Lewenslank vir nutsman wat ma, dogter vermoor

Argieffoto (Foto: VBlock/Pixabay)

Vier jaar ná die dood van ʼn ma en dogter in Witbank (Emalahleni), Mpumalanga, is ʼn 35-jarige man tot lewenslange tronkstraf vir dié twee se moord gevonnis.

Precious Lucky Ngwenya (35) is verlede week in die hooggeregshof in Middelburg gevonnis tot twee keer lewenslange tronkstraf vir die dubbelmoord asook 15 jaar tronkstraf op aanklag van roof met verswarende omstandighede en drie jaar op aanklag van ontvoering.

Ngwenya is oorspronklik saam met sy vrou, Nompumelelo Ngwenya (30), van die moord op Simangele Shabangu (60) en haar dogter Phyllisant Nozipho (35) aangekla.

Die klagte teen Nompumelelo is egter later teruggetrek omdat sy nie met genoegsame bewyse aan die misdaad verbind kon word nie.

Volgens Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, het Ngwenya as nutsman by Shabangu se huis in Robertsonstraat in Witbank gewerk.

Op 7 Desember 2016 het hy Shabangu gevra of hy sy vrou kan bring om haar huis skoon te maak. Shabangu het besoekers verwag.

“Ngwenya het die dag by Shabangu se huis opgedaag en haar by die motorhuis sien staan. Hy het haar oorval en talle kere met die mes gesteek en daarna verwurg,” bevestig Nyuswa.

“Hy het daarna Shabangu se dogter, Phyllisant, in Shabangu se motor se kattebak gedwing en na ʼn begraafplaas in Kraaifontein gery. Daar het hy haar doodgesteek. Hy het van die toneel met die oorledenes se selfone, bankkaarte en die motor gevlug.”

Phyllisant se liggaam is drie dae later deur munisipale werkers wat die begraafplaas skoongemaak het, gevind. Hulle het die polisie in kennis gestel.

Ngwenya is dae later in Phalaborwa in hegtenis geneem nadat hy met Shabangu se motor in ʼn motorongeluk betrokke was.

Nyuswa sê tydens die verhoor het Ngwenya herhaaldelik van advokate verander, wat volgens die staat ʼn vertragingstaktiek was.

Tydens die verhoor is DNS-bewyse en ook Nompumelelo se getuienis aangebied.

“Onder die bewyse wat in die hof gedien het, is DNS wat op Ngwenya se broek gevind is. Nompumelelo het ook in die hof getuig hoe die gebeure verloop het. Haar getuienis het gestrook met dié van die dokters wat die nadoodse ondersoek op albei slagoffers gedoen het. Hulle het getuig dat die slagoffers gesterf het weens steekwonde aan die bors.”

Shabangu se ander dogter het ter verswaring van vonnis getuig. Sy het haar ma as ʼn sosiale persoon beskryf wat geliefd was in die gemeenskap. Sy het gesê dat Kersfees en Paasfees nie meer dieselfde sedert haar ma se dood is nie.

Adv. Zwelethu Mata het namens die staat aangevoer dat die moord op vroue en kinders in die samelewing té algemeen geword het. Hy het daarop gedui dat vroue veral deur die mense wat aan hulle bekend is vermoor word.

Dit het in die hof aan die lig gekom dat Ngwenya deur Shabangu grootgemaak en finansieel ondersteun is. Hy was soos ʼn kind in haar huis.

Volgens Mata het Ngwenya die hand wat hom gevoed het, gebyt. Daarby het hy nie net Shabangu doodgemaak het nie, maar ook die gemeenskap geknou omdat hulle baat gevind het by die oorledene se nie-winsgewende organisasie wat vir MIV- en vigsopvoeding voorsiening gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pablo

Absoluut Barbarisme. En dit raak al hoe erger terwyl die regering en polisie sit en niks doen nie.

Maritza

Sal seker oor 5 jaar bortog kry

Magda G

Bring die doodstraf terug

Anoniem

Koester die adder aan jou boesem.

No good deed goes unpunished.