Lewenslank vir man wat bejaarde vermoor

Shaun Oosthuizen 41) [Foto met vergunning van Laevelder]

Shaun Oosthuizen (38), die man wat skuldig gepleit het op die moord van 85-jarige Hetta Potgieter, is Donderdag in die hooggeregshof in Mbombela, Mpumalanga, effektief tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Volgens Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, is Oosthuizen lewenslange tronkstraf opgelê vir moord, asook 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede. Die twee vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Hy is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Potgieter se liggaam is in Julie 2018 in haar selfsorgeenheid by die Macadamia-versorgingsoord in Mbombela gevind. Haar hande was vasgebind en daar was ʼn voorwerp om haar nek gebind. ʼn Personeellid van die versorgingsoord het haar liggaam in die badkamer aangetref.

Oosthuizen het Woensdag skuldig gepleit op die moord van Potgieter. Hy het Potgieter aangerand, vasgebind en verwurg. Hy het haar verder van ’n bedrag van R10 000 beroof en van die toneel gevlug.

Oosthuizen is saam met John du Plooy (26) en Maryna Mandy Vorster (48) vyf dae ná Potgieter se moord in Krugersdorp in hegtenis geneem. Die klagtes teen Du Plooy en Vorster is intussen teruggetrek weens onvoldoende bewyse teen hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pieter ·

Maar as jy n plaasboer vermoor dan kry jy net tien jaar die land se regstelsel is n grap.

piet ·

Van wanneer af kry moordenaars net 10 jaar? Dis onmoontlik want daar is minimum vonnisse vir moordenaars. Dis onmoontlik om minder as 15 jaar te kry vir moord (dis die “ligste graad” soos wat Oscar gekry het).

Tiptol ·

Of hulle word nie gevang nie. Of hulle kry borg en verdwyn.

Nella ·

Ek lees vanoggend in ons Local koerantjie dat die een man sy vriend met ‘n bierbottel doodgeslaan het en hy het toe 7 jaar gekry en dan van daai 7 jaar is nog n paar jaar opgeskort ook. Nou hoe werk die regstelsel. Nie dat ek vir Shaun opkom nie, maar ek voel net die ander moet dan net so lank kry. Want dit is wat hul verdien.

piet ·

Dit was dan nie moord nie. Seker strafbare manslag. Jy kan nie minder as 15 jaar kry as jy aan moord skuldig bevind word nie. Dis die minimum straf vir moord.

JohanR ·

Hoekom Shaun Hoekom! Sy was 85 jaar oud…… Hoekom Shaun hoekom! Nou is jou lewe ook verby op 38.

Sarel ·

Lewenslank + 15 jr. Word egter gelyklopend uitgedien.
Ek sien ook nie dat nooit oorweeg mag word vir parool
Nie. Hy is een van die dae terug…

piet ·

Lewenslank is lewenslank. Vir lewenslank MOET jy 25 jaar in die tronk sit voor jy in aanmerking kom vir parool. As jy uit is op parool beteken dit nie jou vonnis is verby nie, jy gaan vir die res van jou lewe die paroolvoorwaardes moet nakom. Die ou gaan dus minstens 25 jaar in die tronk sit.

Harley Davidson ·

Dit is wat gebeur as jy nie jou kinders opvoed in christelike waardes en dissipline nie dan het jy nie ‘n gewete nie en doen jy sulke dinge.

Anoniem ·

Hierdie dubbele standaarde van ons land/regstelsel dryf mens teen die mure uit.

Catherina ·

Ons oues is weerloos teen jongmense. Ons is net nie meer sterk genoeg om terug te baklei nie. Lewe in vrees elke dag

Elinette ·

Catherina, ek is waarskynlik net ‘n paar jaar jonger as jy, maar ek leef nie in vrees elke dag nie. Dit is wat jy hier diep in jou hart voel wat jou uitkyk op die lewe bepaal. My Ma was 78 voor kanker haar weggeneem het en sy het steeds alleen gebly, met geen vrees in haar vir enige iemand of iets nie. Bemagtig jouself, wees altyd paraat en LEWE voluit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.