Lewenslank vir moord op ontvoerde non

Reita van Vuljk

Reita van Vuljk

Die Mtubatuba hooggeregshof het twee mans van Jozini tot lewenslange tronkstraf plus 35 jaar gevonnis vir die moord op Reita van Vuljk (66).

“Leonard Shoti Gina (47) en Sandile Ngwenya (26) is Donderdag gevonnis,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, gesê. “Die mans is ook 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede, vyf jaar vir ontvoering en 15 jaar vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.”

Van Vuljk het in 2004 uit Nederland na Suid-Afrika gekom om behoeftige kinders en jeug te help. Sy het in 2005 ‘n tehuis en sorgsentrum in Obonjeni in Jozini, oopgemaak om kos en opleiding te verskaf, hoofsaaklik aan Vigs-wesies.

Sy is in Maart 2012 dood aangetref in Ubombo nadat sy ʼn paar dae vantevore uit haar huis in Nkangala, Obonjeni ontvoer is. Die polisie is na haar huis ontbied nadat ʼn lid van die gemeenskap, wat haar twee dae vantevore gesien het, bloedvlekke opgemerk het.

Drie mans, wat haar glo geken het, het haar huis betree en kontant geëis, wat Van Vuljk nie gehad het nie. Hulle het die huis geplunder en glo ‘n grassnyer, hoeksnyer en huishoudelike items gesteel. Uit vrees dat sy hulle aan die polisie kon uitken, het hulle probeer om haar te versmoor. Hulle het toe haar bewustelose liggaam in haar wit Toyota Hilux-bakkie geplaas en met haar weggery. Minder as 10 km van haar huis het die mans haar glo met ‘n hamer oor die kop geslaan en haar liggaam by ‘n krans afgegooi.

Maroela Media het in daardie stadium berig Van Vuljk se Toyota Hilux is opgespoor waar dit naby Hluhluwe omgeslaan het. ʼn 23-jarige man het na bewering die bakkie bestuur toe dit omgeslaan het. Die man het inligting aan die polisie verskaf om haar lyk op te spoor.

Nog twee mans is later in hegtenis geneem.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni het die Richardsbaai georganiseerdemisdaad-eenheid en die polisie in Jozini vereer vir hul samewerking om seker te maak dat die skuldiges ʼn gepaste vonnis ontvang nadat hulle ʼn weerlose vrou vermoor het.

Weziwe Thusi, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in die provinsie, het die moord op Van Vuljk ten sterkste veroordeel. “Sy het saam met die departement gewerk om ʼn kinder- en jeugsentrum op die been te bring en dit is baie hartseer dat sy in dieselfde gemeenskap doodgemaak is waar sy probeer help het,” het Thusi gesê.

Lees ook:
Vermiste vrou se lyk gevind

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

Dis darem baie wreed gewees. Die ‘persone’ mag asb NOOIT paorool kry nie, want hulle sal nooit ge-rehabeliteer kan word nie.

Marietjie ·

Sy is in dieselfde gemeenskap doodgemaak waar sy probeer help het….wat meer is daar te sê?? Daarom help ek nie meer mense nie en eerder diere – hulle verdien dit meer en al wat jy ooit terugkry van hulle is liefde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.