‘Lewenslank’ ná Stilbaai-plaasmoord

Die laaste foto wat van Heila Kilian geneem is. Dié foto is die oggend van 16 April geneem, ure voordat sy vermoor is. (Foto: Verskaf)

Vier jaar nadat Heila Kilian tydens ’n aanval op haar familie se plaas buite Stilbaai in die Wes-Kaap doodgeskiet is, is haar moordenaars lewenslank tronk toe gestuur.

Sakhumzi Benya, Nkosiyethu Nocuza, Msomi Nikani en Monwabisi Maki is elkeen Vrydag ’n lewenslange vonnis in die rondgaande hooggeregshof in George opgelê vir hul aandeel in die destydse moord op Kilian.

Kilian, onder haar familie en vriende beter bekend as Lovey, is in April 2018 op die familie se plaas buite Stilbaai doodgeskiet toe vyf gewapende aanvallers toegeslaan en na willekeur losgebrand het.

Kilian, wat saam met haar man in Springs aan die Oos-Rand gewoon het, het die betrokke aand by haar suster, Brenda, en Brenda se man, David, op die plaas gekuier.

Die familielede het saam met nog ’n vriend, Sean, rustig buite die plaashuis om die braaivleisvuur gekuier toe ’n skoot skielik uit die donker klap.

Maroela Media het destyds berig dié skoot het Kilian getref. Vyf gewapende aanvallers het binne oomblikke uit die donker verskyn en die groep oorval. Die groep is daarna erg aangerand voordat die aanvallers later met twee vuurwapens, kontant en ’n wit Toyota Hilux-bakkie op die vlug geslaan het.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die vier beskuldigdes is elkeen ’n lewenslange vonnis opgelê vir die moord op Kilian, asook ’n verdere 15 jaar vir elke aanklag van roof met verswarende omstandighede, ses jaar tronkstraf vir die onwettige besit van vuurwapens en ’n verdere drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie.

Die mans is in Desember skuldig bevind aan dié aanklagte, maar vrygespreek op die aanklag van opsetlike saakbeskadiging. Hul medebeskuldigde Xolisa Myoyi is vroeër op al die aanklagte vrygespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.