dis net 1 lewenslange vonnis. En as hy homself gedra daar binne sal hy binne 15 jaar in elk geval ‘n “free man” wees.

Is daar werklik geen studie wat die kanse op rehabilitasie van seksuele oortreders en kinder-moordenaars opneem nie? Die hof moet mos teen nou al kan weet wat die kanse is en so ‘n ingeligde besluit op vonnisse kan lewer?

DIt is asof ons land teveel bekommerd is oor die regte van oortreeders eerder as die regte van slagoffers.

Melt Olckers ·

Studies het wel gewys dat meeste mollesteerders na gevangenis straf goed aanpas en nie weer oortree nie. Verskeie programme is baie suksesvol in rehabilitasie.
Saunders se geval is anders. Hy pas nie in die daardie kategorie nie omdat hy geweldadig was en dat dit uitgeloop het op moord. Ek glo nie dat hy die tipe persoon is wat ooit vrygelaat kan word nie. Hy is predatories, en predatoriese mollesteerders en verkragters is glad nie rehabiliteerbaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.