Lewenslank vir Gerhard Jansen van Vuuren

Gerhard Jansen van Vuuren in die hooggeregshof in Johannesburg (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Gerhard Jansen van Vuuren is Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg tot lewenslange tronkstraf gevonnis op die aanklag dat hy sy gewese meisie, Andrea Venter (25), met voorbedagte rade vermoor het.

Hy het ʼn waarskuwing gekry vir die aanrandingsklag van Thulani Ndlovu, ʼn veiligsbeampte wat die oggend van die moord by die kompleks aan diens was.

Jansen van Vuuren is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Met die aanvang van die vonnisverrigtinge het ʼn gevoel van spanning in die hof geheers. Familielede het in afwagting gesit en wag vir die regter se uitspraak.

Volgens regter Ian Cox kon die verdediging geen dwingende of wesenlike omstandighede bewys om van die minimum vonnis vir moord met voorbedagte rade af te wyk nie. Hy het ook daarop gedui dat Venter se moord die uitkoms van geslagsgebaseerde geweld is.

Gerhard Jansen van Vuuren se regsverteenwoordig, Francois Joubert, konsulteer met hom voor die hofsaak (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“In sake van geslagsgebaseerde geweld is ʼn swaar vonnis gepas,” het Cox gesê.

Andrea is op 2 Mei 2011 by die Sibaya Sands-sekerheidskompleks in Randburg deur Jansen van Vuuren vermoor. Jansen van Vuuren het haar 16 keer met ʼn mes gesteek en daarna haar keel oopgesny. Hy het daarna sy eie keel oopgesny.

Cox het daarop gedui dat Andrea se dood grusaam was en dat die mate van geweld wat Jansen van Vuuren gebruik het om Andrea aan te rand en te vermoor, onaanvaarbaar is. “Die geweld is gepleeg teen ʼn weerlose persoon in die gemeenskap.”

Cox sê Jansen van Vuuren het ook nie werklik berou vir sy dade getoon nie.

Andrea se pa, Dries Venter (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“Hy het oorgenoeg tyd gehad sedert hy in Mei 2013 na Brasilië gevlug het, om berou te toon. Niks het hom gekeer om in daardie tyd met Andrea se familie kontak te maak en om verskoning te vra nie.”

Volgens Cox het Jansen van Vuuren ook gevlug met die doel om sy hofsaak vry te spring.

Cox het ook die verdediging se argument dat die moord op die ingewing van die oomblik gepleeg is, verwerp. “Die skuldige het geweet wat hy gedoen het.”

Cox aanvaar ook nie die verdediging se argument dat Jansen van Vuuren se gebruik van steroïede sy aggressie vererger het, ter versagting van sy vonnis nie.

“Toe hy die oorledene in 2010 aangerand het, het hy nie steroïede gebruik nie. Hy het tóé al aggressiewe gedrag getoon.”

Andrea Venter (Foto: Investigative Psychology Unit, Facebook)

Jansen van Vuuren het voor die hofsaak aan Maroela Media gesê die hele situasie voel vir hom onwerklik. Hy wou ná die vonnisverrigtinge egter nie kommentaar lewer nie.

Dries en Kobus Venter, Andrea se pa en broer, het ná die hofsaak in trane vertel dat hulle dankbaar is dat die hofsaak verby is.

“Nou kan die genesing begin. Elke keer krap hulle die wonde oop,” vertel Dries.

“Ons het gewen vir Andrea se onthalwe. Ek is dankbaar dat die Hemelse Vader my so ver gebring het dat ons afsluiting kan kry.”

Jansen van Vuuren se regspan het aangedui dat hulle teen die skuldigbevinding en vonnis wil appelleer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

KatjieDeKat ·

Ek het n hele paar kreatiewe idees vir “vonnisse” vir daardie kreatuur maar Maroela sou dit nooit plaas nie en ek neem hulle ook nie kwalik daarvoor nie. Ten minste is hy darem nou weg uit die samelewing.

Harley Davidson ·

Al wat hier ongepas is is die term lewenslank, hoekom noem hulle dit so as almal weet dit na ‘n derde van die vonnis kan hy in aanmerking kom vir parool en die arme meisie is vir ewig en altyd weg.

piet ·

Want daar is juis ‘n belangrike onderskeid tussen ‘n lewenslange vonnis en ‘n vonnis vir ‘n spesifieke aantal jare gevangenisstraf. Lewenslange vonnis beteken dat hy eers 25 jaar sal moet sit voor hy in aanmerking kom vir parool. Dis net wanneeer die gevonnisde ‘n spesifieke aantal jare tronkstraf opgele word wanneer die 50% en derde van toepassing is (hang af van die oortreding). Hierdie word in wetgewing vervat so dit word nie uit die duim gesuig nie.

Hennie ·

Piet jy is 100% reg en die persoon kan net vrygelaat word deur die minister van korrektiewe dienste en nie deur die gewone Paroolraad nie.

Trotse Boervrou ·

Die vonnis gaan nie die pragtige Andrea terugbring nie maar dit keer ten minste dat iemand anders se dogter dalk weer in sy kloue beland. My wens is dat hy elke dag die hel ervaar wat Andrea se pa en broer moet ervaar. Hul het hul pragtige dogter en suster verloor aan die hand van hierdie moordenaar. Buiten haar wrede dood moes hul Andrea se ma ook aan die dood afstaan omdat sy haar dood getreur het. Hy is vandag eers lewenslank gevonnis, na al die jare, maar hul is ook lewenslank gevonnis die dag toe Andrea vermoor is. Daardie dag was indirek die doodstraf vir hulle, soos met alle families wat deur dieselfde gaan. Ek kan net vir jul bid. My hart breek vir julle. Sterkte met die toekoms.

Riaan ·

Hy het haar in 2011 vermoor.
Toe weer in 2016 aangerand?

Huh?

Megan Swart ·

Dagsê Riaan
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Dit was nie in 2016 nie, maar eerder in 2010. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan nms Maroela Media

Dienie ·

Hulle wil appelleer? Hoekom? Watse versagtende omstandighede is daar dan in hierdie saak?

Cherokee ·

Hopelik om vir verswaring te vra.
Wàt ‘n manier om brood te verdien!

Prikkie ·

Waarom nie lewenslank sonder die moontlikheid van parool nie?

Hy het mense van hulle dogter en haar moontlike nageslag op die allerwreedste manier ontneem.

Louise ·

Kry vir jou, alhoewel lewenslank in ons land GLAD NIE lank genoeg is vir jou nie. BOET vir jou dade…

Watsenaam ·

Jansen van Vuuren is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit. Ha, Ha, Ha. En waarvoor het hy n vuurwapen in die tronk nodig? Lewens lank plus 100 jaar, en geen opsie vir parool sou dalk gepas gewees het.

Hennie ·

Tyd dat die verdomde gemors sy eie regrekening betaal vir sy appél! Hoop iemand finish hom in die tronk!

Windhond ·

Onbevoeg om vuurwapen te besit? – lewenslange vonnis? mis ek iets?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.