
Landdros Victor Mabunda.
Die hooggeregshof in Pretoria het drie mans wat daarvan beskuldig is dat hulle ʼn landdros van Bronkhorstspruit voor sy huis vermoor het, vandeesweek lewenslange vonnisse opgelê.
Landdros Victor Mabunda is op 10 Januarie verlede jaar in die oprit van sy huis in Bronkhorstspruit doodgeskiet. Hy is op dié dag van sy kantoor by die Cullinan-landdroshof na sy huis gevolg en vermoor.
Mabunda het in dié stadium ʼn saak hanteer waarby een van die verdagtes, Thomo Michael Ngoata (29), ʼn tronkbewaarder, in hegtenis geneem en skuldig bevind is dat hy dwelms aan gevangenes verkoop het.
Mabunda is egter doodgeskiet voordat Ngoata gevonnis kon word, het brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, gesê.
Paulos Fourie (35) en Thato Surprise Maringa (40) is saam met Ngoata binne drie weke ná die moord in hegtenis geneem.
Die hooggeregshof het hulle Donderdag skuldig bevind aan Mabunda se moord en lewenslange tronkstraf opgelê.
Die Gautengse polisiehoof, lt.genl. Elias Mawela, het die ondersoekspan vir hul werk geloof.
“In ons pogings om ernstige en geweldsmisdaad hok te slaan, waardeer ons ʼn waterdigte saak deur ons speurders wat uiteindelik lei tot lang vonnisse vir oortreders,” het Mawela gesê.
Hy het gesê ondersoekwerk soos dié help ook om die publiek se vertroue in die polisie te herstel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
Diè landdros het sò netjies gelyk in sý toga; hý was seker bàie toegewyd aan sy werk… Jammer bàie van ons unievormdraers is nie sò gesteld op hul drag nie…
Nouja ons hoop dit beteken ook hier tot op die laaste dag van hul lewe, sonder parool.
Hoekom geld mors stel die doodstraf terug en hul mors nie die belastingbetaler se geld nie
Hoop regtig nie hierdie mense is na 10jaar weer op straat nie. Lewenslank is nie eers genoeg nie. Ek hoop hulle vrot in die tronk.
Alle moordenaars moet Lewenslank kry