Lewenslange tronkstraf vir toordokter wat verkrag

Argieffoto van 'n sangoma

Argieffoto van ‘n sangoma

ʼn Sangoma van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal is Dinsdag lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting van twee tienermeisies.

“Sphamandla Mncwabe het ʼn 14-jarige meisie in Desember 2011 verkrag,” het Nathi Mncube, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), in ʼn verklaring gesê. “Haar ma het haar na Mncwabe, ʼn bekende sangoma in die gebied, geneem. Hy het aangevoer die meisie moet by hom bly sodat sy gesond kan word, en die vrou het haar dogter by die man gelos.”

Mncube het gesê die toordokter het haar, onder voorwendsel dat hy besig is om haar te genees, seksueel aangerand. Hy het haar ook alkohol laat drink en gesê dit is deel van die “genesingsproses”. Die tiener is aangerand wanneer sy geweier het om saam met hom te slaap.

Mncwabe het in Mei 2012 nog ʼn 14-jarige meisie verkrag. Daar was glo niks fout met haar nie, maar hy het haar ma oorreed dat sy ook “tradisionele genesing” benodig. Die vrou het hom geglo omdat hy ʼn sangoma is, en haar dogter in sy sorg gelaat.

Volgens Mncube is die meisies soms selfs voor mekaar verkrag.

Al twee meisies het tydens hul getuienis bevestig dat Mncwabe altyd by was wanneer hul ouers kom kuier het. Hulle kon hom nie aangee nie, want hulle was bang hul ouers sal hulle nie glo nie.

Die meisies het op 26 Mei 2012 weggehardloop nadat hulle herhaaldelik voor mekaar verkrag is. Hulle het gewag totdat die toordokter slaap. Hulle het in ʼn woud geslaap en gewag tot sonop voordat hulle na ʼn polisiestasie toe gegaan het.

Die streekshof in Pietermaritzburg het Mncwabe tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.