Lewenslank vir Cullinan-kleinhoewemoord

Piet van den Berg

Piet van den Berg

Twee mans is Donderdag lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Piet van den Berg op sy kleinhoewe in Cullinan, Gauteng, in Julie 2009, en poging tot moord op sy vrou Madelein.

Regter Vivian Tlhapi het Mduduzi Sbusiso Hlengethwa en Mphanyana Given Kanyane in die Pretoriase hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf plus 20 jaar gevonnis vir die moord op Van den Berg (64).

Hulle is ʼn verdere 41 jaar tronkstraf opgelê wat gelyklopend uitgedien sal word vir poging tot moord op Madelein, en omdat hulle die egpaar se huis aan die brand gesteek het en ʼn aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Wonder Mbongezini Makwakwa, wat ten tyde van die voorval 18 jaar oud was en onder die invloed van die ouer beskuldigdes was, is effektief tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.

Alhoewel hul bekentenisse aan die polisie as bewys teen hulle gebruik is, het Hlengethwa en Kanyane volgehou hulle is onskuldig. Makwakwa het ʼn paar keer van besluit verander nadat hy eers skuld beken, toe sy bekentenis teruggetrek en toe weer skuld beken het op die misdade. Hy het ter versagting van sy vonnis getuig hy is jammer vir dit wat hy gedoen het en wens hy kon mev. van den Berg persoonlik om verskoning vra.

Madelein was nie in die hof nie. Sy en Piet was 40 jaar lank getroud.

Die hof het gehoor Makwakwa het al as 12-jarige begin dagga rook en hy is vroeg uit die huis geskop nadat hy sy stiefpa met ʼn mes aangeval het om sy ma te beskerm. Hy het saam met Kanyane dagga by ʼn plakkerskamp in Johannesburg verkoop om ʼn inkomste te verdien.

Tlhapi het gesê dit is duidelik dat Makwakwa nog baie onvolwasse is en maklik beïnvloedbaar is.

Sy het die drie se misdade egter as “afskuwelik” en “gevoelloos” beskryf. Die sterk jong mans het ʼn bejaarde egpaar aangeval wat alleen op ʼn kleinhoewe gebly het. Hulle het glo drie dae lank die huis dopgehou. Hulle het die egpaar oorval, Piet geskiet en toe sy vrou gedwing om saam met hulle die huis te deursoek vir waardevolle besittings. Hulle het herhaaldelik oor Piet se liggaam moes klim om in die huis rond te beweeg.

Daar is nie ʼn verduideliking waarom hulle Piet doodgeskiet en Madelein in ʼn kas toegesluit het voor hulle die huis aan die brand gesteek het nie.

Kanyane, die leier van die groep, het Madelein gevra of sy enige laaste wense het voordat hy haar in die kas gedruk en gesê het die huis brand.

Madelein het aan die hof verduidelik hoe sy teen die deur gestamp en tot God gebid het en Hom gevra het of dít die manier is hoe sy gaan sterf. Sy is na die voorval met ʼn angsversteuring en post-traumatiese stresversteuring gediagnoseer. Sy ontvang nou, vyf jaar ná die voorval, steeds behandeling.

Die egpaar was in die proses om na ʼn aftreeoord te verhuis toe hulle oorval is.

Tlhapi sê die huis het heeltemal afgebrand en Madelein is vandag ʼn ou en eensame vrou sonder die snuisterye, foto’s en ander klein goedjies wat oor ʼn leeftyd versamel word.

Die beskuldigdes het eintlik baie min waardevolle items gebuit en het slegs vuurwapens, klere, ʼn bietjie kontant en alkohol gesteel. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik Kotze ·

Ek het oom Piet persoonlik geken, een van die beste mense wat ek tot dusver in my lewe ontmoet het. Ek is dankbaar dat tannie Madelein lewe en trots op Tesesa dat sy nie die saak net gelos het nie. Die uitkoms van die saak was ‘n sukses.

Jas van As ·

18 En onder die invloed van die ouer aanvaller?? Asseblief!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.