Lewenslank vir man wat bejaarde elektrisiën vermoor

Petrus Scholtz (Foto: Verskaf)

Wayne Albert Russouw (33) is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op ʼn bejaarde Oos-Kaapse elektrisiën.

Petrus Scholtz (70) is in Junie 2018 na ’n huis in Kabegapark in Port Elizabeth gelok waar hy glo koelbloedig deur drie lede van die Russouw-gesin en ’n medepligtige vermoor is.

Wayne het Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth skuldig gepleit op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede, waarna hy 25 jaar tronkstraf vir die moord en ’n verdere 15 jaar tronkstraf vir die roofklag opgelê is.

Sy vonnis sal gelyklopend uitgedien word.

Ronald Swartz (24), nog ʼn medepligtige, is in Oktober reeds ’n soortgelyke vonnis in die hof opgelê.

Wayne Russouw (Foto: Facebook)

Die saak teen Wayne se ma, Christine Russouw (57), en suster, Chantal Russouw, sal na verwagting in Maart volgende jaar in die hooggeregshof hervat.

Maroela Media het vroeër berig Scholtz is op 17 Julie 2018 na Christine se huis ontbied sodat hy betaal kon word vir die vorige dag se herstelwerk aan ʼn geiser. Hy is nie weer daarna gesien nie.

Dit word beweer Scholtz is na die huis gelok waar die gewelddadige moord plaasgevind het. Dit word ook verder beweer dat hy in ʼn vrieskas gehou is voordat sy liggaam elders gestort is.

ʼn Verbyganger het die oggend van 19 Julie 2018 op Scholtz se liggaam afgekom waar dit in die bosse langs ʼn pad in Fairview gelê het.

Sy hande en voete was met ʼn nylontou vasgebind en sy kop was met kleefplastiek bedek.

Die klag van roof met verswarende omstandighede spruit uit die roof van Scholtz se bakkie. Die voertuig is kort ná die moord reeds teruggevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Persheks Adri ·

Dis so onnodig! Hoop oom kan in vrede rus!

Laat die moordenaars sit ongeag die kleur. Hulle moet uit samelewing verwyder word vir altyd ons sit met genoeg moordenaars wat nog rond loop!

JohanEtz ·

Op foto is ‘n ink merk op die persoon se duim sigbaar – Dat misdadigers stemreg het, is vir my SO verkeerd!!!

Ansie ·

Waarom word tronkstrawwe gelyklopend uitgedien? Wat is die punt?

Maggies ·

Dit sal meer geregtigheid laat geskied indien ‘n straf alle jare bymekaar tel en dan daardie aantal jare toegesluit bly.

JM ·

Moord bied geen oplossing vir diegene wat dit beplan en uitvoer nie. Dat jy iemand kan vermoor om sy besittings te gryp. Watter reg het die moordenaar daarop om sy eie lewe te wil behou? Hoe dwaas! Gierigheid is die wortel van alle kwaad.

Smurf ·

Genade ! Hier is iets gruwelik aan die gang …..siek mense.

Antoinette ·

Watse soort familie doen sulke dinge? En die ou in die motor lyk nogal heel ordentlik. Endit vir iemand anders se voertuig. Ek kry so skaam as ek telkens ook Afrikaanse vanne sien tussen al die misdadigheid.

Pieter Rubeus ·

Is die minimum tronkstraf nie lewenslank nie? So vandag vermoor jy iemand dat sit jy net 25 jaar as hul jou vang. Lekker man, lekker in Suid Afrika waar kriminele meer regte het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.