Lewenslank (plus 150 jaar) vir reeksverkragter

(Argieffoto)

Die hooggeregshof in Mthatha het ʼn reeksverkragter lewenslank tronk toe gestuur en toe nog 150 jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuld erken het op ses aanklagte van verkragting, een aanklag van seksuele aanranding en vier aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Regter Buyiswa Majiki het Thando Madikiza (34) lewenslank tronk toe gestuur vir die verkragting van ʼn 14-jarige meisie en 15 jaar tronkstraf op elk van die ander aanklagte, het Luxoli Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, gesê.

Die hof het beveel dat die lewenslange vonnis gelyklopend met die res van die vonnis – wat altesaam 150 jaar beloop – uitgedien word.

Madikiza was tussen Mei 2010 en Junie 2016 verantwoordelik vir ʼn vlaag misdaad. Hy het meisies en vroue tussen die ouderdom van 14 en 23 geteiken.

“Hy het slagoffers in die veiligheid van hul huise aangeval en het elke keer dieselfde modus operandi gevolg. Hy sou voorgee dat hy op soek is na iemand wat in die huis woon of dat hy die slagoffer se ouers ken.

“Sodra hy eers in die huis was, sou hy hulle met ʼn vuurwapen of mes dreig, hulle aanrand en verkrag. Dit het soms selfs in die teenwoordigheid van jong kinders gebeur,” het Tyali gesê.

Die slagoffers is dan van items soos selfone, tablette, skootrekenaars, kontant en klere beroof. Nie een van sy slagoffers het die verkragter geken nie.

Tyali het gesê Madikiza is in Junie 2017 in hegtenis geneem nadat hy ook sy voormalige vriendin verkrag en ʼn ander slagoffer beroof het. Hy is tot 32 jaar tronkstraf hiervoor gevonnis. Terwyl hy in aanhouding vir dié misdade was, is ʼn DNS-profiel gedoen waardeur hy gekoppel is aan die vroeëre verkragtingsake.

Staatsadvokaat Luvuyo Pomolo het aan die hof gesê Madikiza se besluit om skuldig te pleit was nie ʼn aanduiding van berou nie, maar spyt dat hy gevang is. Pomolo het aangevoer oorweldigende bewyse het Madikiza in die gesig gestaar en dat hy geen ander opsie gehad het nie.

Die hof het saamgestem en gesê die misdade was gruwelik en dat Madikiza geen ontsag gehad het vir die individue se vryheid en reg op beskerming in hul eie huise nie.

Die NVG het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Grappie

Wat help enige ander vonnis wat saam met ‘n lewenslange vonnis uitgedien moet word. Absoluut niks, mens het net een lewe. 25 Jaar in die tronk en dan kan hy nog afslag kry ook en vroeer uitkom. Howe moet nie vonnisse samelopend maak nie, Hy moet die 150 jaar sit en vrot in die tronk

Me

Verkragter kry150 jare baie goed maar twee moordenaars net 6 jaar hoe nou

Geforseerde Weldoener

Mooi man, nou kan hy vir lewenslank (plus 150 jaar) die belastingbetalers R 390-00 per dag kos. As hy die rype ouderdom van 70 haal in die tjoekie, dan het hy die belastingbetalers R 5,124,600 gekos (geen inflasie ingereken nie).

toy

Hy gaan sit en vrot in die tronk. Hy gaan letterlik en figuurlik lank sit.

Anel

Dit is sooooo jammer dat daar nie nog iewers ‘n onbewoonde eiland is nie. Dan kan die spul misdadigers daar afgelasi word. Hulle moet dan maar vir hulle self sorg. As hulle nie plant en so aan dan moet hulle maar omkom. Dit moet net so wees dat daar nie ‘n manier is om by land uit tekom nie. Hoekom moet ons as belastingbetalers of slagoffers vir hulle sorg?