Lewenslank vir man wat tweejarige mishandel, vermoor

(Argieffoto: pixabay)

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

Die polisie het die lewenslange tronkstraf wat ʼn man van Piet Retief in Mpumalanga vir die moord op ʼn tweejarige seuntjie opgelê is, verwelkom.

Boy Nhleko (29) is Maandag in die rondgaande hooggeregshof op Breyten gevonnis.

Die seuntjie het in Oktober verlede jaar by sy tante en Nhleko gaan woon nadat die kind se ma ver van die huis moes gaan werk en hom in dié paar se sorg gelaat het, het kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, gesê.

Die kind is kort daarna met ʼn gordel, boomtakke en ʼn elektriese kabel aangerand nadat hy glo sy broek vuilgemaak het. Die aanranding het sowat 36 uur lank geduur.

Ná die aanranding het Nhleko water gekook, dit in ʼn wasbak gegooi en die seuntjie daarin gedompel. Hy het ernstige brandwonde opgedoen.

“Pleks daarvan om mediese hulp vir die kind te kry, het Nhleko en sy minnaar die kind skaamteloos gelaat om te sterf, terwyl hulle ʼn tradisionele funksie bygewoon en flieks gekyk het.

“Hulle het hul bose dade daarna probeer versteek deur die seuntjie in ʼn vlak graf te begrawe,” het Mdhluli gesê.

Nhleko en die kind se tante is later na eSwatini (voorheen Swaziland) waar hy by sy broer oor die gebeure gebieg het. Dié het die voorval summier by die polisie aangemeld.

“Nhleko is ʼn week ná die moord, by sy terugkeer na Suid-Afrika, by die Mahamba-grenspos in hegtenis geneem. Hy het tydens die ondersoek ook die plek uitgewys waar hy die kind begrawe het.”

Waarnemende regter Takalani Vincent Ratshibvumo het tydens vonnisoplegging gesê die manier waarop die moord gepleeg is, wys dat Nhleko nie waarde heg aan die heiligheid van lewe nie.

Ratshibvumo het gesê die seuntjie moes geweldig gely het terwyl hy besig was om te sterf.

Die regter het gesê Nhleko was ongeduldig met die kind terwyl hy bloot gedoen het wat Nhleko self as kind gedoen het, behalwe dat niemand hom daaroor vermoor het nie.

Nhleko is lewenslange tronkstraf opgelê. Die regter het ook sy aansoek om verlof tot appèl teen die vonnis van die hand gewys.

Mdhluli het gesê die polisie verwelkom die vonnis wat as afskrikmiddel vir ander kindermoordenaars sal dien. Die goeie samewerking tussen die polisie se ondersoekspan en die nasionale vervolgingsgesag is ook geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

Wie in hulle regte verstand doen so iets aan ‘n kind? Jy moet siek in jou kop wees regtig

Dup ·

Die wreedheid is absoluut skrikwekkend.Martel en moor sonder om ñ oog te knip.

Cecilia ·

Arme kind!
Hoop hy gaan vermink word in d tronk.
Plaasmoordenaars doen wreder goed maar kry borgtog vir R5000. Hulle kry 25jr tronkstaf. En loop na 15jr weer vry rond.
D wet toepassers moet alle moordenaars lewenslank vonnis sonder opsie vir borg.
Al wat d varke gaan afskrik is d doodstraf! Ten minste hoef ons belastingbetalers nie laner vir hulle te sorg nie.

Sarel ·

Lewenslank….. eet nie meer daardie een nie…..effektief hoe lank. Beslis nie Lewenslank nie

Debbie ·

Gee hom lewenslank sonder die opsie van parool. Dit is absoluut waglik dat enige persoon so wreed met ‘n ander mens kan wees. Nog erger dat jy dit aan’ n kind doen. Hy hoop hy boet elke dag vir sy wrede dade. Ek hoop die vrou word net so swaar gestraf. Sy is net so skuldig. Die misdaad is afgryslik. Arme kind.

Maggies ·

In my opinie moet hierdie man en ander soos hy, ontvang wat hy uitgedeel het. Presies nét so en daarna, solank hy lewe toegesluit word. Sonder enige behandeling.
Doodstraf is nie die oplossing in Suid Afrika nie. Dit sal verkeerdelik en selektief toegepas word.

Sarel ·

Lewenslank in SA is ‘n grap. Hoe lank effektief voor hy Parool kry. Want geen Parool behoort deel van sy straf te wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.