Lewenslank vir man wat huiswerker vermoor

(Argieffoto: SA Polisie)

’n 48-jarige man van Piet Retief in Mpumalanga is Vrydag tydens ’n hooggeregshofsitting in Breyten tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op die gesin se huiswerker in April verlede jaar.

Kaido Bhekikhaya Kunene het Mbali Mdluli, ’n Swazi-burger, destyds van diefstal beskuldig en haar ná ’n argument vermoor. Mdluli het ten tyde van haar moord vir Kunene se familie as ’n huiswerker gewerk. Hy het skuld op haar moord beken.

Monica Nyuswa, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Kunene het die slagoffer op 10 April verlede jaar agtervolg toe sy water by ’n nabygeleë watergat gaan haal het.

Dít nadat hy Mdluli daarvan beskuldig het dat sy R27 000 sowel as ’n onwettige vuurwapen gesteel het. Nadat ’n argument uitgebreek het, het Kunene Mdluli met ’n kapmes aangeval. Sy is verskeie kere in die kop, nek en arms gesteek.

Sy het veelvuldige beserings opgedoen en is later in die hospitaal dood. ’n 12-jarige seun het die voorval gesien en vir sy ouers daarvan gesê. Kunene is gevolglik in hegtenis geneem.

“Hy het in die hof skuldig gepleit en staatsaanklaer adv. Themba Lusenga het aangevoer dat hy die moord met voorbedagte rade gepleeg het.

“Die slagoffer se tannie het ter verswaring van Kunene se vonnis getuig en gesê dat die slagoffer drie jong kinders agterlaat, van wie die jongste twee jaar oud is. Regter Thando Mankge het Kunene tot lewenslange tronkstraf gevonnis en hom onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.”

Nkebe Kanyane, direkteur vir openbare vervolging, sê die vonnis stuur ’n sterk boodskap uit aan diegene wat hulle aan geslagsgebaseerde geweld skuldig maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.