Lewenslank vir man wat kinders ontvoer, verkrag

Argieffoto

ʼn 41-jarige man is in die Germiston-landdroshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklag dat hy minderjariges ontvoer en verkrag het.

Phindi Mjonodwane, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het gesê die man het tereg gestaan op vier aanklagte van verkragting en drie van ontvoering. Hy is skuldig bevind op drie aanklagte van verkragting en twee aanklagte van ontvoering.

“Daar was drie slagoffers tussen vyf en nege jaar oud. Hy het op 11 Januarie twee van die slagoffers van die skool weggelok en een wat in die straat gespeel het,” het Mjonodwane gesê. “Hy het die twee meisies gevat en hulle in ʼn oop stuk veld verkrag. Die ander slagoffer, wat hy in die straat gekry het, het hy na sy huis toe gevat en haar daar verkrag. Hy het dié slagoffer oornag by sy huis gehou.”

Sy het gesê die man is in hegtenis geneem toe die jongste van die drie meisies die man se huis aan die polisie uitgewys het. “Sy het hom ook in ʼn uitkenningsparade geïdentifiseer. ʼn Ooggetuie het die ander twee slagoffers met die man verbind.”

Mjonodwane het gesê die staat beskou die misdade as baie ernstig van aard, omdat die beskuldigde dapper genoeg was om die misdade met minderjariges en helder oordag te pleeg.

Staatsaanklaer Sibongile Nxumalo het aangevoer dit is ʼn gruwelike misdaad wat teenoor onskuldige kinders gepleeg is wat afhanklik is van volwassenes vir hul beskerming.

“U edele, dit is in die belang van geregtigheid en die samelewing om swaarder strawwe op te lê om gewelddadige misdade teen vroue en kinders te bekamp. Ons howe is vol sake van verkragting en moord van kinders en drastiese en beslissende maatreëls moet in dié verband toegepas word,” het Nxumalo gesê.

Die staat het die hof versoek om nie af te wyk van die voorgeskrewe vonnis van lewenslange tronkstraf nie.

“Die NVG is tevrede dat die hof ʼn regverdige vonnis opgelê het wat behoorlik is vir die erns van die misdaad,” het Mjonodwane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Thea ·

Ek stem Mercy!! Name and shame!! Vark verdien die doodstraf!! Arme kinders is deur soveel trauma nou is daar nog allerhande siektes waaraan hulle ook bloot gestel is!

Ai ·

My bloed kook as ek die stories lees.

Los die kinders uit julle vieslike goed!

cor ·

Vra ek ook wie en wat is hy hoekom word sy naam en van nie gese nie, daar word nie in die berig genoem van ‘n gesin wie beskerm moet word deur nie sy identiteit bekend te maak nie, Sou dit dalk gawe gawie wees was sy gesig en naam lankal in die media. Wonder maar net oor die dubbel standaarde van die media.

Theresa ·

Tussen 5 en 9. Skreiende dade!! Wie is dit ??? Lewenslank x 3. Glad nie net 1 lewenslange vonnis nie. Daar word maklik name bekend gemaak selfs van mense wat nog nie gevonnis is nie – gee gerus sy naam deur, asb.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.