Lewenslank vir man wat polisiebeampte vermoor

Mavhuso Morgan Nyadzani (Foto verskaf deur SAPD Limpopo)

Muvhuso Morgan Nyadzani (25), wat ʼn 57-jarige adjudant-offisier vermoor het, is lewenslange tronkstraf opgelê in die hooggeregshofsitting in Thohoyandou.

Maroela Media het vroeër berig ao. Mbulaheni Ronald Mulanduli het op 27 November 2020 by die Mutale-polisiestasie in die aanhoudingselle gewerk waar die beskuldigde op aanklag van verkragting en ontvoering aangehou is. Op pad na die selle het Nyadzani die polisiebeampte oorweldig en ʼn skerp voorwerp gegryp. Hy het Mulanduli verskeie kere gesteek in die skielike aanval.

Nyadzani het die oorlede beampte se sleutels na die selle en kluis gesteel. Hy het ʼn onbekende bedrag kontant uit die kluis gegryp en ongesiens gevlug.

Kollegas het op Mulanduli se liggaam afgekom. ʼn Saak van moord, roof en ontsnapping is ondersoek.

Nyadzani het reeds tereg gestaan op aanklagte van huisbraak, die skending van ʼn beskermingsbevel en ontvoering.

Die sake is oorgeplaas na die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) in Thohoyandou.

Nyadzani is twee dae ná die voorval weer opgespoor en in hegtenis geneem.

“Die ondersoekspan het sy aansoek om borgtog suksesvol teengestaan en die beskuldigde is Vrydag gevonnis,” sê kol. Malesela Ledwaba, woordvoerder van die polisie.

Op aanklag van moord is Nyadzani ʼn lewenslange vonnis opgelê. Hy is ook skuldig bevind en gevonnis op aanklag van roof, verkragting, ontvoering, die oortreding van ʼn beskermingsbevel, ontsnapping en huisbraak.

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, het die vonnisse verwelkom en die lede van die Valke geloof vir hul uitstekende werk. Sy het benadruk dit is belangrik om polisiebeamptes te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.