Lewenslank vir oudpolisievrou oor reeksmoorde

Nomia Rosemary Ndlovu vroeër in die Johannesburgse hooggeregshof. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

ʼn Voormalige polisiebeampte is ses keer lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op verskeie van haar familielede.

Nomia Rosemary Ndlovu (46) het tereggestaan op ses aanklagte van moord, vier van bedrog, ʼn aanklag van regsverydeling, sameswering om moord te pleeg en poging tot moord, of alternatiewelik agt aanklagte van aanhitsing om moord te pleeg.

Ndlovu was ʼn gerespekteerde sersant in die polisie voor sy van die moorde op onder andere haar suster, twee susterskinders, ʼn niggie en dié se kêrel aangekla is. Die slagoffers is almal tussen 2012 en 2017 dood en is met stomp voorwerpe aangeval, verwurg of geskiet.

Ndlovu is daarvan beskuldig dat sy die lewensversekeringspolisse en begrafnispolisse in die slagoffers se name uitgeneem en die geld ná hul dood geëis het.

Sy het onskuldig op die aanklagte teen haar gepleit. Die hof het haar egter skuldig bevind en lewenslange tronkstraf opgelê vir elk van die moorde op vyf familielede – Witness Madala Homu, Audrey Somisa Ndlovu, Zanele Motha, Mayeni Mashaba en Brilliant Mashego – asook lewenslank vir die moord op Mashego se vriend, Maurice Mabasa.

Die Johannesburgse hooggeregshof het haar voorts 40 jaar tronkstraf opgelê vir vier aanklagte van bedrog met polisse van Clientèle Limited, 1Life, Old Mutual en Assupol Life.

Meer as R1,3 miljoen is uiteindelik aan Ndlovu uitbetaal.

Ndlovu is nog tien jaar tronkstraf opgelê vir die poging tot moord op haar ma en nog 60 jaar vir die aanhitsing van ʼn sluipmoordenaar, Njabulo Kunene, om haar suster Joyce Ndlovu en dié se vyf kinders te vermoor.

Njabulo het die polisie oor Ndlovu se versoek ingelig en ʼn polisiebeampte het hom in ʼn daaropvolgende operasie as ʼn tweede sluipmoordenaar voorgedoen. Die plan was dat Ndlovu haar in die Carstenshof-hospitaal sou laat opneem. Die sluipmoordenaar sou haar dan daar oplaai, waarna hulle na Bosbokrand ry waar sy haar suster en haar huis aan die sogenaamde sluipmoordenaars sou uitwys.

Dié kwansuise plan is op 7 Maart vanjaar uitgevoer.

Op pad na Bosbokrand het Ndlovu stilgehou sodat hulle brandstof kon koop. Sy het gesê sy wil hê haar suster moet in haar slaap aan die brand gesteek word. Dieselfde moes met die kinders gebeur sodat geen getuies oorbly nie.

Kameras is in die voertuig waarin hulle gereis het, geïnstalleer en die opdrag is, onwetend aan Ndlovu, opgeneem.

By Bosbokrand aangekom, het Ndlovu haar suster se huis uitgewys. Sy is daarna na ʼn taxistaanplek geneem van waar sy terug na Johannesburg sou reis. Sy is daar in hegtenis geneem.

Ndlovu het in die hof egter aangevoer die reis na Bosbokrand was om die mans na ʼn tradisionele geneser te neem.

Adv. Riana Williams, namens die staat, het aangevoer dat Ndlovu geen berou getoon het nie en dat daar ook geen vooruitsig is dat sy suksesvol gerehabiliteer kan word nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het die ondersoekbeampte in die saak, Kheshi Mabunda, en  Williams vir hul toewyding om te verseker dat geregtigheid geskied, geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

SjN ·

Gerespekteerde se wat? Moordenaar ja, nou moet ons vir haar sorg lewenslank, hang haar.

Niklaas ·

Gulsigheid en inhaligheid was die hoofmotief. Het sy dalks as SAP sersant gereken sy is ‘n onaantasbare?

Dup ·

Skelm soos die houtjie van die galg en totaal gewetenloos.Sy is ñ ideale 2021 SAPS rekruut.

AW ·

Volgens my Broer, is daar n Verskil tussen SAP en SAPD/SAPS.

My broer sê, SAP was voor 1994/1995 .

Het dit nie geweet nie!

Pim die Skim ·

Ironies ne? SAP was by vêre meer diensbaar as die SAPD/SAPS! Dit moet ‘n kleur ding wees – selfs die OVK deurweek met dieselfde elemente was totaal “clueless”…

Papsak ·

Ek se weer hulle is pateties kom wat wil bewys my verkeerd

Snowball ·

Waarheen sy ookal op pad is, beter die ander kriminele lig loop. Hierdie een is gewetenloos en koelbloedig.

Realis Thailand ·

Ek moet se die is een van die swakste artikels wat ek nog in Mareola gelees het
gewoonlik is die berigte duidelik en verstaanbaar geskryf maar n mesn kan nie kop of stert uitmaak va ndie artikel behalwe dat sy moorde wou laat pleeg
Die berig se nie waar die moorde gepleeg is en die grootste deel gaan oor die reis na Bosbokrand

Chris ·

Waarom word ‘n persoon in SA begenadig met lewenslange tronkskap, na moord? Ons belastingbetalers kan nie meer vir hul ook sorg nie. Bring terug die doodstraf. Daar word ook te lank gewag om hul in hof te kry.

Di ·

“Good riddance to bad rubbish” Voel jammer vir haar selmaats!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.