Lewenslank vir ‘beroepsmisdadiger’ ná moord op kleinhoewe

Dolphy Sambok en Karabo Ephraim Semake tydens gister se hofverrigtinge. (Foto: Christel Cornelissen)

“Daar is geen twyfel in my gemoed nie dat wetsgehoorsame burgers in Suid-Afrika genoeg gehad het daarvan om die slagoffers van misdaad te wees. Daar is ʼn pleidooi dat reg en orde herstel moet word.”

Só het regter Hennie de Vos Woensdag gesê voordat hy Dolphy Sambok (47) en Karabo Ephraim Semake (27) in die hooggeregshof in Pretoria lewenslange tronkstraf opgelê het vir die moord op Riekie Steenberg (50).

Steenberg is in Junie 2016 in die Kameeldrift-omgewing, in die ooste van Pretoria, tydens ʼn rooftog in die vroeë oggendure doodgeskiet. Haar man, Jurie, is ernstig gewond en aangerand.

Die regter het Sambok en Semake ook gevonnis tot 15 jaar tronkstraf vir gewapende roof, agt jaar tronkstraf vir huisbraak met die doel om te roof, asook 15 jaar vir poging tot moord. Sambok is gevonnis tot 25 jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Semake is op dié aanklag tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Sambok is ook ʼn bykomende vyf jaar tronkstraf opgelê vir die onwettige besit van ammunisie.

Die vonnisse word samelopend met die moordvonnis uitgedien.

Die regter het bevind dat nóg Sambok nóg Semake in enige stadium enigsins berou getoon het.

“Hoe kan ʼn mens gerehabiliteer word as hy ontken dat hy iets verkeerds gedoen het? Jy kan net gerehabiliteer word as jy ʼn verkeerde daad erken. Dit is nie die geval voor my nie,” het De Vos gesê.

Die regter het gesê geweldsmisdaad in die Kameeldrift-gebied vier hoogty en mense wat op kleinhoewes bly, ly geweldig weens al die misdaad wat daar gepleeg word.

“Ek is seker die meeste mense in dié [landelike] gebiede leef in permanente vrees vir hulle lewe en dié van hulle geliefdes. In die proses word groot bedrae geld aan veiligheid bestee, maar oënskynlik sonder welslae.

“Dié soort oortredings moet gestraf word met die volle mag van die howe, sodat mense die les kan leer dat menselewens en eiendom uitgelos en beskerm moet word,” het die regter gesê.

De Vos het gesê selfs nadat die skote geklap het wat Riekie Steenberg se lewe geëis en Jurie ernstig gewond het, het die aanvallers voortgegaan met hulle plundertog deur die huis. ʼn Gewonde Jurie is ook aangerand sodat hy sou sê waar die kluis en geld in die huis gehou word.

Volgens die regter is Sambok onrehabiliteerbaar. “Ek neem kennis van sy lang lys vorige veroordelings en ʼn mens kan net die gevolgtrekking maak dat hy ʼn beroepsmisdadiger is wie se rekord duidelik wys dat hy nie gerehabiliteer kan word nie.”

De Vos het ook gesê hoewel Semake jonger was – hy was 25 jaar oud toe die misdryf gepleeg is – is daar geen aanduiding dat hy onvolwasse is nie. “Hy het [die aanval] beplan en aangevoer.”

Die regter het dus bevind daar is geen rede om van die voorgeskrewe minimum vonnisse vir die misdrywe af te wyk nie.

Jurie Steenberg het ná vonnisoplegging gesê hy is verlig dat die hofsaak eindelik afgehandel is. “Ek is veral bly vir Riekie se ouers se onthalwe.”

Vroeër is ʼn verklaring by die hof ingedien waarin Riekie se familie vertel hoe hulle lewe uitmekaar geskeur is ná haar moord. Veral haar ma sukkel steeds om die gebeure te verwerk.

Jurie Steenberg. (Foto: Christel Cornelissen)

“Ek is hartseer. Dit [die vonnis] bring nie haar lewe terug nie. Watse weerstand kon ʼn onskuldige vrou bied? Dis moeilik om te verstaan,” het hy ná afloop van die verrigtinge gesê.

Steenberg het gesê hy beoog om die Kameeldrift-omgewing so gou moontlik te verlaat en sy lewe elders te begin herbou.

Die regter het Sambok en Semake se aansoek om verlof tot appèl teen hulle vonnis van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tsotsi

Wat se die skoonfamilie nou?

Oujongvrou

Kan die regters asb nie die vonnisse gelyk laat loop nie. Nee, laat dit agtermekaar wees. Dan sit hulle so lank dat dit wel lewenslank is.

Anoniem

Baie dankie Regter de Vos. Ons het meer regslui soos jy in die howe nodig. Ek bly ook noodgedwonge op ‘n kleinhoewe en leef elke oomblik van elke dag in vrees. ‘n Mens se lewe word so ingeperk omdat jy nie waag om na donker uit die huis te gaan of huis toe te kom nie want hierdie booswigte skuil oral.

humor

Regter Hennie de Vos, dankie dit is die regte benadering.

Dorothy

Wat is ‘n beroepsmisdadiger? Word hulle gehuur om misdade te pleeg en word hulle opgelei om die dade te pleeg?